Wendy Davies van Durbanville skryf: My melkhoutboom van omtrent 14 jaar het in die afgelope jaar hierdie karbonkels op sy blare begin kry. Wat is dit en hoe raak ek daarvan ontslae?

JJ antwoord: Die probleem is bladvlooi, ’n insek wat sy eiertjies in die blare lê terwyl die blaartjie ontwikkel. Jy kan die boom spuit met Aphicide of Plant Care, wat vir omtrent drie weke lank sal werk, of jy kan Complete in water oplos en die grond rondom die boom daarmee deurdrenk sodat die wortels dit sistemies kan opneem; dit sal ongeveer ses maande lank werk. Ongelukkig sal die aangetaste blare nie weer regkom nie, maar die nuwe blare sal gesond wees.

Lastige molle

Malcolm de Roubaix van Bloubergstrand skryf: ’n Stuk munisipale sandgrond langs my erf krioel van die stootmolle. Ek wil hulle nie doodmaak nie, net oortuig om elders te gaan dolwe. Is daar enige natuurlike, organiese produkte of metodes? Werk die ultrasoniese verdrywers wat ek in advertensies sien?

JJ antwoord: Ja, ’n mens kry wel natuurlike afweerders wat molle verjaag. Die middels bestaan gewoonlik uit sterk konsentrate van knoffel, uie en ander plantekstrakte (Efekto maak ’n organiese middel). Die ultrasoniese stelsels (kyk by takealot.com en builders.co.za) werk net as jou grond ’n hoë klei-inhoud het, aangesien sanderige grond nie die seine “dra” nie.

Luister Saterdag om 07:30 na JJ se Groen Vingerstuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG