Anél Viljoen van Durbanville skryf Ons het sewe Chinese populierbome wat sewe jaar gelede in ons agtertuin aangeplant is. Ek het onlangs agtergekom dat die een boom amper al sy blare wat welig in Augustus/September uitgekom het, begin afgooi. Die paar blare wat steeds daar sit, lyk verlep.

By nadere ondersoek het ons gesien dat die bas by die boom se basis effens gebars is en afdop, maar dis die geval by die meeste van die gesonde bome ook. Ons het wel ’n paar goggas op stukkies los bas opgemerk.

Weens die waternood in die Kaap gebruik ons gryswater (stort- en badwater) om die bome nat te maak. Is daar enigiets wat ons kan doen om hierdie boom te red, en om te keer dat dié siekte na die ander bome versprei? Hulle is redelik na aan mekaar geplant.

JJ antwoord Ek glo nie die goggas is jou probleem nie. Ek vermoed daar is te veel grond teen die stamme opgehoop en daarom vrot die bas weg. Die goggas lewe net op verrottende hout. Behandel die bome met Odeon teen wortel- en stamvrot.

Luister Saterdae om 07:40 saam na JJ se Groen Vingers- tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG