Foto’s Magriet Jansen van Rensburg

Kry die kinders buite (en weg van hul slimfone af)

Ontwerper: Sonita Young, 3rd Teacher Nature Scapes

“Natuurspel en natuur-opvoeding is die wêreld oor ’n groeiende neiging, veral in ’n kind se vroeë ontwikkelingsjare,” sê Sonita Young van 3rd Teacher Nature Scapes. “Die konsep van natuurspel het ontwikkel deur twee beginsels saam te voeg: die Reggio Emilia-benadering van ervaringsleer, waarin die omgewing die derde onderwyser is, en die Nature Scape-beginsel dat speelplekke natuurlik moet wees, met so min moontlik mensgemaakte komponente, om leer deur spel aan te moedig.”

Insekhotelle, stene, boomstompe en waterbakke skep ’n gesonde, natuurlike omgewing in jou tuin vir ’n oorvloed dierelewe. ’n Dammetjie met ’n waterwiel en ’n paar houtvisse skep ’n ruimte waar kinders hul verbeelding vrye teuels kan gee.

IN JOU EIE TUIN

“As jy elke moontlike aspek van ’n tuin vir spel gebruik, kan kinders die natuur sonder perke verken,” sê Sonita. “ ’n Fontein kan hulle byvoorbeeld leer van swaartekrag en volume; grond is goed vir sintuiglike insette wanneer kinders modderkoekies ‘bak’; rotse, stompe en heuwels is ideaal vir die ontwikkeling van groot-motoriese vaardighede; en spring lei tot ’n groter impak op die bene, wat hulle sterker maak.”

Sonita gee nog wenke:

  • Kies ’n neutrale kleurpalet, aangesien te veel kleure oorweldigend kan wees en ’n kind oorstimuleer.
  • Mure geverf met swart dakverf verskaf ’n gladde oppervlak waarop kinders met kryt kan teken, wat ’n dinamiese omgewing skep.
  • Maak kontoere in jou tuin met grondwalle, groot klippe en boomstompe. Nie net verleen dit dimensie en maak dit die ruimte interessanter nie, dis ook lekker om oor te spring en op te loop, en help kinders met balans en berekende risiko’s, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van selfvertroue. Al hoe meer gevalle van osteoporose word by kinders gediagnoseer omdat hulle nie meer só speel dat daar been-op-been-kontak is nie. Dié soort speletjies kan die siekte help voorkom.
  • Moenie te veel mensgemaakte elemente soos plaveiblokke inbring nie; hou liewer by natuurlike opsies soos grasperke, grondbedekkers of basstukkies sodat kinders die grond onder hul voete kan voel.
Plantlys

TUINPLANTE VIR DIE SINTUIE

SMAAK Acorus gramineus ‘Licorice’, appelment, pynappelsalie (Salvia elegans), suikerplant (Stevia rebaudiana), aarbei

REUK Grasui, gewone salie (Salvia officinalis), kusmalva, Spaanse laventel (Lavandula stoechas), roosmaryn, wildeknoffel (Tulbaghia violacea)

GEVOEL Ierse mos, lammetjie-oor (Stachys byzantina)

SIG Calendula, blaarbeet, duisendblad

KIES ’N KLEUR

BLOU Juncus inflexus ‘Blue Arrows’, Carex ‘China Blue’

PERS Selago villicaulis ‘Purple Turtle’

ROOI Carex ‘Red Rooster’

BRUIN Carex ‘Tall Brown’

PIENK Scabiosa, Polygala virgata

ORANJE Bulbine ‘Wildfire’

GEEL Crassothonna cacalioides, Cineraria saxifraga, klipvygie (Delosperma)

Helder kleure en agtergronde

Ontwerper: Lizette Nieman, Strylitzia

Potblou mure, ’n lemmetjiegroen gazebo en rooi bykomstighede gee die toon aan in dié prettige, kontemporêre groentetuin. “Moenie bang wees vir kleur nie – waag ’n bietjie!” sê Lizette Nieman van Strylitzia. “Dis immers net ’n bietjie verf.” Dit raak nou al hoe gewilder om met helder kleure in die tuin te werk. “Tuiniers kan idees kry uit loof- en blomkleure,” beveel Lizette aan. “Donker kleure op grensmure beklemtoon ook die plante en bepaal hoe die ruimte lyk en voel – omdat die agtergrond as’t ware verdwyn, val al die fokus op die voorgrond.”Dié eetbare tuin kombineer funksie en voorkoms vir doelgerigte ruimtes waar jy kan onthaal en uitspan.

Crassula multicava in ’n rooi sinkbad vorm ’n treffende fokuspunt op die fontein.

Hout-planthouers word saam met ingeboude betonhouers gebruik vir ’n interessante kombinasie van teksture.

Die donkerblou grensmuur beklemtoon die plante se loof en die kleurryke blomme. Dit kontrasteer ook mooi met die lemmetjiegroen prieel.

IN JOU EIE TUIN

Lizette glo vas ’n klein tuin moet prakties wees en waarde vir geld bied. Sy hou daarvan om groente en kruie deel te maak van klein onthaalareas buite omdat jy daarvan kan pluk en dit lieflike kleur en tekstuur verleen.

Hier is nog ’n paar wenke vir klein ruimtes:

  • Verdeel die area volgens funksie (’n ontspanningsdeel, groentetuin en ’n gemengde blombedding) en voeg dan detail by in die vorm van potte, houers en versierings. Meng meerjariges met eenjariges sodat daar altyd iets vir die oog is.
  • Donker skakerings van kleure soos blou, groen en houtskool is goed vir grensmure omdat dit die mure laat “verdwyn”. Die idee is dat jou oog nie by die muur as ’n soliede lyn stop nie, maar dat dit eerder elemente uit die buite-omgewing “leen” om ’n gevoel van ’n oop ruimte te skep. Hou by donkerder skakerings, want ligter skakerings sal nie dieselfde uitwerking hê nie. Onthou, jy wil nie ’n fokusmuur skep nie, al bied dit ook iets vir die oog.
  • Kies plante met ligter loof en teksture wat met die geverfde mure sal kontrasteer. Kleurryke jaarplante soos gesiggies en petunias is ook goed vir kontras. Die idee is om ’n driedimensionele effek te skep wat jou oog deur die hele tuin sal laat dartel en nie by ’n enkele fokuspunt laat stilstaan nie.
  • Skakerings van lemmetjiegroen is wonderlik vir aksente soos priële en teepees omdat dit ’n vars gevoel aan die tuin verleen en kontrasteer met donkerder agtergronde.
  • Klimplante versag priële en bring ekstra groenigheid en blomme in. Die catawba is ’n wonderlike druifsoort wat nie teen meeldou gespuit hoef te word nie, en die ‘Perfume Green’-klimroos is ’n baie gelukkige groeier.
Plantlys

GROENTE Somer Eiervrug, groen soetrissie, brandrissie, groenboontjie, tamatie, blaarslaai, pampoen, murgpampoentjie en aartappel Winter Broccoli, blomkool, kool, spruitkool, baba-‘Virofly’-spinasie, Great Lakes-blaarslaai, knoffel, ui, boerboon en ertjie, Heeljaar Wortel, beet, seldery, sprietui, prei, radys, boerkool, radicchio en spinasie

KRUIE Heeljaar Koljander, roket, tiemie, roosmaryn, salie, artisjok, grasui, pietersielie, vinkel, dille, laventel en suring Somer Basiliekruid, dragon, rabarber en Jerusalem-artisjok

EETBARE BLOMME Dianthus, kappertjie, komkommerkruid, gesiggie, roos, vinkel, sonneblom, laventel, kanferfoelie, grasui, angelier, gousblom, murgpampoentjie, magrietjie en pynappelsalie

VRUGTE Appelboom, appelliefie, aarbei, spanspek en waatlemoen

HEININGPLANTE Buxus ‘Faulkner’, Viburnum tinus ‘Lucidum’ en vormgesnoeide Abelia ‘Lemon and Lime’

 

Waterwys grasland

Ontwerper: John Sauer, Ngena Succulents

Weens die droogte in groot dele van die land plant mense al hoe meer vetplante. Dié tuine hoef egter nie soos ’n woestyn te lyk nie. “Deesdae kan vetplanttuine blaarryk, groen en vol kleur wees,” sê John Sauer van Ngena Succulents. “Vetplante word maklik met ander plante gekombineer om die voorkoms en gevoel van ’n grasland te verkry.” Dié plante kom in verskillende kleure, teksture en groottes en bied jou die geleentheid om op jou eie manier kreatief te wees. “Moenie net jou bure of tydskrifte nadoen nie – kies iets wat in jou smaak val. Dis jou buite-leefarea – maak dit perfek vir jou,” voeg hy by.

Agave attenuata

Die waterfokuspunt en stoepmeubels dra by tot die kontemporêre gevoel van dié waterwys tuin wat ontwerp is as ’n rustige toevlug wat min onderhoud vra.

Die plantkombinasie is ’n mengsel van vetplante saam met ’n verskeidenheid ander plante met soortgelyke waterbehoeftes.

Goed om te weet Wanneer jy met vakansie gaan, sal jou vetplante ’n paar weke lank sonder water oorleef en gou herstel nadat jy dit weer natgemaak het.

IN JOU EIE TUIN

“Ek beveel altyd dieselfde 14 minmoeite-vetplante (sien die plantlys) vir nuwe tuiniers aan, want dit sluit ’n goeie verskeidenheid hoogtes, teksture, kleure en grondbedekkers in wat amper enige plek in die land sal groei,” sê John.

Hy deel sy beste raad:

  • Berei die grond goed voor met kompos en beenmeel, nes jy met ’n gewone tuin sou doen. Moenie dinge oorkompliseer met sand of klippers nie.
  • Posisioneer fokusplante soos aalwyne in ’n driehoekige ontwerp; dit werk gewoonlik goed in vetplanttuine. Gebruik vyf verskillende variëteite vir ’n informele voorkoms of drie van dieselfde soort vir ’n meer formele gevoel.
  • Vul die spasie met die res van die plante volgens jou eie smaak, maar hou elkeen se grootte en kleur in gedagte.
  • As jy jou vetplante met ander tuinplante wil kombineer om die veld-gevoel te versterk, is laventel en viburnum goeie pasmaats en hulle vra ook min water.
  • In somerreëngebiede moet vetplante in die somer elke 10–14 dae goed natgemaak word indien dit nie reën nie. Maak smiddae ná 16:00 nat sodat plante oornag die water kan opneem. Party plante kan verrot as jy soggens, met hoë dagtemperature, natmaak. In die winter maak jy elke 4–6 weke nat. Laat die grond heeltemal droog word voor jy weer natmaak. In winterreëngebiede is dit nie nodig om in die wintermaande nat te maak nie; maak in die somer een keer per week nat.
Plantlys

Minmoeite-vetplante

  • Aloe arborescens
  • Aloe chabaudii
  • Aloe marlothii
  • Carpobrotus edulis
  • Crassula arborescens
  • Crassula capitella ‘Campfire’
  • Crassula multicava
  • Crassula muscosa
  • Delosperma lydenburgense
  • Euphorbia tirucalli
  • Kalanchoe sexangularis
  • Kleinia petraea
  • Senecio ficoides
  • Spekboom (Portulacaria afra)

Saam met

  • Buddleja
  • Statice
  • Laventel
  • Viburnum
  • Tulbaghia
  • Madeliefie-struike
  • Salvia
  • Scabiosa
  • Arctotis
  • Convolvulus cneorum
  • Dietes
  • Coleus
  • Tiemie
  • Lourier

Laventel is ’n goeie voorbeeld van ’n plant wat goed saam met vetplante werk en ook wonderlike kleur en geur verleen

KONTAKTE