Wat ’n las!

Beulah Snyman van Vanderbijlpark skryf Ek het raad nodig oor hoe om ontslae te raak van die Asphodelus fistulosus in my blombeddings en grasperk.

JJ antwoord Jy kan Super Lawn Weeder gebruik. Dis ’n onkruiddoder wat ’n wye verskeidenheid taai breëblaaronkruid in toom kan hou. Wend die onkruiddoder met ’n kwas aan pleks van met ’n spuit, dat dit nie die ander plante in die bedding benadeel nie.

Op die tak

Sonja Barker van Port Elizabeth skryf Dié palmboom is al meer as 10 jaar oud en dra vir die eerste keer – daar is ’n groot vrug aan elke tak. Watter soort palm is dit?

JJ antwoord Dis ’n skroefpalm (Pandanus). Die vrug wat jy sien, is sy sade, wat eers ontwikkel sodra die plant volwasse is.

Luister Saterdae om 07:40 saam na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brêkfis met Derrich op RSG.