Ek wil ook een hê!

Deidre Johnson van Kuilsrivier vra: Ek was oor die naweek by ’n familielid en het dadelik verlief geraak op dié meneer in die tuin. Nou wil ek graag weet: Watter soort filodendron is dit dié? En hoe maak ’n mens steggies hiervan?

JJ antwoord: Dit lyk soos die gewone Philodendron selloum. Jy kan die stam eenvoudig in stukke van ongeveer 150 mm opsny en plant. Sny eers alle lang lugwortels af wat in die pad is. Plant dit dan deur die stamme op hul sy te laat lê en halfpad met grond te bedek.

Dié insek gee my grys hare!

Annette van Vuuren vra: Ek is op soek na raad met dié insek wat in klosse op my roosknoppe en blare sit.

JJ antwoord: Dit lyk soos ’n tipe perdeby. Gelukkig doen hulle nie juis skade aan jou rose nie, maar indien jy daarvan ontslae wil raak, kan jy dit spuit met iets soos Aviguard.

Luister Saterdae om 07:40 saam na JJ se Groen Vingers-tuingeselsies met Derrich Gardner in sy program Brekfis met Derrich op RSG.