Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Sonder goeie grond sal geen tuin floreer nie. Groot hoeveelhede kompos en kunsmis is boonop nie altyd die antwoord nie. Dis belangrik om te weet watter tipe grond jy het, want dan sal jy weet hoe om dit te behandel en wat om daarin te plant. Deesdae is dit ook maklik vir tuiniers om hul tuingrond professioneel te laat toets. Dr. Pieter Raath, ’n grondkundige van die Universiteit Stellenbosch, verduidelik ...

1. Toets jou grond

Jy kan jou grond by enige landbou-laboratorium laat toets vir ’n skamele R250. Dié toets dui gewoonlik die chemiese samestelling van die grond aan, die hoeveelheid en tipe voedingselemente daarin, asook of dit brak (met ’n oormaat soute), suur of alkalies is. Sommige toetse sal aandui of dit sand-, leem- of kleigrond is.

As jy nie jou grond professioneel wil laat toets nie, kan jy net na die kleur kyk: hoe rooier die grond, hoe meer klei; hoe swarter die grond, hoe meer organiese materiaal en voedingselemente bevat dit; en hoe ligter die grond, hoe meer sand is daarin.

2. Soorte grond

Sanderige grond

Sandgrond hou nie water goed vas nie en droog dus vinnig uit. Nie net moet dit meer gereeld besproei word nie, maar omdat die voedingselemente ook vinnig uitloog (chemies “uitspoel”), raak die grond gou suur. ’n Voordeel van sandgrond is dat dit nie sommer oormatig nat raak nie en dus beter belug is. Plante in sandgrond kry minder siektes, veral wortelsiektes.

Groot hoeveelhede kompos sal die waterhouvermoë en voedingswaarde van die grond dramaties verbeter.

Leemgrond

Leemgrond bevat redelike hoeveelhede klei, maar genoeg sand om goed te dreineer. Dit het dus die voordele van klei- én sandgrond, sonder enige van die nadele. Sommige leemgrond kan wel kompakteer en verdig as dit te veel water kry. Voeg gereeld organiese materiaal by om dié probleem teen te werk.

Kleigrond

Een van die grootste nadele van kleigrond is dat dit nie goed dreineer nie, veral as dit boonop brak is. Dit is ook dikwels hard as dit droog word en kan baie dig wees, wat wortelgroei benadeel. ’n Voordeel van kleigrond is wel dat die grond van nature vrugbaar is, goeie waterhouvermoë het en dus minder gereeld bemes of besproei hoef te word. Skep goeie dreinering deur gips by te voeg; dit sal ook help om die soute uit te was. Groot hoeveelhede kompos sal verder help met dreinering en ook die struktuur verbeter.

Wes-Kaap en KwaZulu-Natal: suur; Noord-Kaap: alkalies

3. Suur of alkalies?

Ongelukkig kan jy nie uit die kleur aflei of jou grond suur of brak is nie. Gewoonlik verskil grond se pH (aanduiding of dit suur of alkalies is) van streek tot streek in Suid-Afrika. So is die grond in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal in die algemeen suur, terwyl dit in die Noord-Kaap en dele van die binneland alkalies is. Die personeel by jou plaaslike kwekery sal gou vir jou kan sê wat die suurgehalte van die grond in jou omgewing is.

As jy presies wil weet wat die mate van suurheid of alkaliniteit van jou grond is (dit kan belangrik wees vir sekere plante), is jou beste raad om die pH by ’n laboratorium te laat meet.

SUUR

Grondsuurheid veroorsaak verskeie probleme, veral swak wortelgroei en swak opname van voedingstowwe, wat dan lei tot swak groei. Suur grond kan wel met kalk behandel word, maar dis belangrik om die regte dosis te bereken, anders kan jy oorbekalk en weer probleme met alkaliniteit skep – dis hier waar ’n professionele ontleding nuttig is.

ALKALIES

Alkaliniteit skep probleme met die opname van spoorelemente en fosfaat. Hiersonder kan plante nie behoorlik groei nie en lyk hulle sommer siek. Dit is moeilik om grond met ’n hoë pH reg te stel, maar op klein skaal kan jy dennenaalde inspit, ammoniumstikstof as kunsmis gebruik of selfs asyn in die water gooi wanneer jy natlei. Maar dis ’n stadige proses wat selfs jare kan duur.

Baie plante verdra gelukkig ’n hoë alkaliniteit en omdat alkaliese grond meestal goed dreineer, sal jou plante goed groei – solank jy gereeld ’n klein bietjie fosfaat toedien.

4. Gryswater

Met heelwat streke in Suid-Afrika wat die afgelope paar jaar deur droogte geteister is, moes tuinliefhebbers noodgedwonge na emmers gryswater gryp om plante aan die lewe te hou. Ongelukkig is die gebruik van gryswater op die lang duur sleg vir jou grond, want dit maak grond brak en verswak ook dreinering. Boonop lei die seep in die water amper tot ’n tipe “sterilisasie” van die grond, want mikro-organismes kan beswaarlik daarin oorleef of funksioneer en gevolglik is die wortels swak. Selfs bio-afbreekbare seepprodukte se soutinhoud kan grond verbrak en grondwater besoedel.

Dit sal help om gryswater so min moontlik te gebruik – indien moontlik net een keer in twee weke op dieselfde plek – en dit tussenin af te wissel met vars water.

Tog bly herwinde water ’n uitkoms in uiterste omstandighede. En as dit al was waarmee jy jou tuin ’n ruk lank aan die lewe kon hou en jou grondgehalte daardeur benadeel is, is dit noodsaaklik om die dreinering en struktuur te verbeter. Groot hoeveelhede kompos sal “lewe” terugplaas in jou grond en ook as voedingsmateriaal vir mikrobes dien.

Sandgrond hanteer gryswater wel beter omdat die effek van die soute minder is. Moet dit liefs nooit op swaar kleigrond gebruik nie.

Watertenks in verskeie groottes, kleure en vorms is ideaal om reënwater op te vang sodat jy jou gryswater daarmee kan afwissel.

5. Wat van erdwurms?

Erdwurms is nie noodwendig ’n moet vir jou grond nie – plante sal steeds gesond en mooi wees sonder dié outjies. Hulle hou wel heelwat voordele in: Omdat hulle onophoudelik werk om die grond los te maak en te deurlug, verbeter die algehele struktuur van die grond aansienlik. Hulle skep tonnelkanale waarin suurstof en water maklik kan beweeg. Boonop werk hulle plantmateriaal van die oppervlak af by die grond in en dit, tesame met hul uitskeidings, dien alles as voedingstowwe vir plante.

Moenie dink jy kan erdwurms gaan koop en in jou tuin loslaat nie. Dié wat te koop is, kom nie natuurlik in Suid-Afrika voor nie en die kans dat hulle sal oorleef – veral as die grond ’n bietjie uitdroog en daar nie baie kompos is nie – is skraal.

Jy kan wel erdwurms lok deur seker te maak daar is genoeg organiese materiaal in klam, goed gedreineerde grond. Begin andersins jou eie erdwurmplaas.

6. Kompos is die beste

Volgens TC Kohler van Reliance is dit ’n goeie idee om so twee keer per jaar kompos in te werk: 30–50 mm diep in blombeddings en 50–100 mm diep in groentebeddings. Nadat jy kompos ingewerk het, moet jy ook ’n deklaag strooi om vog in die grond te behou en onkruidgroei te onderdruk.

KOMMERSIËLE KOMPOS

Koop by ’n betroubare verskaffer en maak seker jy weet wat in die kompos is – vermy liefs enige chemiese byvoegings. ’n Goeie kompos moet donker van kleur wees, ’n brosserige tekstuur hê en moet na grond ruik (dus geen skerp reuke nie).

EIE KOMPOS

Vermy die volgende in jou komposhoop by die huis:

  • Troeteldierontlasting – dit bevat parasiete en mikro-organismes wat nadelig vir groente is.
  • Tee- en koffiesakkies, tensy jy sintetiese sakkies vooraf verwyder, want dit breek nie vanself af nie.
  • Sitrusskille en uie – dit vertraag die komposteringsproses en is nadelig vir wurms en mikro-organismes.
  • Vis- en vleisafval, want hoewel dit tot kompos sal afbreek, sal die reuk rotte, muise en huisdiere lok; dit kan ook jou bure ongelukkig maak!
  • Houtkole en -as kan in klein hoeveelheid bygevoeg word, maar die swael daarin kan maak dat jou grond suur word.
Kry ’n drom by jou naaste tuinwinkel en maak jou eie kompos uit kombuis- en tuinafval.

7. Omspit of nie?

Volgens dr. Pieter is omspit die beste manier om grond wat verdig het, los te maak. Maar moenie omspit as jou grond in ’n goeie toestand is nie, behalwe wanneer jy twee keer per jaar bemesting toedien.

Wanneer jy omspit, moet jy dadelik organiese materiaal byvoeg en die grond net so los om te stabiliseer – moet dus nie daarop loop nie. Hierdie “blaaskans” sal help dat die grond nie so gou weer kompakteer nie en organiese materiaal behoorlik afgebreek word. Moet ook nie te veel water gee nie, anders sal die los gronddeeltjies net weer aan mekaar vassit en die grond verdig.

8. Wat van kunsmis?

Wees versigtig om jou grond nie te oorbemes nie, waarsku dr. Pieter, want te veel van ’n goeie ding is nooit goed nie. As jou grond se fosfaat- en kalium-inhoud voldoende is, kan jy twee tot drie keer per jaar stikstof toedien.

Kunsmismengsels bestaan uit anorganiese misstowwe wat vir ’n spesiale doel saamgestel is, en die samestelling word aangedui in die verhouding van die hoofplantvoedingstowwe – stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) – daarin, verduidelik hy. “Neem die kode 4:2:4 (20) as voorbeeld. Die getal tussen hakies beteken die hele mengsel bevat 20% van bogenoemde hoofvoedingstowwe in die verhouding van vier dele elk stikstof en kalium, en twee dele fosfor.”

Raadpleeg jou kwekery oor die bepaalde behoeftes van die gewas waarvoor jy kunsmis wil koop.

Watter plante vir watter grond?

Volgens Mpendulo Gabayi, tuinboukundige van Kirstenbosch Botaniese Tuin, en Wouter Kruidenier, tuinontwerper van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine in Durbanville, is daar tog plante wat beter vaar in sekere grondtoestande:

SANDGROND

Enige vetplante, struike en meerjariges soos:

  • suurvye (Carpobrotus edulis)*
  • plakkies (Cotyledon orbiculata)*
  • woestynrosies (Echeveria-spp.)
  • klipsalies (Thorncroftia succulenta en Aeollanthus parvifolius)*
  • Gazania-spp.*
  • gousblomme (Arctotis-sp.)*
  • Plumbago*
  • Heliotropium arborescens
  • Cistus-spp.
  • Salvia officinalis
  • Plectranthus-spp.*
KLEIGROND

Baie geharde plante, of plante met spesiale eienskappe, soos:

  • verskeie irisse (Dietes bicolor, D. grandiflora en D. iridioides)*
  • rooikanol (Wachendorfia thyrsiflora)*
  • brakvygie (Aptenia cordifolia)*
  • smaragsiervaring (Asparagus densiflorus)*
  • agapant (Agapanthus praecox)*
  • rose
  • Magnolia x soulangeana
  • daglelie (Hemerocallis)
  • Hosta
  • Weigela florida
SUUR GROND 
  • koningsprotea (Protea cynaroides)*
  • klipboegoe of aasbossie (Coleonema album)*
  • Kluitjieskraalbasterboegoe (Agathosma ovata)*
  • kalwerbossie (Pelargonium sidoides)*
  • speldekussing (Leucospermum cordifolium)*
  • krismisrose
  • Camellia japonica
  • asalea
  • katjiepiering (Gardenia jasminoides)
  • Plectranthus ecklonii*
  • Lobelia erinus
ALKALIESE GROND
  • galjoenblom (Lobelia valida)*
  • gouevygie (Lampranthus aureus)*
  • duineboegoe (Acmadenia obtusata)*
  • plakkie (Cotyledon orbiculata)*
  • Hagelkraalboegoe (Diosma haelkraalensis)*

Plante wat alkaliese en suur grond kan verdra:

  • blomkweper (Chaenomeles speciosa)
  • saliehout (Buddleja salviifolia)*
  • Virginia-klimop (Parthenocissus quinquefolia)
  • Campanula-spesies
  • Rudbeckia

* Inheems