Siektes en plae is elke tuin se kruis. Maar jy hoef jou nie tot skadelike chemikalieë te wend om hulle te beheer nie. Probeer dié tuisgemaakte spuitmiddels:

Uiespuit is ’n insekweerder en swam- en insekdoder. Kap ’n middelslagui in klein stukkies (gebruik ook die skil en groen blare, as dit nog aan is). Laat dit vier tot sewe dae lank in ’n liter water in ’n houer met ’n deksel staan. Syg die mengsel dan deur ’n ou kous en spuit dit op die aangetaste plante.

Knoffel-en-seepspuit

• Druk 10 knoffelhuisies en ’n kwartkoppie gerasperde kombuisseep saam fyn en laatweek dit in een liter kookwater.

• Wag tot dit afgekoel het en spuit op dieblare van plante waarop insekte voorkom.

• Herhaal ná ’n week. Dié middel werk ook goed as jy swaminfeksies wil beheer.

Herwin ’n ou bottel soos dié en gebruik dit om plantluise met ’n sterk straal water of seepoplossing van lote en knoppe af te spuit of om afskrikmiddels op jou plante te spuit.

Rissiespuit

• Kap vier brandrissies, een ui en tweeknoffelhuisies fyn.

• Meng water en kombuisseep en klits dittot ’n ligte skuim.

• Bedek die gesnyde rissies, ui en knoffelmet ’n bietjie seepwater.

• Laat die mengsel 24 uur staan.

• Voeg een liter water by en meng goed.

• Syg dit deur ’n ou kous en verseël ditin ’n bottel.

• Spuit plante daarmee wanneer nodig.

Gerasperde huishoudelike seep in water opgelos maak ’n doeltreffende spuitmiddel teen plantluise uit en help dat spuitmiddels wat van plantekstrakte gemaak is, aan die plante se oppervlak kleef.

Wespe en naaldekokers is parate soldate in die stryd teen ruspes en onthou, wees gaaf met bye!

Onthou

Wanneer jy natuurlike plaag- en siektebeheermaatreëls begin toepas, kan dit in die begin nodig wees om die behandelings dikwels te herhaal. Dit sal nie help om net nou en dan te spuit nie.

Baie van die beheermaatreëls is “onsigbaar”: wisselbou, metgeselplante en die beskerming van ons plaaslike liewenheersbesies, hotnotsgotte, akkedisse, paddas en voëls. Verder kan jy saaitye afwissel, weerstandige variëteite plant, siek plante uitroei, die pH-vlakke in die grond dophou en organiese spuitmiddels gebruik.

Nog doepa

’n Epsomsoutspuit help plante waarvan die blare ná ’n virussiekte vergeel het, om te herstel. Dis dikwels suier-insekte soos plantluise wat dié siektes veroorsaak en plante met ’n magnesiumtekort laat. Los 50 g epsomsout in vier liter water op en gebruik dit as blaar- en wortelvoeding.

Brandnetels maak ’n uitstekende spuitmiddel teen slakke en donsige skimmel uit. Pak ’n emmer vol heel brandnetelplante. Bedek met water en laat staan vir twee weke. Verdun een deel van die vloeistof met vier dele water, en spuit.

Knapsekêrels is ’n jaar-onkruid met trossies gepunte swart saadjies – ons almal het dit al teen ons broekspype gesien vassit. Dit werk uitstekend in ’n spuitmiddel wat insekte verdryf of doodmaak, en so keer dat jou plante gevreet word. Spuit dit teen plantluise, miere, kewers en ruspes. Jy gebruik al die plantdele, veral die ryp sade, in die spuitmiddel. Kap die plantdele en bedek dit saam met die sade met water. Kook dit tien minute (of week dit 24 uur) lank, laat dit afkoel en voeg dan een liter water en ’n teelepel seep daarby. Skud goed en spuit dadelik.

Maak ’n koolruspepoeier deur twee hande vol houtas, twee hande vol meel en ’n halfkoppie sout te meng. Strooi dit oor die plante om die ruspes te dood.

Alskruid (Artemesia absinthum) in ’n tee verdryf plantluise, vlooikewers, vlieë, koolwitjies en naakslakke; jy kan dit ook in jou huisdiere se bad gooi as hulle las van vlooie het. Maak ’n tee deur een liter kookwater oor ’n hand vol alskruid te giet.

Geredigeerde uittreksel uit Grow to Live, A Simple Guide to Growing your Own Good, Clean Food deur Pat Featherstone (Jacana, 2009). Foto’s en sketse: Leah Hawker