Foto's Henrique Wilding

WIE WOON HIER?
Saffron en Niel de la Rouviere en hul dogter, Rose (3)
WAAR Houtbaai, Kaapstad

“Ek was nog altyd lief vir plante,” vertel Saffron de la Rouviere wat, toe sy laas getel het, 450 plante in haar huis en kweekhuis gehad het.

“My ma was ’n ywerige tuinier en ek het haar van kleins af dopgehou terwyl sy in die tuin werk. In my vroeë twintigs het ek deur ’n vetplantgier gegaan, maar met die droogte in 2017 het ek besluit om binne eerder as buite tuin te maak. Ek het gesukkel om my tuin aan die lewe te hou, terwyl die enkele huisplante wat ek toe gehad het, my kalm en rustig laat voel het. Dit was vir my ’n toevlugsoord uit die droogte.”

Saffron se eerste huisplant was ’n klein geraamteplant. “Toe ons na ons nuwe huis trek, het dit net fantasties begin groei en ’n fokuspunt in die huis geword. Al wat dit nodig gehad het, was ’n verandering van lig en posisie. Dié huis het ’n trap en ek het gedink hoe mooi dit sal lyk as ek plante al met die trappe langs neersit. Ek was gefassineer met al die moontlikhede met die verskillende blare, kleure en vorms en kon nie wag om ’n huis vol plante te hê nie,” gesels sy. 

Buiten die plante in die huis het sy ook ’n kweekhuis waar sy plante vertroetel en die aankope vir haar plantklub hou. “Ek het in die grendeltyd ’n behoefte gehad om meer direk betrokke te raak by die huisplantgemeenskap wat op sosiale media aktief is. Toe kry ek die idee van ’n plantklub wat amper soos ’n boekklub werk,” vertel sy, en verduidelik: “Lede ontvang elke maand ’n bepaalde plant wat ons kan bespreek en saam meer oor kan leer.”

Saffron stuur nou maandeliks aan elke lid ’n boks met ’n plant, aanwysings vir die versorging daarvan, en ’n verwante item soos ’n plantpot, ’n grondmengsel of selfs ’n botaniese kunswerk. “Die inhoud van die boks is vir hulle ’n verrassing. Dis groot pret om die boks bymekaar te sit, en op dié manier stel ek ook maatskappye wat plantbenodigdhede verskaf aan lede bekend. Om plante te versamel, is aansteeklik. Daar is so baie, dit voel vir my daar’s altyd nog een om by te voeg. Met die plantklub kan ek dit met ander mense deel.”

Saffron en Rose aan die werk in die kweekhuis, wat voorheen ’n binnehof was. Omdat dit hier soveel warmer word as in die huis, word dié plante drie keer per week natgemaak met ’n besproeiingstelsel wat reënwater uit tenks gebruik. 

Peperomia argyreia

[Saffron se gunstelinge]

Monstera adansonii Dis wonderlik om te sien hoe vinnig dié plant groei; en elke blaar wat verskyn, is uniek! 

Calathea orbifolia Dit was my eerste Calathea en ek is gewaarsku dat dit baie moeilik is om aan die lewe te hou. Die plant het al onder witluise deurgeloop, en soms word die blare se rande droog. Tog, elke keer wanneer ek dit terugsny, groei dit net nog mooier as die vorige keer uit.

Anthurium clarinervium Ek hou baie van die vorm en tekstuur van hierdie plant. Die hartvormige blare en prominente are is pragtig. Dit is ook redelik maklik om te versorg, wat dit ’n groot vreugde maak. 

Monstera deliciosa ‘Variegata’ Dié buitengewone plant is tans baie gewild. Ek is gek daarna! Met elke blaar wat uitkom, weet jy nie wat jy gaan kry nie. Selfs die stingels is veelkleurig.

Peperomia argyreia Met blare wat kompleet soos klein ronde waatlemoentjies lyk, word dit die waatlemoen-Peperomia genoem. Die plant vermeerder maklik deurdat jy net ’n halwe blaar in die grond druk – iets wat my geweldig fassineer. 

Monstera adansonii

Calathea orbifolia

Anthurium clarinervium

Monstera deliciosa ‘Variegata’

Alocasia amazonica

Water-Woensdae 

Elke Woensdag gaan Saffron haar huisplante na om te kyk watter plante het water nodig en watter nie. Dit neem haar sowat ’n uur om die plante in die huis deur te werk en nat te gooi. Dié wat water nodig het (gewoonlik sowat 70%), gooi sy met ’n gieter nat. Dié wat nog nat genoeg is, moet wag tot die volgende Woensdag. Plante wat meer gereeld water vereis, sit sy neer waar sy dit maklik kan dophou, soos in haar badkamer, bo haar bed of op haar bedkassie. 

Sommige mense is verwonderd oor al die huisplante wanneer hulle hier kom; ander wil weet of ek te min plek in my tuin het. – Saffron

Só verseker jy jou huisplante vertoon op hul beste

WAT JY NODIG HET ’n Gieter, tuingrafie, planthouers waarin jy die plastiekpotte kan sit om dit mooier te laat lyk, voorkomende spuitstowwe (verkieslik organies), tou vir plante wat opgelei moet word, en natuurlik plante van jou keuse.

PLANTKEUSE Verskillende plante het verskillende behoeftes wat lig, water en versorging betref – dis raadsaam dat jy vooraf meer oor ’n plant lees en seker maak dit is geskik vir jou omstandighede. Indien jy min tuis is, moenie ’n plant soos ’n nooienshaarvaring kies wat elke tweede dag natgemaak moet word nie; oorweeg liewer ’n waterwys staatmaker soos die inheemse katstert (Asparagus densiflorus). Maklike plante om mee te begin, is die geraamteplant (Monstera deliciosa), Philodendron scandens en die ZZ-plant (Zamioculcas zamiifolia).

GROND Tropiese plante hou van klonterige, belugte grond. Dit verseker genoeg spasie rondom die wortels sodat water nie in die grond vasgevang word en die wortels laat vrot nie. Maak jou eie grondmengsel met 50% potplantgrond, 20% bas of vermikuliet, 20% perliet en 10% Leca (klei-aggregaat). Die meeste tuiniers pas so ’n mengsel met verloop van tyd aan volgens hul behoeftes.

POSISIE Hou die plant van jou keuse se bepaalde ligbehoeftes in gedagte wanneer jy ’n staanplek in die huis kies. Sommige plante het helder lig nodig, ander verkies weer minder lig. “As jou plant nie die regte hoeveelheid lig kry nie, sal dit nie goed groei nie – maak nie saak hoeveel bemesting jy dit gee nie!” sê Saffron. Die hoogte van die plant en of dit rank of nie, sal ook bepaal waar jy dit neersit.

WATER Wees versigtig om huisplante te veel water te gee. Die ekstra water word in die grond vasgevang en oorbenat die plant. Toets deur jou vinger of ’n stokkie in die grond te druk. Die reël is: Kompakte grond het minder water nodig; goed belugte grond kan meer kry. Jy kan kompakte grond belug deur ’n eetstokkie in die grond te druk en dit te wikkel. Dit skep spasies tussen die grond-partikels, wat die beweging van water na die wortels aanmoedig. Terracottapotte is ’n goeie keuse omdat dit water uit die grond absorbeer. Die lig waarin die plant groei, het ook ’n invloed op sy waterbehoeftes: Hoe meer lig, hoe meer verdamping vind plaas. Plante wat in min lig groei, het meestal minder water nodig.

VERSORGING Wanneer jy ’n huisplant koop is daar gewoonlik genoeg kunsmis en organiese materiaal in die grond wat mettertyd  afbreek en deur die plant opgeneem word. Dit is dus nie nodig om van dag een af die plant te voed nie; doen dit ná sowat ’n jaar. Die beste tyd om plante te bemes is in die groeiseisoen (die somer in koue dele van die land; heeljaar in dele met matige winters). Kies bemesting wat by jou plant se behoeftes pas. Plante kan ’n groter pot nodig hê wanneer dit merkbaar groter geword het. Kies altyd ’n pot wat net een potgrootte groter as die huidige een is om dit in oor te plant – dit keer dat die wortels skielik te veel groeispasie het en daar te veel ekstra grond is waarin onnodige water kan versamel.  

VERMEERDER Baie huisplante groei van steggies of vorm self klein plante aan die moederplant. Maak dié babaplante versigtig los en plant dit in ’n kleiner pot. Vir steggies, sny ’n takkie van sowat 5 cm onder ’n stingelknoop af. Wag sowat 12 uur dat die “wond” kan genees voor jy dit in water sit om wortels te vorm, anders kan dit vrot. Vervang die water elke paar dae. Plant dit in ’n pot sodra die steggie meer as drie wortels van sowat 5 cm lank het.

STAL UIT Maak jou werk minder en stal plante met dieselfde behoeftes saam uit. ’n Verskeidenheid varings op een plek werk goed, want hulle kort min of meer dieselfde hoeveelheid lig en water. Kombineer plante met kontrasterende blare, byvoorbeeld ’n plant met ’n veelkleurige blaar langs een met ’n donkergroen blaar. Die potte wat jy kies, is ook belangrik. As die potte bymekaar pas, maak dit nie soveel saak hoe die plante lyk nie, dit sal steeds ’n mooi prentjie skep. ’n Versameling helderkleurige potte skep weer ’n heeltemal ander voorkoms. Of sit ’n pot in ’n kontrasterende kleur op ’n geverfde tafel of rak. Dit sal dadelik die oog vang! 

Op die bedkassie: Pannekoekplant (Pilea peperomioides)

Begonia corallina ‘Tamaya’

Varings soos Davallia trichomanoides (agter) en Asparagus densiflorus (voor) hou ook van ’n lekker stort! Gelukkig het hulle ’n groot stort, sê Saffron, daarom is die plante nie in die pad nie.