Kleigronddilemma

Erika Moolman van Pretoria skryf Ek het nog altyd ’n mooi tuin gehad, maar sedert ek my huis gekoop het, moet ek elke jaar nuwe gras plant, want dit gaan gereeld dood. Die bolle wat ek plant, kom wel op, maar as ek weer kyk, is hulle skoonveld. My olifantsore kry ook swaar en hul blare is vol gate. My tuingrond is taamlik kleierig, en ek het gewonder of ek dit nie sowat 1m diep moet opgrawe, nuwe grond inwerk en weer gras plant nie. Sal dit die moeite werd wees?

JJ antwoord Kleigrond “hou” water so vas dat plante dit nie kan absorbeer nie; daarom vrek jou plante van die dors; dit verdroog, al is die grond nat. Voor jy al daardie moeite doen, werk eers kalsitiese landboukalk in die beddings in teen 500g/m². Daarmee saam kan jy ook lekker baie kompos inwerk. Probeer dit dalk in ’n kleiner area; gee dit kans en as dit werk, doen dit in die res van jou tuin.

Nuwe boom van ’n tak?

Lorraine Malan van Wolseley skryf Sowat drie maande gelede het ek ’n 3m lange tak van my koraalboom afgesaag omdat dit die bure gepla het. Ek het die stomp toe as versiering in my tuin neergesit. Nou het dit takkies en blare begin uitstoot. Daar is geen wortels nie en dis nie in die grond begrawe nie. Sal die tak aanhou groei as ek dit in die grond plant?

JJ antwoord Enige plant sal energie in sy stam stoor ná dit afgesaag is, maar nie alle plante wys dit vir jou met nuwe groei nie. Die kanse is goed met koraalbome dat die stomp homself sal wortel en verder groei – groter “steggies” word dikwels so gemaak.

  • Luister Saterdag om 07:30 na JJ se Groen Vingerstuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.