Stomphout

Anton Nel van Wellington skryf Ek sien so af en toe in Tuis mense gebruik ’n stomp as dekor in die huis. Stompe kan swamme bevat, asook ’n trekpleister wees vir houtboorders. Ek neem dus aan dat ’n stomp eers behandel moet word voor jy dit as dekor inspan. Indien wel, waarmee word dit behandel?

JJ antwoord Sulke stompe word sover ek weet met ’n mengsel van houtolie en terpentyn behandel. Dit word dik aangesmeer en vir ’n week of wat buite gelos voor dit ingebring word.

Clivias van saad

Danie van der Walt van Northcliff, Johannesburg, skryf Ek wil graag nuwe plantjies van Clivia-saad kweek. Wanneer is die beste tyd om die saad te oes, en kan ek dit binnenshuis in ’n vlak houer met klam sand of kompos plaas? Of is dit beter om dit tussen klam kladpapier of watte te plaas om eers te ontkiem? En moet ek dit daagliks met ’n newelspuit klam maak?

JJ antwoord Wag eers tot jou plant in die lente klaar geblom het en oes eers die “bessies” wanneer dit mooi geswel het en ook verkleur het. Verwyder die vlees en membraan om die sade en plant dit op ’n warm, beskutte plek in klam grond. Jy kan dit klam hou met ’n newelspuit, maar pasop vir te veel water – Clivias verkies om droog te bly. Onthou, Clivias wat van saad gekweek is, moet eers versterk voor dit in die tuin uitgeplant word; laat dit dus vir ’n jaar of wat in die houer bly. Dié nuwe plante sal eers ná ’n paar jaar blom. 

Luister Saterdag om 07:30 na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.