Foto’s Kosie Jansen van Rensburg en Jeandri Streicher

EIENAARS

Francois du Toit van Fanna and Flora, Louise Steenkamp en Conrad Conradie van The Wild Bunch, en Anneke Huyzers van Terra Nova Flowers

WAT The Flower Cartel, ’n saadverskaffer

WAAR Aanlyn

Om ’n plan uit te voer, is beter as om net daaroor te dink. Dit het dié vier blomboere verlede jaar in die grendeltyd besef.

“Toe die Covid-19-inperking ons tref, was daar soveel onsekerheid,” vertel Louise Steenkamp van The Wild Bunch. “Ons kliënte se winkels moes toemaak en hulle kon geen bestellings plaas nie. Ons het mekaar elke dag met ’n nuwe plan gebel en besef dat ons almal eintlik al jare lank dieselfde idee het, maar nog nooit sover gekom het om dit uit te voer nie.”

Hulle het by Anneke Huyzers van Terra Nova Flowers se huis in Durbanville ontmoet oor ’n wortelkoek wat Francois gebak het, en daar is The Flower Cartel gebore.

“As blomboere wou ons nog altyd ons kundigheid met ander tuiniers deel,” verduidelik Louise. “Ons het besef deur dit te doen kan ons boonop ’n alternatiewe bron van inkomste genereer. Professionele kwekers het toegang tot saad wat gewone tuiniers nie self in die hande kan kry nie, maar ons kon dié saad wat ons invoer ook aan die algemene publiek beskikbaar stel.”

En dit is presies wat The Flower Cartel doen met hul produkte.

“Buiten die gewone blomsaadpakkies met saad vir verskeie blomsoorte onderskeidelik, kan tuiniers ook kies uit verskeie gemengde saadboksies met saad wat volgens ’n tema by mekaar pas, soos vir ’n pastelkleurige of wit kothuistuin of ’n informele graslandtuin,” verduidelik Francois. “Ons selfdoenbokse is weer perfek vir die beginnertuinier. Hierin is ’n grondmengsel, saaibak en saad met volledige instruksies oor hoe, waar en wanneer die saad gesaai moet word.” En met dié dat soveel mense in die grendeltyd begin groente plant het, het hulle besluit om selfdoenbokse vir groente en mikrokruie by hul versameling te voeg. “Buiten saad verkoop ons ook blombolle – alles aanlyn, met landwye aflewering.”

Hy sê dis vir hulle belangrik dat tuiniers ’n positiewe ervaring het met die saad wat hulle by die onderneming koop. “Behalwe duidelike aanwysings op die verpakkings, is daar op ons webwerf ook inligting en video’s met praktiese raad,” voeg hy by.

Dié span het nog baie planne. Hulle begin in September met ’n reeks slypskole oor onder meer saadontkiemingstegnieke, hoe om jou eie kompos te maak en ’n blomtuin aan te plant en te versorg. Hul saadreeks is nou in verskeie tuin- en leefstylwinkels beskikbaar en Anneke se reeks gebleikte en gekleurde droë blomme is by kleinhandelaars en op hul webtuiste te koop. 

Kweek ’n verskeidenheid uit elk van hierdie

Ken die verskil groepe vir ’n lang blomseisoen:

LENTEBOLLE is blombolle soos anemone, affodille, ranonkels, druifhiasinte en Freesias wat in die herfs geplant word en in die lente blom.

SOMERBOLLE EN -KNOLLE Dié bolle en knolle soos dahlias, irisse en swaardlelies word in die lente geplant en blom in die somer sowel as ’n deel van die herfs. Die gewilde Café au Laitdahlia is tans op The Flower Cartel se webwerf beskikbaar in potplant-formaat.

EENJARIGES floreer in warm weer en gaan dood aan die einde van die somer sodra dit begin kouer word. Kosmos, jakobregop, hanekamme en Scabiosa purpurea blom oorvloedig en is maklik om te kweek.

GEHARDE EENJARIGES Blomme soos ridderspore, vilette, kantblomme en leeubekkies floreer in kouer weer en is rypbestand. Dit kan voor die winter of vroeglente gesaai word en blom in die lente. Sodra dit begin warm word, is hul leeftyd verby.

TWEEJAARLIKS Dié plante het ’n leeftyd van twee jaar. In die eerste jaar vestig hulle sterk wortelstelsels en in die tweede jaar blom hulle, waarna hulle saad vorm en doodgaan. Van dié variëteite is deesdae so geteel dat hulle reeds in hul eerste jaar blom, en word dan as geharde eenjariges gehanteer. Voorbeelde hiervan is Kantelbergklokkies, pronkridderspore en vingerhoedjies.

MEERJARIGES Plante soos duisendblad, Dusty Miller en koeëldissel leef vir ’n hele paar jaar, selfs in dele waar ryp voorkom.

Maak self só

The Flower Cartel se blomboere sê dit is glad nie moeilik om self blomme van saad te kweek nie. Volg hul raad:

Waar en wat

Kyk eers wat reeds in jou tuin is. Die meeste blomme het 6-8 uur son per dag nodig. As jy baie skaduwee het, plant jou blomme in potte op ’n sonnige stoep. Meerjariges verg oor die algemeen minder werk as eenjariges, maar eenjariges produseer meer blomme oor ’n korter tydperk. Eenjariges soos kosmos en pronkertjies blom ook baie produktief – plant dit as jy min tyd in die tuin wil spandeer, maar steeds baie blomme wil hê.

Saadhouer of direk saai

Saai saad wat stadig ontkiem en moeiliker is om aan die groei te kry, soos leeubekkies, vingerhoedjies, pronkridderspore en Yslandse papawers, in ’n beheerbare omgewing soos ’n saadbak. Ander saailinge soos ridderspore hou nie daarvan as hul wortels versteur word nie – saai dit direk in die bedding. Hou sade in die ontkiemingsfase klam, maar nie te nat nie. Dun saadjies wat direk gesaai word en te na aan mekaar opkom uit om te keer dat volwasse plante mekaar verdring. Met die regte spasiëring is daar ook meer lugventilasie tussen plante, wat siektes beperk.

Wanneer om te saai

Blomme wat in die lente blom moet verkieslik voor die winter gesaai word sodat die saailinge genoeg tyd het om ’n sterk wortelstelsel te ontwikkel. Wanneer die lente aanbreek, kan die plant op blaargroei en blomontwikkeling fokus. Jy sal dan ’n sterker plant hê wat meer en groter blomme dra. Kies geharde eenjariges in dele met ryp. Indien jy in ’n rypgebied woon en ’n kweekhuis het, kan jy ’n groter verskeidenheid blomme voor die winter in saadhouers saai. Plant dit sowat ses tot agt weke ná ontkieming oor in groter houers. Solank die houers beskerm is teen die koue, sal die saailinge die winter oorleef. Plant uit in die tuin sodra dit warmer word, maar eers ná die laaste ryp. Eenjariges soos jakobregops en hanekamme word in die lente gesaai vir die somer. Hulle verkies warmer temperature vir ontkieming en om blomme te vorm.

Oes self saad

Aan die einde van die seisoen, wanneer die blomkoppe uitgedroog en die saad ten volle ontwikkel is, is dit oestyd. Wag vir ’n droë dag, sny die blomkoppe af en bêre dit in ’n papiersak tot die volgende saaiseisoen.

[VARS IN ’N VAAS]

Snyblomme hou langer in ’n mengsel van bleikmiddel (dit maak al die organismes dood), suurlemoensap (wat die pH verlaag sodat geen organismes daarin sal groei nie) en suiker (’n addisionele bron van kos vir die blomme).

Wat jy nodig het

1 liter water

2 eetlepels (30 ml) suurlemoensap

1 eetlepel suiker

’n halwe teelepel (2,5 ml) bleikmiddel

Metode

Meng alles goed in ’n vaas totdat die suiker opgelos is. As jy ’n groot blomvaas het, verdubbel die resep.

KONTAKTE