Foto’s Francois Oberholster, Ed O’Riley, Elske Kritzinger, Elza Cooper en Inge Prins

Rankplante is uiters veelsydig – lei dit teen ’n muur op om ’n gevoel van hoogte in jou tuin te skep, laat dit teen ’n prieel opklim as jy tuinkamers wil afbaken, gebruik dit om harde lyne te versag en onooglike areas te verbloem, of skep lieflike skadu deur dit oor ’n pergola te laat groei. Baie van dié plante kan ook ’n verskeidenheid natuurlewe soos voëls, bye en skoenlappers na jou tuin lok. Party rankers groei egter taamlik stadig. As jy dus op soek is na ’n vinnige oplossing, beproef dié vinnige groeiers wat JJ van Rensburg van Garden World in Johannesburg voorstel ...

Drie vinnige groeiers vir mure

#1 Kruipvy (Ficus pumila)

Dié plant vorder aanvanklik stadig, maar groei later vinniger deur homself aan enige poreuse vertikale oppervlak wat hy kan bykom, te heg. Dit maak ook ’n goeie grondbedekker. Wenk Kruipvy vaar goed in gedeeltelike skadu tot volson. Hou die grond klam (moenie dat dit uitdroog voor jy weer natmaak nie).

#2 Mexikaanse trompetblom (Distictis buccinatorius)

Die geharde, immergroen Mexikaanse trompetblom gebruik hegranke om teen growwe baksteenmure te groei, maar het ’n stut, soos latwerk, nodig as jy dit langs ’n gladde muur wil plant. Dis ook geskik vir heinings, priële en afdakke. Mooi oranje blomme met donker kelke verskyn deur die lente en somer. Wenk Plant in komposryke grond in volson of gedeeltelike skadu. Plant dit liefs in die grond en nie in ’n pot nie, want dit het ’n uitgebreide wortelstelsel.

#3 Virginiese klimop (Parthenocissus quinquefolia)

Dié bladwisselende, selfklouende ranker kan sonder enige stut teen ’n muur groei. Die blomme is nou wel klein en onopsigtelik, maar sy treffende vertoning in die herfs vergoed daarvoor. Dit dra donkerblou bessies wat nie eetbaar is nie. 

Drie vinnige groeiers vir oplei

#1 Bloureën (Wisteria sinensis)

Dié bladwisselende rankplant dra in die lente pienk, wit of laventelkleurige blomme met die lieflikste geur; dit maak veral ’n mooi vertoning wanneer dit oor ’n struktuur soos ’n prieel hang.

Wenk Die plant floreer in ryk leemgrond en al verdra dit skadu goed, sal ’n volwasse bloureën net blom as dit gedeeltelike of volson kry.

#2 Swartoognooi (Thunbergia alata)

Dié sonliewende inheemse ranker is semi-bladwisselend en dra van die somer tot die herfs geel of oranje blomme. Dit kan verskillende soorte grond hanteer, het gemiddelde waterbehoeftes en groei nie so welig soos ander rankers nie.

Wenk Die swartoognooi kan van steggies en saad gekweek word. Saad moet ontkiem binne 10–15 dae nadat dit geplant is. Hou dit vir die eerste ses weke in die huis en plant dit dan buite uit. 

#3 Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

Dié geharde, immergroen ranker groei om kleiner pilare, metaalwerk of houtpale, maar kan ook vir grondbedekking geplant word. Dit gedy in goed gedreineerde, komposryke grond, en sal jou van die lente tot vroeg-somer beloon met ’n pragtige vertoning van geurige wit blomme.  

Sterjasmyn kan in volson of gedeeltelike skadu groei en moet teen uitdrogende wind beskut word.

Kweekwenke

 • Rankplante kan ewe goed vaar in die grond as in ’n groot pot. Maak net van meet af seker jou pot is groot genoeg. ’n Bloureën het ’n groot, breë pot nodig, terwyl kompakte rankers soos ’n swartoognooi in ’n kleiner pot sal gedy.

• Party rankers, soos sterjasmyn, kan van steggies gekweek word. Sit die steggie in potgrond of skoon riviersand, en hou dit in ’n skadukol tot dit goed gevestig is. Plant oor in ’n groter pot sodra jy die wortels deur die dreineringsgate kan sien. Wag tot die steggie sowat 20 cm hoog staan en plant dit dan in die tuin uit.

• Rankplante het ’n goed voorbereide gat nodig: Grawe ’n gat van 50 x 50 cm, meng ’n derde van die grond wat jy uitgegrawe het met kompos en ’n hand vol beenmeel en vul die gat weer op. Plant jou ranker en maak goed nat. Voed jaarliks met kunsmis.

• Maak seker jou plant staan minstens 30 cm weg van ’n struktuur sodat die wortels genoeg ruimte het om te ontwikkel, nie jou mure beskadig nie en om seker te maak die plant sal aan genoeg sonlig en reën blootgestel word.

• Moet liefs nie toelaat dat ’n ywerige ranker soos bloureën by ander bome of plante inrank nie. Al lyk dit hoe mooi wanneer dit blom, sal dit die ander boom of struik mettertyd oorgroei. ’n Minder ywerige groeier soos ’n roos of sterjasmyn sal weer pragtig lyk as dit teen ’n boom oprank.

• Die meeste rankplante moet van tyd tot tyd gesnoei word. Doen ’n bietjie navorsing oor wanneer en hoeveel om te snoei, want dit wissel van plant tot plant.

Immergroen rankers is netjieser omdat hulle nie blare afgooi nie, maar kies ’n bladwisselende plant as jy wil hê die winterson moet ’n bietjie warmte op jou koue stoep verskaf.

Oorweeg meer as een ranker as jy ’n groot muur wil bedek.

• Omdat rankers nie die voordeel van digte blaargroei aan die onderkant het nie, moet jy seker maak dat daar ’n goeie deklaag van kompos, perskepitte of ’n meerjarige grondbedekker is. 

• As jou ranker sukkel om te groei, kan die rede daarvoor swak grond of planttegnieke, of onvoldoende water of sonlig wees.

Wat is die verskil tussen ’n ranker en ’n kruipplant?

’n Rankplant kan teen ’n struktuur opgelei word, terwyl kruipplante grondlangs groei, verduidelik Nick Stodel, die besturende direkteur van Stodels Nurseries. Kruipplante het baie tenger stele wat nie regop kan staan nie, soos waatlemoen en pampoen.

Só klou ’n ranker

Rankplante heg op verskillende maniere aan ’n oppervlak:

• Party het hegranke aan weerskante van hul blare of stele wat uitreik totdat dit in kontak kom met ’n struktuur waaraan dit kan vassit.

• Rankers met skyfvormige suiertjies aan hul rankies “sit vas” aan die oppervlak waarteen dit groei. As dit nie ’n vertikale stut het nie, sal dit sywaarts groei.

• Ander vervleg hulle weer – die stele groei om draad, tou, takkies of ander blare (waarmee dit ook al in kontak kom) om hulself mee te stut.

• Klouterplante het lang, buigsame stele wat ’n stut nodig het om te groei. Baie het dorings wat ook help klou.

Bostonse klimop

Rosa ‘Veilchenblau’ (pers), Rosa banksiae (klein geles) en ‘Crème Caramel’ (groot geles)

'Wedding Garland'

Rankrose

Vir mure

Geil rankers soos ‘Butterscotch’, ‘Crème Caramel’, ‘Leaping Salmon’, ‘Wedding Garland’ en ‘Pink Cloud’ kan ’n muur binne ’n seisoen toegroei, mits dit ’n stut soos traliewerk het en stewig vasgemaak is. Jy kan ’n terras ook versag met ’n roos soos ‘My Granny’; dit het ’n pragtige, tuimelende groeiwyse en blom in oorvloed.

WENK Plant rose 30–45 cm weg van die muur af. Grawe gate groot en diep, en werk oorgenoeg kompos en ’n hand vol beenmeel in.

'Blossom Magic'

Vir boë

Gebruik ’n boog wat met rose oorgroei is om definisie te verleen aan ’n paadjie of om twee tuinkamers van mekaar te skei. ‘Gold Bunny’, ‘Blossom Magic’, ‘High Hopes’ en die Midinette-reeks is almal goeie opsies.