Groente en kruie by jou agterdeur is ’n bron van ontspanning, kos en bevrediging.

Met ’n hernieude hunkering na vars, tuisgekweekte produkte lê baie mense deesdae ’n kombuistuin in selfs die kleinste akkertjie aan. Die goeie nuus is dat jy regdeur die jaar sonder veel kommer en moeite iets vir die pot kan kweek – ’n lappie grond so groot soos jou agterdeur is genoeg om in die behoeftes van ’n gesin van vier te voorsien.

010612HMS110.pdf

Dié omgewingsvriendelike praktyke sal ’n gesonde oes uit jou kombuistuin verseker:

1. Wisselbou Verdeel die groentesoorte in drie basiese groepe en wissel hul plantplekke gereeld af. So bly jou tuingrond gesond en kan plae en siektes wat op ’n spesifieke gasheer teer, nie ’n probleem word nie. Nog ’n voordeel van wisselbou is dat dit die voedingsvereistes van verskillende gewasse uitbalanseer, wat keer dat die grond uitgeput raak. Onthou net dat die plantplekke van langlewende groentes soos rabarber, aspersies en artisjokke nie afgewissel hoef te word nie.

2. Metgeselplante Baie plantsoorte het ’n goeie invloed op mekaar deurdat dit byvoorbeeld die smaak en geur van bepaalde groentes verbeter, lastige insekte afweer of goeie insekte en bye met hul aromatiese blare lok. Maar daar is ook outjies wat nie langs dieselfde vuur sit nie ...

3. Voeding, water en onkruidbeheer Versorg blaar- en vruggewasse deur hulle gereeld vloeibare kunsmis en genoeg water te gee. ’n Drupbesproeiingstelsel wat grondlangs natlei, help om water tot diep by die wortels te voer en sorg ook dat die vrugte en blare van plante soos boontjieranke wat maklik deur skimmel of swamme aangeval word, droog bly. Verwyder enige ontkiemende onkruid wat met jong groenteplantjies gaan wedywer. ’n Deklaag van organiese materiaal soos kompos, fyn bas en strooi sal ook help dat die grond los, klam en onkruidvry bly.

4. Skadelike insekte Plae en siektes kan beheer word met chemiese middels wat minstens 10 tot 14 dae voordat jy oes, gebruik moet word. Maar kies eerder organiese middels soos Ludwig Taschner en Margaret Roberts se spuitmengsels – dis by kwekerye, supermarkte en ysterwarewinkels te kry – of meng jou eie.

010612HMS111.pdf

Gunsteling-kruie

Mediterreense kos is van die lekkerste en gewildste ter wêreld, en dis grotendeels te danke aan die vars kruie van die streek wat onweerstaanbare geure en aromas aan kos gee.

Basilie is waarskynlik die bekendste Mediterreense kruid. Dis een van die hoofbestanddele van pesto, word op pizza gebruik en by talle ander geregte gevoeg. Probeer om nie basilieblare te was nie, want dan verloor hulle hul geur. Basilie is ’n somerplant wat gereeld water wil hê, terwyl die meerjarige variëteit goed vaar solank dit nie ryp kry nie. Knyp stele af wat tekens van knopvorming begin toon, want as dit eers begin blom, verloor die blare hul intense geur; dit sal ook meer van ’n bos vorm as dit gesnoei word.

Pietersielie, ’n ou gunsteling wat veral bekend is omdat dit die reuk van knoffel uitbalanseer, verkies son tot gedeeltelike skadu, en wil gereeld water hê. Dit maak ook ’n mooi rand in ’n tuin of tuinpot.

Roosmaryn word algemeen gebruik om vleisgeregte te geur, en die mooi blou blomme kan in slaai gebruik word. Die waterwys immergroen struik, wat meer as 1 m hoog word, kan in mooi vorms gesnoei word. Dit vorm ’n netjiese heining in formele kruietuine, maar aard ook goed in ’n houer. Plant dit in ’n beskutte sonkol as jou tuin ryp kry.

Grasuie is ’n wilde uiesoort met geweldig baie nut. Kweek dit maklik op jou kombuisvensterbank of as ’n mooi rand in jou kruietuin. Uie van alle soorte is mildelik in die Middeleeuse kookkuns gebruik; grasuie is gewoonlik by slaai en eiergeregte gevoeg.

Salie, ’n waterwys immergroen struik, het wollerige gryserige blare wat gekap of geskeur en as geurmiddel in wildsvleisgeregte, risotto’s en bredies gebruik word. En saam met botter in die pan gebraai, maak dit ’n klassieke pastasous. Hou die plant mooi deur dit te snoei nadat dit geblom het.

Origanum is heerlik én dekoratief, met pragtige pers blommetjies by die volwasse plante. Die blare word gebruik om pizzas en pastasouse te geur. Oes die blare nadat dit geblom het, want dan is die geur op sy beste.

Lourier is ’n immergroen struik met donkergroen blare. Dit word by pastasouse, vleismarinades, dik en dun soppe gevoeg. Die blare behou hul geur as dit gedroog word. Plant dié waterwys struik in volson, en snoei dit gerus in ’n mooi vorm.

Ment Dié vinniggroeiende meerjarige kruid word gebruik om slaai, vleisgeregte, omelette en souse te geur. Hoewel hulle son of gedeeltelike skadu verkies, groei sekere variëteite, veral peperment, ook goed in skadukolle. Die plante moet dikwels natgelei word. Omdat dit ’n redelik indringende wortelstelsel het, is dit wys om ment in ’n pot te plant. Die Middeleeuse variëteite – tuinment, peperment en polei – was gewild as medisyne: Pepermenttee was die beste middel teen maagkwale en die blare van enigeen van die mente is teen die slape gevryf om hoofpyn te verlig.