’n Goeie begin, lui die spreekwoord, is halfpad gewin, en tuingereedskap is geen uitsondering nie. Skaf eers die mees basiese gereedskap aan – die beste wat jy kan bekostig – voordat jy begin droom oor al die ander begeerlike goetertjies op ons wenslys waarmee jy nog ’n paar truuks in die tuin kan uithaal. Hier is ons lysie met die sewe noodsaaklikste werkesels.

1. Spitgraaf

As jy 'n spitgraaf van goeie gehalte koop, hoef jy jou die volgende tien jaar nooit weer daaroor te bekommer nie. Met dié stuk gereedskap kan jy plantgate maak, grond en kompos verskuif, klonte en moeilike grond tem en slote grawe. "Toetsbestuur" 'n graaf voordat jy dit aanskaf. Die handvatsel moet gemaklik in jou handpalm pas en die steel moet lank genoeg wees sodat jou rug nie ná die eerste spitslag begin kerm nie.

Versorging

Verwyder alle grondaanpaksels en druk die lemkant van die graaf in 'n ou emmer vol olie en growwe riviersand. Druk die graaf 'n paar keer in die emmer en trek dit weer uit. Die sand sal dit blinkskoon skuur, terwyl die olie dit teen roes beskerm.

2. Kruiwa

Koop die heel beste een wat jy kan bekostig en julle sal vir jare saamwerk sonder veel stampe, maar met baie stote! Dié met harde wiele sukkel dalk oor party oppervlakke, maar die voordeel is dat jy nie kort-kort met 'n pap band gaan sukkel nie.

Versorging

Keer kruiwaens wat buite moet slaap, om sodat reën en besproeiingswater nie in die bak opdam en dit laat roes nie. Kikker die ou werkesel elke jaar op met 'n vars laag verf.

3. Hark

  • Staalharke is ideaal om klonte grond te breek en beddings gelyk te hark voordat jy begin saai. Dis ook noodsaaklik in moderne kliptuine wat gereeld netjies gehark moet word.
  • Blaarharke se tande is gewoonlik van plastiek of dunner, buigsame staal en in 'n waaier gerangskik sodat jy blare maklik bymekaar kan hark of deklae versprei. Albei soorte sal jou by tuinsentrums en ysterwarewinkels sowat Speel veilig: Hang 'n hark altyd met die rugkant na die muur om te keer dat jy dalk daarop trap en jou voet verskeur (of met 'n blou eier teen die voorkop rondloop).

4. Tuinvurk

'n Stewige tuinvurk is noodsaaklik om komposhope om te keer, wortelgroente te oes en onbewerkte grond deeglik om te dolwe sodat jy 'n plantbedding kan maak Die lang, skerp tande van 'n tuinvurk is dodelik om plante met 'n fyn wortelstelsel, soos naaldbome en teebosse. Dis ook beter om beddings vol onkruid met 'n kleiner handvurkie te takel. Onthou, elke keer as 'n bedding omgevurk word, kom lastige onkruidsade na die oppervlak, waar hulle lug en water kry en vir 'n vale begin ontkiem. Gebruik ook 'n deklaag om onderhoud tot die minimum te beperk.

Versorging

Maak tuinvurke skoon sodra jou tuinwerk klaar is. As hulle 'n tyd lank gaan rus, kan jy die tande met koerantpapier skoonvryf of dit deeglik afspuit. Onthou net om dit weer deeglik droog te vryf. Verf 'n dun lagie olie aan die metaalgedeeltes en smeer die houthandvatsels in met roulynolie om te keer dat dit bars.

5. Spuitkanne

Skaf 'n goeie spuitkan aan om gifstowwe en vloeibare kunsmis toe te dien. Onthou, die sproeikoppies en pompmeganismes is delikaat en breek gou - koop dus net dié van uitstekende gehalte (die prys verklap alles). 'n Spuitkan wat 5 liter hou, kan met gemak met die hand gedra word, maar die groteres moet liefs soos 'n rugsak gedra word.

Versorging

Gooi altyd ongebruikte gif- of kunsmismengsels weg, was die kan deeglik met seepwater uit en spuit 'n paar strale om seker te maak niks aanpaksels bly agter nie.

6. Snoeiskêr

'n Tuinier sonder 'n goeie snoeiskêr is soos 'n kar sonder wiele - koop die beste een op die mark om dun takkies af te knip, rose te snoei, steggies te maak en blomme te pluk. Koop dit by 'n goeie tuinsentrum of ysterwarewinkel wat ook onderdele verkoop en staallemme slyp.

Versorging

Snoeiskêre moet klinies skoongehou word. Wanneer die werk klaar is, moet die lemme met 'n bietjie brandspiritus skoongevryf word. Olie ook gereeld die spiraalmeganisme wat "wip" aan die handvatsels verskaf.

7. Handgereedskap

Tuinvurkies en -grafies is noodsaaklik vir fyner take soos om van onkruid ontslae te raak of gate vir saalinge te maak. Spuitverf gereedskap en handvatsels helderrooi omdat hulle die gewoonte het om tussen plante weg te kruip.