Foto’s Francois Oberholster

Wurmkompos is maklik om te maak. Talitha Cherry, tuinboukundige by die landgoed Babylonstoren, en Franz en Sue Mentz van Wurmbosch Wormery and Organics buite Stellenbosch verduidelik hoe:

1. Wat is wurmkompos?

Wurmkompos (“vermicompost”) is kompos wat deur erdwurms gemaak word van kombuisafval en afvalpapier. Dis ’n gewilde manier van herwinning en ’n maklike uitweg om van kombuisafval ontslae te raak. Tuiniers verwys na die kompos as “swart goud”. ’n Neweproduk van die proses is wurmtee, wat ook as bemesting gebruik kan word.

2. Wat het ek nodig?

Dis eenvoudig: ’n wurmplaas (punt 3), kombuisafval (punt 7) en erdwurms!

3. Jou wurmplaas

Die gewildste wurmplaas bestaan uit drie houers wat op mekaar gestapel is. Jy kan ’n klaar wurmplaas koop by tuinsentrums en koöperasies of jou eie een saamstel.

So maak jy:

  • Die onderste vlak vang die wurmtee op en moet daarom nie lek nie. As dié komponent ’n houer met ’n kraantjie is, sal jy die wurmtee makliker kan uittap.
  • Die middelvlak is die wurms se aanvanklike werk- en broeiplek. Vul dit met jou kombuisafval en papier en sit jou wurms hierin. Boor klein gaatjies onderin die houer sodat die wurmtee in die onderste houer kan drup. Boor ook al langs die kant van die houer gaatjies so dik soos ’n vuurhoutjie vir ventilasie.
  • Die boonste vlak moet ’n houer met ’n deksel wees. Maak seker die deksel pas op die middelvlak én die boonste vlak, want jy gaan die houers op ’n stadium omruil. Dié houer moet ook gaatjies onderin hê sodat die wurms boontoe kan beweeg sodra hulle die afval in die middelste houer deurgewerk het. Die deksel bo-op keer dat dit inreën of dat voëls jou wurms kom opvreet!

4. Watter wurms?

Die wurms is nie ’n gewone tuinerdwurm nie, maar sy nefie, die “red wriggler” (Eisenia fetida). Kry sommer ’n hand vol by iemand wat reeds ’n wurmplaas het of soek aanlyn vir jou naaste verskaffer. Dit kos sowat R50 vir 200 wurms.

5. Waar begin ek?

  • Kies ’n plek wat nie aan wind en weer of direkte sonlig blootgestel is nie. Die wurmplaas kan selfs in die motorhuis staan, want dit het nie ’n onaangename reuk nie.
  • Gaar jou kombuisafval in ’n houer op en keer dit daagliks in jou wurmplaas uit.
  • Vul jou houer so: Strooi ’n laag kompos, sowat 5 cm diep, onderin die middelste houer. Sit nou jou wurms in. (As jy wurms koop, kry jy hulle in komposryke grond – gooi dié ook by.) Sit kombuisafval bo-op. Die laag afval moet op die ou end nie hoër as 10 cm wees nie, anders raak dit ’n mini-komposhoop en die hitte sal jou wurms in die beperkte ruimte laat vrek. Sit ook afvalpapier soos ou koerante, karton, eierboksies, leë papbokse (skeur dit in kleiner stukkies) by. Papier dien as broeiplek en help om die voggehalte reg te hou. Bedek die afval met ’n stuk koerantpapier en lig dit net elke keer op as jy nog afval byvoeg. Sprinkel ’n bietjie water op die papier om dit klam te hou. As die hoop uitdroog, sal die wurms doodgaan. Maar onthou: Daar moet nooit water in die hoop lê nie.
  • Wanneer die middelhouer vol is, sit vars afval in die boonste houer. As die kos op is, sal die wurms na die boonste houer toe trek; maak net seker die onderkant van die boonste houer is in kontak met die inhoud van die middelste houer, anders sal die wurms nie by die kos in die boonste houer kan uitkom nie. Gee ’n paar weke kans tot die meeste van die wurms opgetrek het voor jy die kompos in die middelste houer in jou tuin gebruik. Ruil nou die twee houers om sodat die houer in die middel die houer is waarin jou wurms woel.

6. Vertroetel jou wurms

Erdwurms het verkieslik elke dag vars kos nodig. Wanneer jy met vakansie gaan, gooi heelwat kos bo-op jou hoop sodat hulle kan aanhou eet; as jy vir langer as drie weke weggaan, vra iemand om een maal ’n week jou erdwurms te voer. Of los hulle net om deur die hoop te werk en eiers te lê; maak dan die hoop weer klam wanneer jy terug is en gooi vars materiaal by. Die eiers sal gou uitbroei en vir nuwe lewe sorg! Wurms sal gou vermeerder as daar baie afval is, en weer verminder as die kos minder word.

Eksperimenteer met ’n miniwurmplasie: Gebruik ’n emmer, ’n ou bord as deksel en ’n sopbord vir die wurmtee.

7. Wat's op die spyskaart?

JA

  • Skille, veral piesangskille
  • Slaaiblare en rou groente, maar nie te veel waterryke vrugte soos waatlemoen op een slag nie
  • Teesakkies en koffiemoer
  • Fyngedrukte eierdoppe
  • Kruie, maar kap die harde stukkies fyn

NEE

  • Brood (dit lok muise)
  • Sitrusvrugte, knoffel, rissies en uie (hulle hou nie van skerp geure nie)
  • Vleis – rou of gaar
  • Suiwelprodukte

8. Gebruike

Wurmkompos

Meng jou wurmkompos met ’n bietjie tuingrond of riviersand en plant saailinge daarin of gebruik dit as ’n komposaanvulling in jou tuin. Meng dit ook met die grond waarin jy ’n nuwe potplant wil plant.

Wurmtee

Gebruik die erdwurmtee wat jy in die onderste houer opvang as plantvoeding. As jy die wurmkompos met jou hand druk, behoort daar net ’n paar druppels wurmtee uit te drup. As jy te veel tee het, is jou hoop te nat. As die voggehalte in jou plaas reg is, behoort die afloop ’n teekleur te wees, vandaar die naam

KONTAKTE