Foto’s Kosie Jansen van Rensburg en Francois Oberholster

Bernard Mentoor kweek die mooiste skou-krisante op sy erf in Johannesdal, net anderkant die Helshoogtepas naby Stellenbosch. Dié stokperdjie maak nie net vir hom gelukkig nie, maar ook sy vrou, Anne. “Want nou is hy heeldag tuis en die blomme hou hom boonop ná sy aftrede besig!” vertel sy.

Bernard het op 22-jarige ouderdom met dié pragtige blomme kennis gemaak. En dis juis Anne wat die saadjie geplant het. “Ons het nog net uitgegaan toe sy my bekendstel aan vriende wat krisante kweek. Dit was als nuut vir my; ek het toe nog nooit van hierdie blomme gehoor nie,” onthou hy.

Dié vriende het Bernard aangemoedig om self sy hand aan die plant te waag en vir hom ’n paar present gegee. “My eerste blomme se koppe was klein en glad nie ’n sukses nie. Maar toe ontmoet ek by my werk in Stellenbosch mense wat met krisante geskou het. Ek het weer plantjies present gekry, en ’n jaar later spog ek toe met reuse-blomme.” Dit was in 1964.  

Vanuit die tuin het die Mentoors ’n pragtige uitsig op die Groot-Drakensteinberge.

Bernard se krisante groei onder selfgemaakte strukture wat met skadunet bedek is.

Eerste wenners

Teen 1965 het Bernard die eerste keer sy krisante op ’n skou vertoon, maar jare lank niks gewen nie. “’n Vriend het net gelag en gesê ek kan maar ophou probeer. Maar vir my het dit gegaan oor die liefde vir die saak en nie net oor ’n wenblom nie. In 1972 het ek die eerste keer begin pryse inpalm. En van toe af was daar geen keer aan my nie. Ek het al by heelparty skoue skoonskip gemaak,” vertel hy trots.

Al Bernard se krisante groei in strukture onder skadunet wat hy self in sy agtertuin staangemaak het. Hy het deur die jare baie plante by ander kwekers gekry en vyf spesiale krisante van Japan ingevoer. Hy gebruik net sy beste plante met die mooiste blomme om sy versameling ná blomtyd met steggies en verdeling uit te brei. So, hoeveel krisante het hy? “Ek het geen idee nie!” sê hy. “Ek tel hulle nooit nie, hou net aan plant tot ek nie meer plek het vir nuwes nie.

“My krisante gee my soveel plesier. Sommige word verkoop, en ander deel ek uit vir vriende en familie wat dié stokperdjie met my wil deel. “Ek het oor die jare baie geleer by ander kwekers en heelwat boeke oor dié blomme gelees. Dit is vir my onmoontlik om ’n gunsteling te kies, want almal is vir my mooi.” Sy skoublomme is op hul mooiste van laat April tot vroeg Mei, “maar teen Moedersdag, wanneer almal blomme soek, is die blomtyd ongelukkig verby!”

Bernard los net drie stele per plant waarop sy skoublomme ontwikkel. Dié blomme sal binnekort op hul mooiste vertoon!

Kristante kom in verskillende blomvorms, van groot, ronde blomme tot dié met ’n “spinnekop”-voorkoms.

Deur die jaar

Bernard kweek sy krisante in goed voorbereide, komposryke grond wat goed dreineer. Vir ekstra woema werk hy perdemis in wat hy by plase in die omgewing kry. Tydsberekening is belangrik, want die blomme moet die week van die skou op hul mooiste wees. Maar Bernard is nou al so gesout, hy weet net wanneer om wat te doen om dit perfek reg te kry.

Dit is hoe hy te werk gaan:

In Mei, wanneer die krisante klaar geblom het, sny hy die stele sowat 30 cm bo die grond af. Dit moedig nuwe groei aan by die basis van die plant.

In Junie haal hy die moederplant uit, was dit met verdunde Jeyes Fluid om van enige siektes ontslae te raak en breek die nuut gevormde plantjies versigtig af. Dan plant hy die moederplant en al die nuwelinge in houers met tuisgemaakte kompos. Namate die plante wortel skiet, plant hy hulle oor in groter houers.

Van Augustus tot Oktober maak Bernard steggies van dié plante. Hy sny ’n takkie van 5cm lank af en los twee tot drie blare aan die steggie. Dan druk hy die steggie in hormoonpoeier en plant dit in ’n spesiale mengsel van gelyke dele skoon riviersand en veengrond.

In Desember, wanneer die plante se wortelstelsel goed ontwikkel het, plant hy dit uit in goed bewerkte grond in sy skadu-strukture. Om te keer dat die water wegloop wanneer hy natmaak, druk hy ’n plastiekpot waarvan die boom uitgesny is, in die grond rondom elke plant. Plante waarvoor daar nie plek in die grond is nie, los hy in potte. Namate die krisante groter raak, word hulle gestut en breek hy van die systele af. Uiteindelik het elke plant net drie stele waarop die skoublomme vorm. Bernard hou die blomme en blare fyn dop vir enige siektes en spuit wanneer nodig met sy eie konkoksie. Hy sê rooispinnekop kan nogal ’n probleem wees.

Hoeveel water?

Aanvanklik gee hy die plante twee maal per week goed water. In die groeiseisoen in die somer en voor die skou hou hy hulle goed nat en kry hulle elke tweede dag water. “As jou plante kort voor die skou te min water kry, is dit neusie verby,” verduidelik Bernard, wat water uit die berg in tenks opvang.

/
My eerste besoek aan ’n krisanteskou was ’n belewenis. Ek het gedink ek is in die hemel dit was vir my so pragtig! – Bernard

Skoutyd

Gewoonlik is dit elke jaar vroeg in Mei krisanteskou-tyd in die kerksaal op Pniël, Johannesdal se buurdorp. “Vroeg in die week, voor die skou, begin die uitstallers hul onderskeie uitstalruimtes regmaak; in daai week begin ek ook pluk.”

Bernard stal tot 100 blomme per keer uit. Hy sny blomstele van 60cm lank af en sit dit in blompotte of groen wynbottels wat hy by ’n wynlandgoed kry. Die blomme word in netjiese rye in die uitstallokaal staangemaak. Om die blare te laat blink, spuit hy dit met melkwater – ’n mengsel van ’n koppie melk in 5 liter water; dan hoef hy nie die blare blink te vryf nie. Hy verduidelik dat die blomme op grond van hul vorm, grootte en varsheid beoordeel word. “Vroeër jare het ons pryse soos ’n teestel of glase gewen, maar deesdae kry die wenners geld wat hulle weer op hul blomme kan spandeer. Ná die skou word die blomme verkoop of deel ons dit aan vriende en familie uit.”

Spinnekop-krisant


Van die pot tot die bedding

As jy self ’n krisant (Chrysanthemum) wil kweek, koop een as ’n potplant en plant dit later in jou tuin uit. Dié potplante is meestal dwarsdeur die jaar in feitlik elke moontlike kleur by kwekerye en kleinhandelaars beskikbaar. Daar is plante met enkel- of dubbel-blomme, met groot of klein blomkoppe en ook in ’n verskeidenheid blomvorms.

Sit die potplant in ’n vertrek met genoeg natuurlike lig of op ’n stoep wat oggendson kry. Gee dit gereeld water (potplante droog vinniger uit as plante in die tuin) maar maak seker die grond is effens uitgedroog voor jy weer water gee. Sny gereeld dooie blomkoppe af en sny die plant ná blomtyd met sowat 5 cm terug. As jy te veel terugsny, kan die plant doodgaan. Stel die potplant stelselmatig aan meer son bloot voor jy dit in ’n sonnige bedding in die tuin uitplant.

Krisante hou van goed gedreineerde komposryke grond en verkies oggendson bo middagson, wat te warm kan wees. Sny die beddingplant se dooie blomstele gereeld af om dit meer en mooier te laat blom en gee in die somer gereeld water, veral in winterreënstreke.

In die tuin blom krisante van Februarie tot laat in die herfs en sorg vir baie kleur in ’n gemengde bedding. Plant dit saam met Michaelmasmadeliefies (Symphyotrichum novi-belgii), salies (Salvia) wat in die herfs blom en sonhoed (Rudbeckia hirta) vir ’n kleurvolle vertoning. Krisante is goeie snyblomme.

Wenk Voed jou plant, hetsy in die pot of wanneer dit uitgeplant is, met plantkos soos Seagro vir gesonde groei en Hadeco se Pokon vir mooi blomme. Volg die aanwysings op die houers.  

ASTER OF KRISANT?

Daar word soms verkeerdelik na dié blomme as asters verwys. Krisante behoort tot die Chrysanthemum-genus, wat deel is van die Asteraceae-familie, ’n baie groot groep plante – vandaar die verwarring.

Plantgids

Volksnaam Krisant

Botaniese naam Chrysanthemum-hibriede

Halfskaduwee tot volson

Gemiddelde waterbehoeftes

Redelik rypbestand

Hoogte wissel

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar; Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson; Cape Garden (021 988 4137, capegardencentre.co.za)