In ’n land waar waterskaarstes en droogtetye ’n werklikheid is, is grasperke ’n kopseer vir baie huishoudings – om ’n grasperk groen te hou, vra baie geduld, en tonne water. As jy graag ’n geil, groen grasperk wil hê wat sag onder die voete is, oorweeg kunsgras. Dit word nie meer net vir gholfbane en sokkervelde gebruik nie, en noudat daar ’n groot verskeidenheid grasse op die mark is wat nes die ware Jakob lyk, maak al hoe meer huiseienaars die skuif.

Ons het by twee huiseienaars, asook ’n paar kenners, gaan aanklop om vir jou die beste raad te gee ... 

Gevallestudie #1 

Nadat dié huis op die Val de Vie-landgoed buite die Paarl in November verlede jaar klaar gebou is, het die eienaars kunsgras laat installeer. Dit was nie hul eerste ervaring met kunsgras nie, en hulle het die taak weer aan Herve Truniger van Easigrass toevertrou.

“By die kliënte se vorige huis was daar ’n stuk grasperk wat in die winter altyd modderig geraak het en in die somer plek-plek gevrek het omdat dit in die skadu was. Nadat hulle daardie probleem-kol met kunsgras vervang het, het die kinders alte lekker daarop gespeel en die min onderhoud het dit net ’n plesier gemaak,” verduidelik Herve.

By hul nuwe huis wou die gesin ’n waterwys tuin hê sonder om die groenigheid van ’n grasperk prys te gee. “Nou lyk die tuin geil, selfs gedurende die huidige waterskaarste.” Met twee kinders onder vier, én twee honde en twee katte, is die kunsgras ’n uitkoms. En danksy ’n basis van stewig gekompakteerde fyngruis maak dit ’n stabiele oppervlak uit waarop die kinders veilig kan speel. 

Het jy geweet?

• Kunsgras is beskikbaar in ’n verskeidenheid skakerings van groen en sommige handelsmerke kom ook in verskillende lengtes, van 8 mm tot 50 mm. Ander, soos die Easi- Kensington-reeks van Easigrass, het selfs kort “dooie” halmpies tussen die groenes vir ’n meer realistiese voorkoms. 

• Die gras se basis het dreineringsgate sodat die grasperk nie oorstroom tydens swaar reënbuie nie. Daarom is dit ’n uitstekende keuse vir patio’s, dekke, balkonne en daktuine waar die water soos normaalweg sal afloop weens die helling van die oppervlak.

• Wat veiligheid en higiëne betref, werk sagte kunsgras goed in speelareas omdat dit nie vlek of modderig raak nie. “Die grasmat self is anti-allergenies, wat dit heeltemal veilig maak vir kinders en troeteldiere,” verduidelik Ayden Shrives, produkbestuurder vir Duraturf-kunsgras by Belgotex Floors.

• Kunsgras van goeie gehalte is ook sagter, wat minder krapmerke of kneus- plekke tydens speletjies veroorsaak. Met gewone grasperke kan die ongelyk oppervlak gevaar inhou vir kinders, maar by kunsgras is die oppervlak stabiel en egalig sê Nikita Young, projekbestuurder by Perfect Grass.

• Kunsgras van goeie gehalte sal nie in die strawwe Suid-Afrikaanse son verbleik nie en die kleur sal ook nie uitwas nie. Maak wel seker van jou waarborg by jou verskaffer en dat die gras behandel is teen skadelike UV- strale van die son. 

ONDERHOUD 

“Kunsgras het baie voordele,” sê Herve Truniger van Easigrass Kaapstad. “Een daar- van is meer tyd om saam met jou gesin of gaste deur te bring pleks van gras te sny en op jou knieë te sit en onkruid uittrek.” 

Blare word soos normaalweg opgehark en vullis of stof wat daarop vergader, kan eenvoudig afgespuit word. In areas met hoë voetverkeer of waar swaar voorwerpe daarop staan, kan dit afgeplat begin lyk, maar dan hark jy dit eenvoudig in die teenoorgestelde rigting van die pool om dit weer te laat regop staan, verduidelik Ayden Shrives van Duraturf.

Net enkele voorsorgmaatreëls is nodig. “ ’n Vleisbraaiery en ander vuurverwante aktiwiteite kan die gras smelt, en skerp voorwerpe kan die oppervlak beskadig,” waarsku Ayden. 


Gevallestudie #2 

Die tuin lyk nou geil en groen; die labrador-hondjie Riley kan nie gate in die gras grawe nie en dis ook baie maklik om haar bolle op te tel. 

Die geluk was aan hul kant toe Simon en Paula Riley van Kaapstad vyf jaar gelede huis gekoop het: Die vorige eienaar was ’n landskapargitek, daarom was die tuin in ’n goeie toestand en die ontwerp was min of meer voltooi.

Ongelukkig het die grasperk, ’n kombinasie van kikoejoe en buffelsgras, probleme veroorsaak in die winter, veral omdat die bome heelwat skaduwee gooi. Weens die waterbeperkings sou die gras ook gou verbruin en moontlik gevrek het. Dis hoekom hulle kort voor Kersfees 2016 besluit het om kunsgras te laat installeer.

“Ons het ’n klomp gaste oor die feestyd verwag en wou hê die tuin, wat ’n gewilde kuier-area is, moet op sy beste lyk,” sê Simon.

Omdat hulle effens onseker was oor die proses, het hulle die agtertuin eerste aangepak. “Daardie deel van die tuin is baie privaat; as die resultate nie na wense was nie, sou dit nie ’n ramp wees nie,” vertel Simon. Hoewel die paartjie kwotasies by verskeie installeerders gekry het, sê hulle die professionaliteit van Perfect Grass en die persoonlike aandag wat hulle by dié firma gekry het, het die deurslag gegee. 

Buiten die uithaal van die ou gras was daar nie veel ander werk nodig nie. Die trapklippe van die voorhek na die voordeur was reeds daar, en die Rileys kon eenvoudig die gras daarrondom laat lê. “Ons het ’n langer grassoort met verskillende skakerings gekies sodat dit so natuurlik moontlik lyk,” sê Simon.

Noudat hulle minder tyd aan onderhoud hoef te spandeer, kan die Rileys die ruimte soveel meer geniet. “Ons is dol oor die moeitevrye tuin – ons hoef ons glad nie te bekommer oor natmaak, snoei of bemes nie. Die grassnyer staan en gaar stof op in die garage en ons gebruik net ’n tuinsuier om die blare wat op die gras beland, op te tel,” verduidelik Simon. 

As ’n alternatief ... 

’n Minder permanente dog goedkoper oplossing vir ’n bruin grasperk is om dit te spuitverf. Die verf word gemaak van organiese pigmente en is behandel vir beskerming teen die fel UV-strale van die son. “Dit bevat ook ’n lugdeurlatende membraan sodat die gras steeds kan fotosinteer,” verduidelik Adele Kleinhans, medestigter van Lawncoat, ’n plaaslike vervaardiger van grasperkverf. Die verf word met water gemeng om die regte skakering vir die grasperk te kry. “Die koste werk uit op net meer as R3 per vierkante meter,” sê Adele. “En dis 100% ekovriendelik – honde en hasies kan dit selfs eet.”

Afhangend van die temperatuur en sonlig kan dit tot drie uur neem om droog te word. “As die verf eers droog is, sal dit nie jou voete vlek nie; jy kan dit natmaak en reën sal nie die kleur wegspoel nie,” sê die landskapargitek JC Moolman. 

KITSFEITE

• Kunsgras kan gewoonlik binne ’n dag geïnstalleer word. Die grond word voorberei met ’n sandgruis- basis, asook ’n onkruidlaag wat nie saad deurlaat nie. Sodra die gras gelê is, word dit bedek met ’n silikasand-vulsel vir stabiliteit. Om te keer dat die rande oplig, kan dit aan ’n sementomranding vasgegom word. Op ’n soliede basis word die hele area daaraan vasgegom.

• Wat installasiekoste betref, maak die koste van die gras self maar omtrent 10% van die rekening uit. Die verwydering van bestaande gras en grond waar die kitsgras gelê gaan word, voorbereiding van ’n gruisbasis, lê van ’n onkruidmat, asook ’n laag silikavuller bo-oor maak dit ’n taamlik duur belegging – maar op die lang duur spaar jy op die onderhoud van ’n regte grasperk. Die koste kan van een plek tot ’n volgende verskil en die beste is om ’n kwotasie vir jou eie behoeftes te kry.

• Kunsgras kan nie bo-oor natuurlike gras gelê word nie, want wanneer dié gras vrek, sal die oppervlak ongelyk wees.• Waarborge wissel van vyf tot agt jaar, maar by ’n woonhuis kan dit tot 15 jaar lank hou.

• Jy kan troeteldiere se bolle soos gewoonlik optel en die area daarna met water afspuit vir higiëne.

• Kunsgras is ekovriendelik omdat dit geen giftige plaagdoders nodig het wat grondwater kan besoedel nie. Sommige word selfs gemaak van herwinde plastiekbottels.

• Net soos ’n houtdek of stoep kan die gras warm raak in direkte sonlig. In die somer kan jy water sprinkel, wat die sandlaag koel hou en die gras se temperatuur verlaag. 

Wenk Hou ’n afvalstukkie van die gras wat jy laat lê vir ingeval jy later enige skade moet herstel.