Jeanette Eybers van Pretoria vra In watter soort grond kan ek my Leucospermum en konings­ proteas plant? Ek verstaan dit moet suur wees; verkoop kwekerye dit? En is dit nodig om klippe in te werk?

JJ antwoord Proteas en speldekussings hou inderdaad oor die algemeen van suur grond. Die meeste kwekerye hou wel suur grond aan en ander verkoop suur kompos. Dis nie nodig om klippe in te sit nie, tensy jou grond so kleierig is dat dit te veel water terughou; indien nodig kan jy deurlatende dreineringsdoek tussen die plant en die klippe sit.

Piet Kotze van Winburg skryf Ek bly op ’n plaas buite Winburg in die Vrystaat en het ’n kolossale akkerboom buite my slaapkamer. Dis oortrek met vlieë op die blare en takke en die klippe onder die boom is swart – ek raai dis die een of ander afskeiding. Ek wil die boom spuit, maar vermoed die vlieë teer op iets soos luise wat die boom oorgeneem het. Die vlieë loop ook nie noodwendig onder die blare waar luise gewoonlik te vind is nie, maar oral. Enige raad?

JJ antwoord Die vlieë is agter die taai neerslag van plantluise aan. Jy kan die boom met ’n sistemiese produk soos Makhro Plant Care spuit. Deurdrenk ook in die lente, wanneer die plantsappe weer boontoe beweeg, die grond rondom die boom met Protek Complete (lees die aanwysings), en herhaal dan weer in die somer.

Luister Saterdag om 07:30 na JJ se Groen Vingers­tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.