Diere het woude nodig vir veiligheid en kos, as toevlug weg van mense en vir beskerming teen die elemente. Bosvoëlspesies maak staat op woudhabitatte vir voedsel en skuiling en om in nes te maak. Maar weens ontbossing raak woude al hoe minder.

Skep ’n stedelike ekostelsel met ’n miniatuur-woud in ’n deel van jou tuin wat skuiling aan voëls sal bied. Dit het ook ander voordele: Vallende blare verryk en verbeter grondgehalte; boomwortels verstewig die grond, hou afloopwater in toom en verminder water- en winderosie.

Koop die sterkste en grootste bome wat jy kan bekostig, want bome neem lank om te vestig. En plant hulle redelik naby mekaar. Bome moenie ’n te digte skaduwee gooi nie en moet dalk liggies gesnoei word om lig deur te laat. Dais cotinifolia, Nuxia floribunda, Searsia pendulina, Vepris lanceolata en bome wat bessies en vrugte dra, lok voëls.