Foto’s Francois Oberholster en verskaf

’n Geil stoep, vol in die blom

Wie’t gesê jou tuin moet beddings hê? Eintlik niemand nie! En dis goeie nuus vir die tuinier wat graag op haar balkon of stoep woeker. Jy kan net soveel plesier hê deur met potte te speel, vertikale houers op die proef te stel, die kleurwiel te ontdek... solank jy blomme by die mengsel voeg.

Potte van verskillende vorms en groottes kan hoogte en afwisseling in jou ruimte bring en jou terselfdertyd die geleentheid gee om met verskillende style te eksperimenteer. Oorweeg ook die moontlikhede van hangmandjies wanneer jy groenigheid in ’n beperkte ruimte wil inbring.

Geweefde mandjies (pleks van plastiek) waarin stekelrige loof groei, sal lieflike tekstuur verskaf. Stap ’n slag deur jou naaste kwekery se afdeling vir potte en mandjies – dalk inspireer dit jou tot ’n skeppende tydverdryf!

DIS ’N POTSPEL!
Gee karakter aan ’n ruimte deur plante in mooi teepotte of waterstewels te plant. Of versier ou blikkies sodat dit by jou dekor pas (groot pret vir die kleinspan) en gebruik dit as potte. Sorg dat elke pot ’n paar dreineergate het om wortelvrot te vermy.

Teen die mure uit

’n Kaal muur is maar net ’n uitnodiging om dit lewe te gee! Al wat jy daarvoor nodig het, is ’n paar potte effens uitmekaar gespasieer teen die muur gerangskik – ’n simmetriese roosterpatroon van vier potte by vier is ’n goeie begin. Enige varings en rankers wat daaruit tuimel, sal sorg vir die res en kort voor lank die muur bedek of vensters en deuropeninge lieflik omraam. Vertikale potte bring die tuinbedding nader, is uitstekende plekbespaarders en gee ’n varsheid aan enige ruimte.

Swartoognooi

Swartoognooi (Thunbergia alata) is en was nog altyd ’n gewilde rankplant, terwyl Asarina uitstekend werk in vertikale planthouers en teen lewende mure.

Hoe mooi is dit!

Teks verskaf deur Life is a Garden. Sien meer by lifeisagarden.co.za of volg hulle op Facebook en Instagram.
Bella Fuchsia ‘Sophia’
Bella Fuchsia ‘Sophia’

Die Bella-reeks fuchsias is eenvoudig asemrowend en maak prentjiemooi potplante. Dit groei as ’n kompakte, bossieagtige bladwisselende struik met donkergroen blare. Verwag ’n ongelooflike skouspel deur die hele somer met blomme in wisselende skakerings van rooi, pienk en pers. Hulle hou van son tot halfskadu en verkies klam, vrugbare grond.

DIE PERFEKTE BLOMTUIN IN ’N POT

Enige beskikbare ruimte op jou stoep – hetsy ’n lae muur of vensterbank – bied aan blomme die geleentheid om te gedy. Een manier om ’n geil, welige voorkoms in ’n pot met blomplante te skep, is met die “Thriller, Filler and Spiller (TFS)”-metode. Kies ’n regop groeiende fokusplant (“thriller”), plant ronder, bossieagtige vullers rondom en voeg iets by wat oor die rand sal tuimel as jou “spiller”.

‘AARBEIE EN ROOM’ VIR JOU?

Kweek jou eie herinnering aan die soet bederfies in die lewe en speel met die kleurwiel in potte. Gebruik ’n heerlike verskeidenheid dieprooi skakerings saam met onweerstaanbare roomkleure vir soete verleiding in ’n houer. Volg die “TFS”-plantmetode e hierbo en vul jou rooi-en-wit pot só:

1 Verbena: helderrooi tuimelplant

2 Euphorbia: klassieke wit vuller

3 Petunia: dieprooi vuller

Alstroemeria: roomwit vuller

5 Dahlia: donkerrooi fokusplant

6 Calibrachoa: geelwit tuimelplant

Nog stoep-idees

Origanum in ’n pot
Origanum in ’n pot

Kruie byderhand

Pleks van braaispeserye uit ’n bottel te gebruik, pluk vars garnering vir jou gaste! ’n Paar potte kruie op jou stoep verryk die ruimte nie net met hul geur nie, maar sorg ook dat jy altyd vars bestanddele byderhand het vir etenstyd buite.

Voeg net water by

Met ’n dammetjie of fontein op jou stoep kan dit ’n ware toevlug wees. Lopende water skep ’n ontspanne atmosfeer waar jy deel van die natuur kan voel. ’n Ontwerp met twee vlakke sal ook hoogte aan die ruimte gee.