Pot-kwessies

Albert du Plooy van Pretoria-Noord skryf Wat kan ek in ’n pot bo-op hierdie boomstomp wat in volson staan, plant? En wat is die naam van die lelie in die pot (onder)? Ek het dit meer as tien jaar gelede gekoop en dit is die eerste keer dat hy blom! Waarom sou dit nou eers blom? Watter soort behandeling het die plant nodig? Die pot staan in ’n hoek wat in die middag son kry, onder ’n glasveseldak. Moet die plant jaarliks uitgeplant word? Hier aan die voet van die Magaliesberg kry ons nooit in die winter ryp nie.

JJ antwoord Goeie opsies vir daardie boomstomp in ’n sonkol is vetplante – probeer onder meer Crassulas, Echeverias en klein aalwyne.

Jou lelie is ’n belladonna (Amaryllis belladonna). Dit kan in potte groei, mits die grondmengsel uiters poreus is. Die bolle kan taamlik droë toestande verduur. Jy kan dit elke twee weke voed met ’n bietjie bolkos of ’n stadig vrystellende potplantkos. Verdeel en herplant oorgroeide bolle in die lente. Maak aan die einde van die somer minder gereeld nat sodat die plant dormant kan raak; die blare sal vergeel en doodgaan. 

Luister Saterdae om 07:30 na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.