G’n olywe nie?

Sara Truter van Somerset-Wes skryf My 10 jaar oue olyfboom groei pragtig, maar sonder enige teken van vrugte. Verlede jaar het ek dit vir ’n roetskimmel behandel en dit het wel verdwyn. Nou sien ek hierdie “gebleikte” kolle op die blare. Kan dit sy vermoë om vrugte te dra, benadeel? Hoe kan ek my olyfboom se gesondheid verbeter?

JJ antwoord Olyfbome hoef nie kruisbestuif te word nie, maar sal beter dra wanneer twee of meer kultivars gelyktydig bymekaar blom. Olyfbome verkies alkaliese grond en waardeer veral ’n dosis landboukalk elke paar maande. Voed elke twee of drie maande met 8:1:5-kunsmis om blare, blomme en vrugte aan te moedig. Die vlekke op die blare dui op blaarspringer-insekte (algemeen by olyfbome); behandel dit met Avigard of Malathion. Probeer om die hele boom met ’n fyn sproei te bedek en herhaal ná 10 dae.  

Luister Saterdae om 07:30 na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.