Foto’s Francois Oberholster
Stilering Melissa Rautenbach

Gee jou verbeelding vrye teuels as dit by vetplante kom, want met dié waterwys staatmakers is daar geen einde aan die moontlikhede om die perfekte prentjie te skep nie, sê Ann Kerr van The Pink Geranium-kwekery, waar ons die foto’s geneem het, en Buck Hemenway van die Calitzdorp-vetplantvereniging.

1. Vetplante in ’n hangmandjie. 2. Sedum repustre 'Angelina' en Sedum tetractinum 'Coral Reef'. 3. Klein aalwyn.

#1 Hang hulle op

Volgens Ann is vetplante met hul vlesige blare perfek vir ’n hangmandjie. “Hulle kan vir lang tye sonder water oorleef en maak ’n pragtige vertoning. Baie vetplante se groeiwyse is geskik hiervoor, selfs ’n jong aalwyn. Volg jou instink en plant wat vir jou mooi is.” So maak jy jou eie hangmandjies:

Wat jy nodig het

  • draadmandjie
  • klapperhaar (opsioneel)
  • goeie, krummelrige potplantgrond wat goed dreineer
  • organiese kunsmis
  • ’n verskeidenheid vetplante

So maak jy

Begin deur die hangmandjie met klapperhaar uit te voer as dit nie reeds so ’n voering het nie. Vul dit halfpad met die potplantgrond en meng ’n hand vol kunsmis daarby. Besluit hoe jy die vetplante wil rangskik. Dink daaraan dat jy besig is om ’n mini-tuin in die mandjie te skep. Begin met die middelpunt en plant rondom dit. Vul die mandjie op met potplantgrond en maak goed nat. Voed die plante elke sowat twee maande met ’n organiese kunsmis soos Talborne. Jou mandjie sal heeljaar mooi lyk!

Plantlys vir hangmandjies

Vetplante

  • Sedum tetractinum ‘Coral Reef’, S. rupestre ‘Angelina’, S. athoum, S. rubrotinctum en S. reflexum ‘Blue Spruce’
  • Crassula spathulata, C. pellucida en C. multicava
  • Cotyledon orbiculata ‘Firesticks’, C. orbiculata ‘Greytown Spoons’, C. orbiculata ‘Staghorn’
  • Senecio mandraliscae en S. crassifolius
  • Echeverias
  • Klein aalwyne
  • Spekboom (Portulacaria afra)
  • Vygies vir kleur in die lente

Pasmaats

Kombineer vetplante met ander plante wat dieselfde waterbehoeftes en geskikte groeiwyses het, soos:

  • Kleiner Scabiosa-spesies
  • Perswildeknoffel (Tulbaghia violacea) en enige klein agapant (Agapanthus) vir hul lintvormige blare. Dié blaarvorm kontrasteer mooi met die ronde en meer gestruktureerde blare van baie vetplante.
  • Bloumagriet (Felicia amelloides)
  • Roosmaryn
  • Liriope muscari en swart mondogras of enige klein ornamentele grasse.

Wenke

  • Maak die mandjie op die meeste een maal per week goed nat eerder as om dit kort-kort ’n bietjie water te gee. Dompel dit in ’n bak water tot deurweek. Droog die mandjie buite-om af en hang dit terug op sy plek. Plante wat blootgestel is aan wind sal vinniger uitdroog en het dus meer water nodig.
  • As die wind sterk waai, sit jou hangmandjies op die grond neer sodat die plante nie skade opdoen nie.
  • Selfs ’n plant soos ’n aalwyn wat gewoonlik groot groei, kan in ’n mandjie werk. As dit klein geplant word, sal dit vir lank klein genoeg bly. Plant dit in jou tuin uit sodra dit te groot word.
  • Gebruik interessante kombinasies. Plante met blare in kontrasterende kleure of selfs net in skakerings van grys is pragtig. As jy net plante met grys blare kies, laat verskillende blaarvorms en teksture die trefkrag gee. Grysblaar-vetkruid en enige grysblaar-Cotyledon orbiculata soos C. orbiculata ‘Firesticks’ en C. orbiculata ‘Staghorn’ sal goed saam werk.
  • ’n Aalwyn se gestruktureerde, skerp blaar kontrasteer baie mooi met die ronder of fyner blare en blomme van baie vetplante en kan as fokuspunt in die mandjie dien.
  • Vir kleur, kombineer ’n Kalanchoe met ’n helderrooi blom met Sedum rupestre ‘Angelina’ wat geelgroen blare het vir ’n pragtige prentjie!

#2 Stal dit uit

Vetplante kan in blikke, bekers of enige ander houers, groot of klein, groei. Maak wel vooraf seker wat die plant se groeiwyse en volwasse grootte is wanneer jy ’n houer kies.

Vertoonkas

’n Ou vensterraam en drie rakke teen ’n ruwe muur maak ’n treffende uitstalplek vir plante met verskillende groeiwyses in potte van allerlei groottes en kleure. Vier die verskeidenheid – solank die kleure van die potte en die plante wat jy kies mekaar komplementeer en vir jou mooi lyk! 

Boeretroos

’n Blikbeker met ’n enkele vetplant lyk pragtig. Eintlik werk enige emaljeware goed, veral as dit ’n bietjie geroes is – en die deurgeroeste gate verskaf goeie dreinering! As daar nie reeds gate in die blik is nie, kap met ’n spyker ’n gat of twee in die bodem. Vir kleiner houers is een vetplant geskik; in groter houers kan ’n verskeidenheid plante saam mooi lyk. Strooi klippies rondom vir afronding – kies ’n kleur, grootte en tekstuur wat die plant komplementeer.
Geel en pienk Kalanchoe

Selfs ’n stukkende pot kan as houer vir vetplante werk.

Hergebruik

Plant ’n vetplant of twee in ’n helderkleurige deurgesnyde olyfolieblikkie, soos Lenore Retief van Stellenbosch graag doen. “Ek het altyd te min houers vir plantjies,” verduidelik sy. “Dié blikkies het soveel houding en verweer met karakter.” Lenore se man het die houers deurgesny en die skerp rande met ’n tang omgebuig. Die gaatjie waardeur die olyfolie uitgegooi word, is die dreineringsgat vir die een helfte; vir die ander helfte kap sy ’n gat of twee in die bodem. Haar versameling vang altyd die oog!

Kisklere!

Selfs ’n houtkissie kan ’n geskikte houer wees. Voer die kissie met swart plastiek uit om te keer dat die hout vrot. Maak ’n paar dreineringsgate in die plastiek, gooi ’n laag klippies onderin en vul die kissie met krummelrige potplantgrond voor jy vetplante van jou keuse daarin plant. Hier groei ’n verskeidenheid Sedums, ’n Kalanchoe en ’n Senecio gelukkig saam!

As jy nie die vetplante direk in die houtkissie wil plant nie, maak dit met pot en al daarin staan. Die fyn en delikate Crassula spathulata groei hier in terracottapotte.

#3 Kweek jou vetplante so

Al is vetplante hoe waterwys en taai, hou hulle darem ook van ’n bietjie aandag. Buck gee raad hoe jy jou vetplante gelukkig hou!

Grond

Net soos by enige ander plant is grond-voorbereiding belangrik, veral wanneer jy dit in houers kweek. Kies vooraf verpakte spesiale potplantgrond vir vetplante by ’n kwekery of maak jou eie mengsel met een deel organiese materiaal en een deel poreuse anorganiese materiaal. Vir eersgenoemde is blaargrond, dennebas wat tot kompos verwerk is of bogrond (alles te koop by groot kwekerye) geskik. Gebruik fyn gruis, perliet of belugte kleikorrels as anorganiese materiaal. Indien jy perliet kies, moet jy growwe, gewaste bousand byvoeg vir gewig (nie seesand of silikasand nie – dit sal digte lae vorm en goeie dreinering verhoed). Vul die houer tot net onder die rand. Behalwe dat dit meer afgerond lyk, is halfleë houers geneig om lug vas te vang, wat die perfekte teelaarde vir nadelige goggas vorm.

Water en dreinering

Vetplante hou niks van nat voete nie en moet nooit vir te lank te nat bly nie – hul wortels sal vrot. Maak seker die grond in die houer het goed uitgedroog voor jy weer water gee. Gee ook minder water in die plant se dormante fase (dit is gewoonlik in die winter).

As jy ’n beginner is, gebruik liefs ongeglasuurde terracottapotte as houers. Hulle is poreus en help dat oortollige water vinnig verdamp. Geglasuurde, plastiek- en porseleinpotte kan ook gebruik word, maar wees dan ekstra versigtig dat jy nie te veel water gee nie. Dreineringsgate is natuurlik ’n moet.

Kies ook die kleinste pot wat geskik is vir die grootte van jou plant – te veel nat grond sonder wortels moedig verrotting aan. Die ideale pot is sowat twee sentimeter in deursnee groter as die plant.

Voeding

Voed in die groeifase met ’n verdunde gebalanseerde misstof met ’n lae stikstofinhoud (daar is verskillende middels vir verskillende vetplante – vra jou kweker). Voeg dit by die water elke keer wanneer jy natgooi of gebruik as blaarvoeding. Verdun vloeibare of oplosbare kunsmis tot ’n kwart of die helfte van die gewone sterkte. Kraanwater is gewoonlik te alkalies vir vetplante; maak dit suurder deur 15 ml witasyn by 5 liter water te voeg.

Ventilasie

Moet nooit vetplante in ’n klam en ongeventileerde omgewing plaas nie – ’n gebrek aan goeie ventilasie sal plae lok wat die vlesige blare aanval. Aangesien vetplante se natuurlike habitat droog en warm is, het hulle min weerstand wanneer dié pestilensies toeslaan.

Lig

Die meeste vetplante het genoeg helder lig nodig om ’n mooi vorm te behou en blomme te produseer. Hoewel die meeste ook volson kan hanteer, is daar tog vetplante waarvan die blare in die warm somerson sal brand. Om seker te maak jou vetplant kry die regte hoeveelheid sonlig, begin deur dit in gefiltreerde sonlig te sit en skuif dit geleidelik na volson. Aangesien die blare kan brand en te veel hitte die wortels kan beskadig, sal jou plant gou wys indien hy swaarkry.

Het jy geweet? Wolluise, plantluise, rooispinnekop en dopluise is algemene probleme. Keer dat dié parasitiese plae versprei deur miere in jou tuin in toom te hou.

As jy ’n takkie van ’n vetplant afbreek en dit in ’n houer met water sit, sal dit wortels in die water vorm. Plant dit uit sodra daar genoeg wortels is.

Maak meer

Die meeste vetplante kan verdeel word en groei maklik van steggies. Selfs ’n blaar wat op grond neergesit word, kan ’n plantjie vorm.

  • Maak steggies terwyl die plant in sy groeifase is – dit is wanneer nuwe blare vorm, maar nie noodwendig blomme nie.
  • Vetplante soos Sedums en Crassulas wat laag op die grond groei, maak wortels waar die takkies aan die grond raak. Breek net ’n stukkie af en plant dit elders.
  • Om Cotelydons en Echeverias te vermeerder, breek ’n blaartjie af daar waar dit aan die plant vasheg en sit dit op die grond neer. Die onderpunt van die blaar moet aan die grond raak en sal worteltjies daar vorm. Hou dit klam, maar nie te nat nie, anders sal die blaartjie vrot.
  • Enige vetplant wat babaplantjies maak, kan maklik verdeel word. Wag tot die nuwe plantjie wortels het, haal die moederplant uit die pot en breek die nuwe plantjies versigtig van die moederplant af. Klein plantjies met wortels kan soos ’n volwasse plant gehanteer word; sit plantjies sonder of met min wortels eers in die skaduwee totdat nuwe groei sigbaar is.
  • Groter vetplante soos aalwyne groei maklik van steggies. By aalwyne wat klein plantjies by die wortelarea maak, kan die plantjies afgebreek en verplant word. Sny by aalwyne met langer, bogrondse takke ’n tak van die moederplant af, laat die wond vir ’n paar dae uitdroog en plant dan die steggie in ’n skadukol. Aalwynsteggies soos dié moet vir die eerste paar weke geen water kry nie.

Wie is nou tevrede met net een vettie? 1. Kalanchoe pumila. 2. Crassula capitella "Campfire".

Vetplantfees!
Calitzdorp se vetplantvereniging het in 2017 die eerste Vetplantfees op dié Karoo-dorp gehou. Kwekers het plante verkoop, ’n skaarsplantveiling is gehou, kenners het werksessies en praatjies aangebied en feesgangers kon die veld en plantegroei beter leer ken saam met gidse. Vanjaar se Vetplantfees is van 22 tot 24 September. Moet dit nie misloop nie!

#4 Kies een wat blom!

Ons kweek vetplante grootliks vir hul waterwys eienskappe, blaarkleur en pragtige vorms wat heeljaar mooi is. Maar het jy al hul delikate blomme gesien?

Verskillende vetplante blom net soos enige ander blomplante op verskillende tye van die jaar, party meer gereeld as ander en sommige meer oorvloedig of indrukwekkend. In die hartjie van die winter gee sommige aalwyne en die fyn Crassula multicava kleur, terwyl vygies in die lente vir ’n massa kleur sorg.

Wat vetplante ’n voorsprong gee, is dat dit ondanks min water en in droogtetye steeds met blomme sal spog én floreer. Boonop het vetplante wat reg versorg word ’n lang lewe en behoort hulle jaar na jaar blomme te produseer.

Plantgids

Botaniese naam: Calandrinia spectabilis
Dié meerjarige vetplant, afkomstig van Chile, spog in die somer met purperrooi blomme wat op lang stele bo die blare blom.

  • Volson
  • Groei sowat 30–45 cm hoog
  • Lok bye en skoenlappers
  • Goeie grondbedekker

Plantgids

Volksnaam: Plakkie
Botaniese naam: Crassula multicava
Die plakkie dra fyn, stervormige wit-en-pienk blommetjies op steeltjies wat bo die blare uitgroei. Een van dié plant se goeie eienskappe is dat dit ’n vetplant is wat skadu verkies. Dit maak dus ’n goeie grondbedekker onder bome.

  • Inheems
  • Groei 10–20 cm hoog
  • Blom laatwinter tot lente
  • Verkies skaduwee, maar kan ook in die son groei

Plantgids

Botaniese naam: Kalanchoe ‘Tessa’
Dié immergroen meerjarige vetplant vorm oranjerooi buisvormige blommetjies wat ’n treffende vertoning in potte en hangmandjies maak. Dit groei maklik van steggies.

  • Blom van laatwinter tot lente
  • Groei sowat 30 cm hoog en 0,1–0,5 m wyd
  • Goed gedreineerde grond
  • Volson tot halfskaduwee
KONTAKTE
  • The Pink Geranium 021 884 4313, thepinkgeranium.co.za
  • Calitzdorp-Vetplantvereniging vetplant.co.za

Bronne

  • Field Guide to Succulents in Southern Africa deur Gideon F. Smith, Neil R. Crouch en Estrela Figueiredo
  • Waterwise Gardening in South Africa and Namibia deur Ernst van Jaarsveld
  • backyardgardener.com
  • rhs.org.uk