Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WERF, YARD, watertank, rain

Hou jy van dié tenk? Kyk dan ook na RainQueen Tanks se opsies vir ’n pure plaasgevoel.

TENK #1

Wys jou staal

Mooi genoeg vir die voortuin!

Hoewel ’n staaltenk aansienlik duurder as ’n watertenk van tipiese poliëtileenplastiek is, was dit die kontemporêre en estetiese voorkoms wat Wilhelm van der Hoven en Waldimar Pelser oortuig het om hul hande ’n bietjie dieper in hul sak te steek. Die 4 000-liter-tenk met sy smal ontwerp van Aquadam was boonop ideaal vir hul knap erf in die Kaapse middestad. “Die kleur werk goed en dit pas by die huis,” vertel Wilhelm. “Ons is mal daaroor net soos dit is en daarom probeer ons dit nie wegsteek nie. Die bougainvillea se kleure komplementeer boonop die grys.”

Dit was wel ’n uitdaging om die staaltenk in die erf te kry, want anders as ’n plastiektenk, wat veerlig is wanneer dit leeg is, is staal baie swaar. Met heelwat moeite en vele hande het die tenk dit uiteindelik oor die motorhuis se dak tot binne-in die erf gemaak. Wilhelm en Waldimar gebruik die tenk tans vir die tuin en ander buitedoeleindes, maar wil dit later met die huis se watertoevoer verbind.

Hoekom staal?

Volgens Aquadam hou ’n staaltenk talle voordele in:

• Staal is 100% UV-bestand en sal dus nie oor die jare in die son verniel en sodoende sy sterkte of kleur verloor nie.

• Staal sit nie uit weens die krag van die water binne-in nie.

• Dit is baie mooier as poliëtileenplastiek en daarom dikwels argitekte se eerste keuse by nuwe huisontwerpe.

• Die aanwending van ’n addisionele langlewe-polimeerlaag aan die binnekant van die tenk se wande en basis sal die groei van alge en bakterieë, asook verwering van die tenk, voorkom.

venter, kimberley, water lillies, collections

TENK #2

Toegerank

Kul jou hier, kul jou daar – en siedaar!

Vir die natuurlikste en groenste voorkoms, roep Moeder Natuur se hulp in met ’n rankplant. Dié tenk word slim versteek deur ’n Boston-klimop (Parthenocissus tricuspidata). Om seker te maak die klimop klou, draai die tenk toe in ogiesdraad of Tremnet-plastieknet van Trempak. Ander rank-opsies sluit in: lemoenbloeisel-klimop (Clematis brachiata), sterjasmyn (Jasminum multipartitum), blomklimop (Senecio macroglossus) en natuurlik die immergewilde swartoognooi (Thunbergia alata). Onthou, al dié plante moet gestut word, hetsy deur traliewerk of deur ’n paar kabels te span waaraan takkies vasgemaak kan word.

YARD, water tank, artificial grass, planter box,fr

TENK #3

Drie in een

Dié tenk is deel van die argitektuur. Madeleine en Johan Smuts se vakansiehuis op Vleesbaai spog met ’n watertoring met ’n driedubbele doel: Dit versterk die plaasgevoel van hul huis, huisves ’n watertenk in die boonste deel en onder spog dit met ’n stort waar hulle hul sandlywe kan afspoel – baie slim! Die hele gedoente is met sinkplaat bedek vir ’n treffende en naatlose voorkoms.

TENK #4

Natuurlik en aards

Dis toe glad nie so lelik as wat verwag is nie! Aangesien Linda Pietersen gereeld gaste van oorsee in haar huis ontvang (sy en haar man, Sybrand Mostert, reis dikwels en ruil dan huise met oorsese besoekers) was watersekerheid ’n moet, veral toe die Kaapse droogte begin knel. “Nuus van Dag Zero was wyd bekend en oorsese besoekers wou seker wees hulle sit nie sonder water tydens hul vakansie nie,” vertel sy. ’n Watertenk was dus ’n moet, maar Linda het een vereiste gehad: Sy wou glad nie die tenk sien as sy by enigeen van haar huis se vensters of deure uitkyk nie! ’n Stegie in die agterplaas was die ideale plek vir die smal, regop 3000-liter-tenk van Ecohort Projects.

Hoewel Linda aanvanklik na verskeie opsies vir skerms gekyk het om die tenk mee te bedek, was die eindproduk glad nie so lelik as wat sy gedink het nie. “Die tenk pas perfek in en smelt saam met die omgewing,” vertel sy. “Dis toe nie so ’n seeroog soos ek verwag het nie en die pype sal boonop slim agter die klimop versteek word wanneer dit heeltemal toegegroei het. Ons is baie tevrede met hoe die tenk lyk.”

Die tenkwater word tans vir die swembad en tuin gebruik, maar is ook aan die stort gekoppel indien dit nodig sou word – dis net nie met ’n verhittingstelsel verbind nie.

YARD, water tank, artificial grass, planter box,fr
YARD, water tank, artificial grass, planter box,fr

TENK #5

Marokkaanse geur

Versier die tenk en steek die pomp weg agter ’n struik.

Die voortuin is dalk nie die eerste keuse vir ’n watertenk nie, maar Tuis se kosredakteur, Johané Neilson, en haar man, Allister, het geen ander keuse gehad nie. “Dit was waar ons die meeste water kon opvang sonder om onooglike afvoerpype oral aan te bring,” vertel Johané. Die Neilsons het op ’n 500-liter-tenk van Nel Tanks besluit – dis smaller as ander opsies en was ook te kry in grys, wat by die kleur van hul huis pas.

Aangesien Johané en Allister lief is vir ’n mooi patroon, het hulle dekoratiewe vinielplakkers by Protec Signs laat maak en bo-aan die tenk aangebring. “Ons het twee wit stroke gekies wat die witgeverfde rande om die vensters en voordeur herhaal. Dit pas ook by die geometriese ontwerp van ons veiligheidshek en patroonteëls in die voortuintjie,” vertel Johané. Die plakkers het maar R300 gekos en hulle is mal oor die resultaat.

Ek hou van die idee dat die motief amper soos ’n blommetjie lyk – dit pas mos by ’n watertenk. – Johané

Die tenkwater word tans gebruik om toilette te spoel en kan, indien nodig, ook na die wasmasjien herlei word. Later wil hulle dit vir besproeiing aanwend. Die Neilsons beoog om nog ’n 500-liter-tenk te kry om die oorvloeiwater op te vang. En hoewel twee 500-liter-tenks duurder uitwerk as ’n vet 1000-liter-tenk, lyk dit net soveel beter.

YARD, water tank, artificial grass, planter box,fr

TENK #6

’n Latskerm kan selfs ’n aanwins in die tuin wees Houtlatte is seker een van die maklikste maniere om ’n watertenk te verbloem en boonop spotgoedkoop. Maak sommer ’n fokuspunt daarvan deur die latte af te wit en deel van die tuindekor te maak. 

VERSKAFFERS

Aquadam 086 100 1010

Ecohort Projects 084 455 1007

Nel Tanks 021 905 1395

Protec Signs 060 688 7404

RainQueen Tanks 083 639 9576

Trempak 011 452 3268