‘Francois Juranville’

Foto’s Kosie Jansen van Rensburg en Francois Oberholster

Toe ek vir Gwen Fagan bel om te gesels, is sy by die werk – op 95 steeds op haar pos in die kantoor van haar man, Gawie Fagan, se argiteksfirma. Hier werk sy al meer as 50 jaar lank. Gwen het in 1949 as mediese dokter gekwalifiseer, maar haar liefde vir landskapwerk en plante het oor jare haar beroep én lewe geword. Sy vertel meer oor haarself en haar reis met rose...

Ek en Gawie is al 70 jaar getroud. Daar is nie ’n einde aan ons liefde vir mekaar nie. – Gwen

Waar het jy grootgeword?

As klein dogtertjie het ek op die plaas Klipvlei in die Moorreesburg-distrik by my oom Gielie-hulle gewoon. My ma het sanglesse in Stellenbosch gegee. Hul plaaswerf was nie net ons speelplek nie, maar my hele lewe. Die kinders op die plaas was my speelmaatjies en hulle het by my ’n liefde vir die aarde ingeboesem.

Saam het ons “klip-klip”, “bok-bok staan styf” en “hasie” gespeel. Dit is saam met hulle dat ek koekemakrankas gesoek het vir maagpyn en geleer het dat ’n mens malvablare moet kou om in jou oor te prop as jy oorpyn het. Op sewejarige ouderdom het ek by my ma in Stellenbosch gaan woon, en toe moes ek tevrede wees om in die gang of op die sypaadjie te speel, want sy het sanglesse in ons kamer gegee. Ek het so na die plaaswerf en my maatjies op Klipvlei verlang.

Een van talle geurige pienk rose in dié tuin.

Vertel ons van jou eerste tuin?

As dogtertjie kon ek heerlik in die meulsloot en die Eersterivier speel, maar ek het dit gemis om met my hande in die grond te wees en goed te sien groei en blom.

My ma het vir ons ’n kamer gehuur in ’n gebou waar daar ’n winkel onder en woonplek bo was. Ek het die eienaar gevra of hy nie asseblief ’n stukkie grond onder my ma se kamervenster vir my sal skoonmaak om ’n tuintjie aan te lê nie. Die eienaar, Koos du Toit, was ’n goeie man en het dit dieselfde dag nog gedoen. Ek het dadelik met ’n stok die grond begin losmaak. Met geen water naby nie het ek met bekertjies water wat ek in ons badkamer op die boonste vloer gaan haal het, die grond natgemaak.

My ma se goeie vriende, die Potgieters, het van die gedoente gehoor en vir my ’n pakkie kappertjiesaad en ’n pakkie “sweet-peas” (toe het niemand van pronkertjies gepraat nie) gegee. Maar dit was nie die gewone soort kappertjie wat oral wild opgekom het nie, dit was ‘Golden Gleam’-saad, ’n nuwe, spoggerige dubbele kappertjie in helderoranje. Dit het vinnig opgekom en gegroei. En eendag toe ek van die skool af by die huis kom, was daar ’n potjie met blomme op ons eetkamertafel. Ek kon nie ophou kyk na dié wonderwerk nie!

Rosa brunonii x ‘Welvanpas Musk’

Hoe het jy met rose kennis gemaak?

Dit was eers as student dat ek regtig met rose kennis gemaak het. Ná matriek moes ek aandag aan my mediese studies gee en daarna het ek in die hospitaal gewerk.

Ek kon vakansies by Ant Helie (oom Gielie se suster) op Moorreesburg gaan kuier. Ons twee het dae lank gesit en katalogusse deurblaai om rose te kies vir wat toe nog ’n nuwe soort tuin was – ’n roostuin! Ons het rose met eksotiese name gekies: ‘Frau Karl Druschki’, ‘Tausendschön’, ‘Souvenir de la Malmaison’, ‘Général Galliéni’ en ‘Maréchal Niel’.

Die roosstorie het my later in my lewe weer ingehaal. Ons het in 1963 ná 13 jaar in Pretoria teruggetrek Kaap toe, waar ek permanent by Gawie se argiteksfirma begin werk het. Terwyl Gawie ou geboue reggeruk het, het ek die landskapswerk van dié restourasieprojekte – onder meer De Oude Drostdy op Tulbagh, Boschendal in Franschhoek en Tuynhuys in Kaapstad – hanteer.

In my navorsing oor Tuynhuys het ek besef dat daar in die 17de eeu al rose in dié tuin was. Ek het dadelik begin navors wat hier gegroei het en uiteindelik by die Koninklike Botaniese Tuin Kew in Londen om hulp aangeklop. Hulle het steggies van die Tuynhuys-rose na ons eie botaniese tuin by Kirstenbosch gestuur, waar plantjies daarvan gekweek is. Maar toe ek dit by Tuynhuys wou plant, het die hooftuinier geweier! Die rose is terug Kirstenbosch toe waar dit vir twee jaar in plastieksakkies gestaan het.

Uiteindelik is dit by De Oude Drostdy op Tulbagh geplant, net om later weer uitgehaal te word. Ons was toe juis besig met ’n restourasieprojek op die Boschendal-landgoed en die rose het in 1976 ’n permanente tuiste daar gekry. Ongelukkig kon niemand meer die regte naam by elke roos pas nie en moes ek uitgebreide navorsing doen om hulle te identifiseer. Dis danksy dié navorsing dat ek die boek Roses at the Cape of Good Hope oor erfenisrose aan die Kaap kon skryf.

Die uitleg van roostuine het daarna my passie geword en ek het oor die jare verskeie tuine in die Kaap en omgewing vol ou erfenisrose geplant.

Vir my is die grootste aantrekkingskrag van enige roos sy geur. Daar is min rose wat by outydse rose kan kers vashou as dit by hul heerlike geur kom! – Gwen

Rosa ‘Raubritter’

Maak jy nog tuin?

Ek maak deesdae baie min tuin. Ons woon nog in Kampsbaai, maar omdat rose nie hier wou aard nie, het ek net inheems geplant. Ek wou destyds so graag ’n eie roostuin gehad het dat ek ’n eiendom in Grabouw gekoop het. Daar het ek ’n roostuin aangelê en elke Saterdag uitgery om daarin te gaan werk. Ek het geleer hoe om met onder meer Penstemons, irisse in verskeie kleure, Felicias, salies, Kaliforniese liguster en Berberis aanvullende kleur aan ’n roostuin te gee.

Maar met verloop van tyd het my kinders my oortuig om die grond te verkoop, want, het hulle gesê: “Wat gaan Ma maak as Ma ’n pap wiel op die N2 kry?” Ek was dom genoeg om vir hulle te luister... Gelukkig het my dogter Jessie my liefde vir tuinmaak geërf en haar mooi tuin op hul appelplaas naby Grabouw is vol rose. Ek gaan kuier gereeld daar.

Gwen se gunstelingrose

‘Parsons’ Pink China’, ‘Crèpuscule’, ‘Mutabilis’, ‘Gwen Fagan’ en ‘Archimedes’ 

Ander gunstelingplante

Die hele malva-familie (Pelargoniums) omdat hulle so lank blom en die plante so gehard is; ook Clivias, boegoe, Felicia amelloides en Felicia filifolia.

Beste roosraad

Plant rose in die son met baie kompos en saam met ander blomplante sodat dit die hele jaar mooi lyk. Daar is te veel roostuine wat wintertyd net bestaan uit kaal stokke. Ek glo nie dat selfs die mooiste skouspel in die lente kan vergoed vir dié droewige toneel in die winter nie!

Raad aan jongmense

Sorg dat jy woon waar jy ’n tuin kan hê. ’n Mens moet gereeld met jou vingers in die grond kan grawe.

Gunstelingtuine

Die tuin by die kramat van Sayed Mahmud, ’n Moslem-geestelike, in Groot Constantia. Gawie het in 2013 gehelp met die restourasie van die ou kramat wat in die 1920’s deur die argitek Franklin Kaye Kendall ontwerp is. Die area daarrondom het baie vervalle geraak en ek het gehelp met die ontwerp van dié Islamitiese tuin. Ek het al soveel pragtige tuine in Australië, Europa en Amerika gesien dat dit moeilik is om die mooiste daaruit te kies. Maar wat my veral bybly is die ou Portugese tuine met hul formele uitleg en kleurvolle mosaïekpanele.