Marié vertel: “Ná my besoek in Mei vanjaar aan die Chelsea-blomskou in Londen was ek geïnspireer deur BBC Radio 2 se vyf goedvoel-tuine. Dié tuine was daarop gemik om die sintuie te prikkel en sodoende besoekers gelukkiger, kalmer en meer positief oor die wêreld te maak. “Ons het vier van Tuis se gereelde ontwerpers gevra om elk van dié temas op ’n Suid-Afrikaanse manier te interpreteer. Hulle het vyf sintuigtuine geteken wat by ons klimaat en omstandighede pas.”

Die Chelsea-klanktuin.

Skets: Neville Orsmond

Ontwerp #1
  • Ontwerper: Neville Orsmond van Create a Landscape Garden Design Group
  • Grootte: 15 x 6,5 m
  • Son tot skaduwee

1. Klanktuin

In dié ontwerp het Neville verskeie elemente gekombineer wat lieflik op die oor sal val!

  • Mense kan klank in ’n tuin voortbring – nie net deur hul stemme nie, maar ook wanneer hulle loop. Die gruisklippies in die paadjie maak ’n lekker knarsgeluid wanneer jy daarop trap.
  • Die klank van kabbelende water het ’n wonderlik kalmerende uitwerking op ’n mens en dié stroom met sy natuurlike voorkoms doen presies dit. Met klein, vlak uitklimplekke is dit boonop paddavriendelik! Die klank van paddas bring snags lewe in jou tuin en maak jou bewus van die kontras tussen die klanke van die dag en die nag. Daar is ’n fontein op elke punt van die stroom wat vir nog meer klank en ekstra visuele effek sorg.
  • Diere en voëls skep ook klank. Voëls is lief vir laventelbome se saad – plant hulle in ’n laning al met die stroompie langs. Die dak wat die koorsbome vorm, gee die voëls ’n veilige omgewing om in te baljaar, en met sitplek daar naby kan jy nader met hulle kennis maak! Die blouheuningklokkiesbos lok bye, wat ’n ekstra klankelement in die tuin bring.
  • As jy die regte plante kies, sal dit bydra tot die klankspel. Dink aan die geluid van wind in die bome of ornamentele grasse wat ritsel as daar ’n luggie trek.
  • Vir ’n ekstra klankelement of twee hang Neville windklokkies in die bome en stel hy ’n vuurput in die kuierdeel voor. Wie kan nou die geknetter van ’n vuurtjie ná ’n lang dag in die kantoor weerstaan?
Vir ’n riviertjie het jy ’n langwerpige tuinontwerp nodig. Bome teen die grens sal klank van buite verbloem. – Neville

Plantlys
  1. Laventelboom (Heteropyxis natalensis)
  2. Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis)
  3. Skindersalie (Plectranthus verticillatus)
  4. Blouheuningklokkiesbos (Freylinia tropica)
  5. Vuurpyl (Kniphofia praecox)
  6. Biesie (Juncus effusus)
  7. Koorsboom (Vachellia xanthophloea)
  8. Wildelobelia (Lobelia anceps)
  9. Besembossie (Gomphostigma virgatum)
  10. Aronskelk (Zantedeschia aethiopica)
  11. Dekriet (Chondropetalum tectorum)
  12. Dwergbiesie (Cyperus prolifer)
  13. Aasbossie (Coleonema album)


Die Chelsea-proetuin.

'n Proetuin. Skets: Jaco Brand
Ontwerp #2
  • Ontwerper: Jaco Brand van Picardi Place
  • Grootte: 1,2 m hoog, 3 m breed en 5 m lank
  • Volson

2. Proetuin

Wat is lekkerder as kraakvars organiese groente? Dié spiraalvormige groentetuin is perfek vir ’n klein ruimte. Dit kan selfs op ’n dak of ’n geplaveide deel gemaak word – los dan net die kamillegrasperk uit, sê Jaco.

  • Kies ’n sonnige hoekie wat minstens 6 uur son per dag kry. Bou die spiraal met skanskorwe (draadmandjies waarin klip gepak is), bakstene of klip en vul die spiraal met komposryke grond. Moenie die spiraal te breed maak nie – jy moet by die groente kan uitkom wanneer jy langs die spiraal staan.
  • Plant laer groeiende groente in die buitenste sirkel van die spiraal sodat jy by die binneste spiraal kan bykom vir pluk. Plant roosmaryn heel bo en snoei dit in ’n interessante vorm.
  • Installeer drup- of sprinkelbesproeiing wat net die spiraaltuin natmaak sodat geen water vermors word nie.
  • Maak voorsiening vir ’n dammetjie in die ontwerp om lewe na jou spiraaltuin te lok. Dit is ook die perfekte plek om bronkors te plant.
  • Plant ’n kamillegrasperk reg rondom jou spiraaltuin. Terwyl jy jou groente en kruie pluk, geniet jy sommer die heerlike geur van dié grasperk!
Plantlys
  1. Spinasie
  2. Sitroentiemie (Thymus citriodorus)
  3. Origanum (Origanum vulgare ‘Aureum’)
  4. Pers opaalbasiliekruid (Ocimum basilicum ‘Purpurascens’)
  5. Grasuie (Allium schoenoprasum)
  6. Mosterdslaai (Eruca vesicaria)
  7. Aarbeie
  8. Basiliekruid (Ocimum basilicum)
  9. Roosmaryn (Rosmarinus officinalis)
  10. Knoffel
  11. Bronkors in die dammetjie (Nasturtium officinale)
  12. Sitroengras (Cymbopogan citratus)
  13. Wortels
  14. Beet
  15. Preie en uie
  16. Blaarslaai in verskillende kleure
  17. Kamillegrasperk (Anthemis nobilis)

Die Chelsea-tekstuurtuin.
'n Tekstuurtuin. Skets: Petro Jacobs
Ontwerp #3
  • Ontwerper: Petro Jacobs van Petro Landscaping
  • Grootte: 10 x 6 m
  • Volson

3. Tekstuurtuin

Deur verskillende teksture te kombineer, kan jy nie anders as om te wil voel en vat nie – soos in Petro se tekstuurtuin. Selfs die potte en loopoppervlakke speel ’n rol hier.

  • ’n Skanskorfmuurtjie vorm ’n ruwe rugkant vir die waterfokuspunt. As jy van die geluid van water hou, installeer ’n koper- of staalspuit in die mandjie. Omraam die fokuspunt met ’n randteël van jou keuse.
  • ’n Dek van duursame hout wat wind en weer kan trotseer word aan weerskante met waterpeerbome afgerond om later ’n deurvlegte heining te vorm vir privaatheid. Pak groot klippe onder die bome met spasies tussenin waarin grondbedekkers geplant kan word. Dit skep ’n dramatiese tekstuurkontras met die klip (maak net seker die grondbedekker oorgroei nie die klip nie).
  • Kleiner gruisklippies van 13 mm kontrasteer met die hout van die dek en die growwer en groter klip in die skanskorwe. Gooi dit op geotekstiel sodat onkruid nie deur die klippies groei nie.
  • Hou die deurloop-bedding minimalisties. Plaas hier drie vierkantige potte (ongeveer 60 x 60 x 70 cm) met ’n gladde tekstuur. Plant aalwyne in die potte en rond dit af met gladde wit rivierklippe rondom die stamme. Beplant die bedding met ’n massa swenkgras. Deur net twee soorte plante met verskillende teksture hier te gebruik, skep jy ’n gevoel van ruimte en die sagte tekstuur van die swenkgras kontrasteer mooi met die klippies, potte en houtdek. Skep gemaklike loopplek met drie groot houtskoolkleurige plaveiblokke (100 x 50 cm).
  • Vierkantige houtskoolkleurige plaveiblokke van 50 x 50 cm tussen gruisklippies vorm die reguit paadjie.
  • In die bedding langsaan groei plante los en informeel, buiten die grootnoem-noem wat ’n heining aan die een kant vorm. Gebruik woestynrosies langs die rande vir ’n growwe tekstuur en om die bedding te definieer. Ornamentele grasse speel ’n belangrike rol om tekstuurkontras te skep. Die sagtheid van die grasse, die mooi sade en die beweging daarvan in die wind kontrasteer met die ander struike wat meer strak is.
PLANTLYS

  1. Waterpeer (Syzygium guineense)
  2. Grootnoem-noem (Carissa macrocarpa)
  3. Fonteingras (Pennisetum setaceum ‘Rubrum’)
  4. Kooigoed (Helichrysum petiolare)
  5. Besemgras (Aristida junciformis)
  6. Plakkies (Crassula ovata)
  7. Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae)
  8. Swenkgras (Festuca glauca)
  9. Woestynrose (Echeveria elegans)
  10. Tolbos (Leucadendron salignum)
  11. Bitteraalwyn (Aloe ferox) of enige aalwyn van jou keuse
  12. Koreaanse gras (Zoysia tenuifolia) of kies dwergmondogras (Ophiopogon japonicus ‘Kyoto’) of Australiese viooltjie (Viola hederacea)


Die Chelsea-geurtuin.

Die geurtuin. Skets: Pietman Diener
Ontwerp #4
  • Ontwerp: Pietman Diener, tuinontwerper van Stellenbosch
  • Grootte: 8 x 8 m
  • Volson

4. Geurtuin

Wie kan nou ’n lekkerruiktuin weerstaan? Veral as die geure goeie herinneringe bring.

  • Jy stap Pietman se geurtuin binne met ’n smal paadjie langs wat tussen twee vormgesnoeide lourierbome deur loop. Jy moet letterlik by die bome verbyskuur sodat jy die heerlike geur van die twee aromatiese bome kan ruik. Die paadjie is van klip, met tiemie en polei wat tussen-in groei. Albei dié plante en die roosmaryn wat tot teen die paadjie groei, stel hul geur vry elke keer dat jy daarop trap.
  • Die paadjie lei na ’n sirkelvormige grasperk van kamille, wat met dieselfde tipe klip as dié van die paadjie omraam word. Aan die oorkant is ’n bank van klip met ’n prieel bo-oor. Die sitplek van die bank is ook met polei beplant. Die prieel word aan drie kante toegerank met ’n kombinasie van jasmyn, kanferfoelie en ’n geurige roos. In die middel van die kamillegrasperk is ’n vuurput. Die reuk van rook in ’n mooi tuin is gesellig. As alternatief vir die vuurput stel Pietman ’n dammetjie voor waarin waterblommetjies en waterlelies met hul soet geur groei.
  • In die vier hoeke van die tuin is geurbome.
  • Voorlangs en al met die rand van die kamillegrasperk groei geurblomme wat ook goeie plukblomme is. Dit sal nie net in jou geurtuin lekker ruik nie, maar ook in die huis. Pluk en geniet dit!
  • ’n Digte struikboskaas van geurige struike omraam die tuin.
PLANTLYS

1. Geurblomme om te pluk

  • Laventel (Lavandula intermedia ‘Grosso’)
  • Roosmaryn (Rosmarinus officinalis ‘Prostratus’)
  • Narsings (Narcissus-hibriede)
  • Tuinheliotrope (Heliotropium arborescens)
  • Wildemalva (Pelargonium graveolens)
  • Salie (Salvia clevelandii)
  • Sint Josefslelie (Lilium longiflorum)
  • Kammetjie (Freesia-hibriede)
  • Rose soos ‘Double Delight’, ‘Ambridge Rose’ of ‘Duftwolke’

2. Geurige grondbedekkers

  • Tiemie (Thymus vulgaris)
  • Polei (Mentha pulegium)
  • Kamille (Anthemis nobilis)

3. Vir die digte struikboskaas

  • Oranjejasmyn (Murraya exotica)
  • Verbleikblom (Brunfelsia pauciflora ‘Floribunda’)
  • Bruidsbos (Pavetta lanceolata)
  • Bergboegoe (Agathosma ciliaris)
  • Keurtjie (Podalyria calyptrata)
  • Mexikaanse lemoenbloeisel (Choisya ternata)
  • Rondeletia (Rondeletia amoena)
  • Katjiepiering (Gardenia augusta)
  • Geurige rose wat in die bome opgroei soos ‘Perfumed Breeze’, ‘Gu¨lilah’, ‘Mme Alfred Carrière’ en ‘Wedding Garland’

4. Lekkerruikbome vir die vier hoeke

  • Saliehout (Buddleja salviifolia)
  • Maanblom (Brugmansia x candida)
  • Frangipani (Plumeria rubra)
  • Nartjie (Citrus reticulata)

5. By die ingang

  • Lourier (Laurus nobilis)
Die Chelsea-sigtuin.
Die sigtuin. Skets: Pietman Diener
Ontwerp #5
  • Ontwerper: Pietman Diener, tuinontwerper van Stellenbosch
  • Grootte: 10 x 10 m
  • Volson

5. Sigtuin

Pietman het ’n eenvoudige, klassieke ontwerp gebruik vir struktuur. Maar jy sal hou van wat jy sien – en weer wil kyk en begin pluk!

  • Die sigtuin word omraam met ’n hoë, immergroen heining van inheemse spekboom. Die plant met sy fyn blaartjies is heeljaar mooi. In die spekboomheining is twee banke staangemaak. Spieëls agter die banke versterk die sigwaarde van die tuin en gee ook ’n gevoel van ruimte.
  • ’n Paadjie van gruisklippies loop reg rondom die bedding sodat jy dit van alle kante af kan bekyk.
  • Die bedding in die middel word met heinings verdeel in ’n geometriese struktuur van driehoeke en vierkante waarin plante met mooi blomkleure en -vorms groei. Kombineer blomme met lang stele en ’n interessante sambreel-, klok- of ronde voorkoms. Mooi blaarvorms en -kleure, treffende kleurkombinasies, “deursigtige” plante, verskillende blomteksture en saadhofies aan die einde van die blomseisoen dra als by tot ’n mooi vertoning. Danksy die seisoenale verskeidenheid is daar altyd iets om na te kyk. Die los en informele voorkoms van die plante kontrasteer met die soliede en gestruktureerde voorkoms van die heinings tussenin.
  • Duinekraaibessie is gekies vir die heinings, wat almal ewe breed is – snoei dit in interessante, golwende patrone. Dit skep ’n mooi agtergrond waarteen die verskillende plante en kombinasies gesien kan word.
Dis nie net blomme wat sigwaarde in ’n tuin het nie. Dink ook aan loofplante, interessante heinings en ’n tierlantyntjie of twee! – Pietman
PLANTLYS

Vir die heinings

  1. Spekboom (Portulacaria afra) vir die hoë heinings buiteom
  2. Duinekraaibessie (Searsia crenata) vir die lae heinings

Vir die beddings in die blokke

  1. Persbesem (Polygala virgata), engelvlerkies (Oenothera lindheimeri), koringblommetjie (Scabiosa africana)
  2. Vinkel (Foeniculum vulgare),
  3. Perovskia atriplicifolia, duiwel-indie- bos (Nigella damascena), Eragrostis trichoides
  4. Echinacea (Echinacea purpurea), oulandsgras (Eragrostis curvula), lamstert (Verbascum-hibried)
  5. Oulandsgras (Eragrostis curvula), varkoorplakkie (Cotyledon orbiculata), groot grasaalwyn (Aloe cooperi)
  6. Besemgras (Aristida junciformis) en rankkopiva (Bulbine frutescens)
  7. Sint Josefslelie (Lilium longiflorum), lamsoor (Stachys lanata), Ornithogalum longibracteatum sin. Albuca bracteata
  8. Ornithogalum longibracteatum, Eragrostis trichodes, lamstert (Verbascum-hibried)
  9. Eryngium bourgatii, papierblom (Limonium latifolium)
  10. Perswildeknoffel (Tulbaghia violacea), waaierlelie (Crocosmia paniculata) of goueswane (C. masoniorum)
  11. Sonneblom (Helianthus annuus), vingerhoedjie (Digitalis purpurea), oulandsgras (Eragrostis curvula)
  12. Koringblommetjie (Scabiosa africana), Ornithogalum longibracteatum, besemgras (Aristida junciformis)
  13. Varkoorplakkie (Cotyledon orbiculata), vingerhoedjie (Digitalis purpurea), sonneblom (Helianthus annuus)