Marinda Vorster van Middelburg, Mpumalanga skryf Watter onkruiddoder sal geskik wees om onkruid uit te wis sonder om my gras te laat vrek?

JJ antwoord Probeer iets soos Versus. Wag dan ses weke voor jy diere daar laat wei of enige weiding baal. Jy kan ook een deel nou spuit en later weer ’n volgende deel.

Jeanne Venter van Somerset-Wes skryf Ek het dié rankrose so vier jaar gelede gekoop. Die eerste twee jaar het die eerste vlaag baie blomme gelewer, maar toe niks verder nie. Verlede jaar was daar feitlik niks. Ek het dit oorweeg om hulle uit te haal, maar nou het elke plant ’n paar rose. Is daar iets anders wat ek kan doen, of is dit maar net hoe dié tipe roos blom?

JJ antwoord Jou plant lyk gesond en toon geen rede hoekom dit nie blom nie. Dalk was daar nog genoeg voeding van die vorige seisoen wat die plant genoeg krag gegee het om te blom, maar toe raak dit uitgeput. Dien 8:1:5 toe – dis voeding wat genoeg kalium aan die plant gee om baie blomme te vorm.

Groen Vingers-tuingeselsies
Luister Saterdag om 07:30 na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.