Foto’s Francois Oberholster, Gillian Eva en Suné Esterhuizen

Regoor Suid-Afrika het ons die afgelope twee jaar droogte aan ons bas gevoel. Om dié rede is ’n reënwatertenk nie meer ’n vreemde ding op ’n werf nie. Ons het gaan uitvind wat jy alles moet weet as jy ook een oorweeg.

Hoewel ’n skerm van latte ’n bekostigbare manier is om ’n watertenk te verbloem, is ons kenners dit eens: In ’n land met ’n waterkrisis behoort ’n watertenk ’n statussimbool te wees en nie weggesteek te word nie.

Die regte grootte

Daar is etlike faktore wat die keuse van jou tenk se grootte sal beïnvloed: Eerstens moet jy besluit hoeveel plek jy het. In ’n meenthuis met ’n knap agterplaas wil jy nie die hele spasie vul met ’n tenk nie.

“Begin deur die korrekte mate van die beskikbare tenks by ’n verskaffer te kry,” sê Hendrik Helberg, bestuurder van RotoTank op Moorreesburg. Werk dan uit wat jou dak se opbrengs sal wees, sou dit reën.

Gebruik jou huis se vloeroppervlakte as vertrekpunt. As dit byvoorbeeld 200 vierkante meter is, en 10 mm reën sak uit, kan jy 2 000 liter reënwater versamel – mits jy elke druppel afloopwater van die dak kan opvang. Besluit waarvoor jy die reënwater wil gebruik, is Rudi van Rensburg van Cape Flow op Somerset-Wes se raad.

Wil jy byvoorbeeld jou swembad vol hou, dit gebruik vir besproeiing, toilette spoel of wasgoed was? “As jy dit weet, en wat jou bestaande pypwerk toelaat, kan jy bereken hoeveel water jy gaan nodig hê.”

Jou begroting speel natuurlik ook ’n rol. Bianca Harmse, verkoopbestuurder van JoJo Tanks in Johannesburg, som dit goed op: “Installeer die grootste tenk wat jou ruimte en begroting toelaat. Onthou, reënwater kan tot ses maande gestoor word. As jy ’n ongebruikte kol in jou agterplaas het met plek vir twee 10 000 liter-tenks, en jy dit kan bekostig, bestel dit.”

Vermy ’n seeroog

Willie Schmidt, eienaar van die Aspidistra-Tuinsentrum buite Stellenbosch, glo dat veral grys tenks goed in ’n tuin wegsmelt. Jy kan dit verder versag met behandelde natuurlike latte.

As jy nie hou van grys nie, kies ’n kleur wat by die agtergrond gaan pas. “Moet byvoorbeeld nie ’n grasgroen tenk teen ’n wit muur staanmaak nie, al gaan jy latwerk rondom sit,” is sy raad. As jy die tenk met plante wil verbloem, kies ’n olyfgroen tenk. Dit smelt gou saam met die plante en blare namate dit toegroei.”

Walter Cloete, ’n tuinboukundige van Walgro in die Strand, span graag ’n stewige draadheining buite-om die tenk en plant ’n mooi rankplant teen die draad. “Hou net beweegruimte in gedagte vir wanneer jy die tenk wil skoonmaak of water wil tap,” sê hy. En hoewel verskaffers probeer om tenks in soveel moontlik kleure te lewer, kan jy jou tenk verf sodat dit by jou huis pas. Hy verduidelik hoe: “Skuur die tenk liggies met growwe skuurpapier en vee dit af met ’n verdunner of asetoon om enige olierigheid te verwyder. Kry by jou verfwinkel ’n geskikte onderlaag en verf dan twee lae waterbasis-emaljeverf in jou gekose kleur bo-oor.”

Die argitek Janine de Waal glo weer jy moet juis nie jou watertenk wegsteek nie. “Die Australiese argitek en Pritzker-pryswenner Glenn Murcutt inkorporeer watertenks in die meeste van sy projekte as ’n ontwerp-element,” sê sy. “Die geute en tenks is geïntegreer en word spesifiek vir elke projek ontwerp. RainQueen Tanks se sinktenk is nog ’n opsie.”

’n Paar syfers
  • 150 liter Die gemiddelde waterverbruik per persoon per dag in formele behuising in Suid-Afrika.
  • 9 liter Soveel drinkwater spoel jy weg elke keer as jy die toilet spoel. Teen twee spoele per dag is dit 18 liter per persoon per dag.
  • 46 liter Die gemiddelde hoeveelheid water wat nodig is om een bondel wasgoed (veral in ouer masjiene) te was – dit kan selfs baie meer wees.
  • 25 mm Soveel water is nodig per vierkante meter per week om ’n tuin in die hoogsomer nat te lei.

Dié syfers is skattings deur ons kenners en kan wissel na gelang van jou eie omstandighede.

Vra dié vrae wanneer jy koop

  • Is die mangat bo-op die tenk kinderveilig?
  • Het die tenk ’n waarborg, en wat behels dit? Wat is die moets en moenies dat dié waarborg nie tot niet gaan nie (byvoorbeeld ’n geskikte voetstuk, verf, blootstelling aan die son)?
  • Het die tenk ankerplekke waaraan dit vasgemaak kan word om te keer dat dit omwaai wanneer dit leeg is? (Dit verhoed ook dat skelms jou tenk wegry, want ’n leë tenk is nie baie swaar nie.)
  • Het die tenk ’n swart voering wat dit donker maak aan die binnekant, sodat alge nie daarin kan groei nie?
  • Het dit ’n oorlooppyp indien die tenk te vol word?
  • Is die tenk UV-bestand? Dit behoort die lewensduur van die materiaal waarvan dit gemaak is, te verleng.

Het jy geweet?

Omdat daar geen beweging in die water in ’n tenk is (soos in die geval van ’n fontein) nie, kan muskiete in die somer ’n probleem raak. Bianca sê die veiligste, maklikste en doeltreffendste manier om daarvan ontslae te raak, is ’n eetlepel huishoudelike paraffien in jou tenk. Die paraffien versmoor die larwes in die water en keer gelyktydig ook dat muskiete nuwe eiers daar lê. Paraffien is ligter as water en dryf dus bo-op – dit sal nie met die water meng of die gehalte daarvan aantas nie. Namate die tenk vol loop, sal die paraffien weer bo-op gaan lê wanneer die water tot rus kom. Om te keer dat muskiete jou tenk deur die oorlooppyp binnekom, kan jy dit van buite af met gaas bedek en met ’n kabelstrop vasmaak; water sal dan steeds kan uitloop wanneer die tenk te vol raak.

Vertikale reënwatertenk (2 500 liter) R3 010, RotoTank

Jou tenk moet ’n oorlooppyp hê. Van hier kan water na ’n ander tenk gelei word (as jy meer as een het); of verbind ’n pyp daaraan wat die oorloopwater weglei van jou huis se fondasies. Laat loop jou tenk twee maal per jaar oor sodat enige drywende afval kan uitspoel.

’n Digsluitende deksel sal klein diertjies uit jou tenk hou!

Kry ’n blaarvanger by jou ysterwarewinkel. Installeer dit tussen die geut- en toevoerpyp sodat enige blare wat van die dak af spoel op die blaarvanger val en wegwaai, en nie in jou tenk beland nie.

Kies ’n plastiekkraan wat nie vandale sal lok indien jou tenk van die straat af sigbaar is nie. Lig die tenk hoog genoeg van die grond af dat jy water in ’n emmer of gieter kan tap; as jy ’n pomp gaan gebruik, kan die tenk plat op die grond staan.

’n Tenk wat reg geïnstalleer en goed in stand gehou is, kan meer as 20 jaar hou. – Bianca

Installasie

Jy kan jou tenk self installeer of vra hulp by ’n kontrakteur of loodgieter.

“ ’n Kontrakteur sal jou tenk volgens die verskaffer se vereistes installeer, wat sal verseker dat die tenk doeltreffend werk en langer hou,” is Rudi se raad. “Hy het ook ’n beter kennis van die pype, verbindings, siwwe en ander bykomstighede wat jy gaan nodig kry.”

Indien jy die tenk self wil installeer, hou die volgende in gedagte:

  • ’n Waterpas fondament van beton, minstens 85 mm dik en 100 mm breër as die basis van die tenk, is die ideale staanplek. Onthou, 1 liter water weeg 1 kg; ’n vol tenk van 10 000 liter weeg dus 10 ton! Vermy oneweredige oppervlakke en klippies onder die tenk en kyk uit vir plantegroei wat die bodem en wande kan beskadig.
  • Maak jou watertenk naby ’n bestaande geut-afvoerpyp staan, sê Rudi.
  • Hendrik stel voor jy plaas jou tenk op die hoogste punt van jou erf sodat water vanself (onder eie druk) daaruit sal vloei vir vloedbesproeiing van jou tuin. Indien dit nie moontlik is nie, moet jy ’n pomp tussen die uitlaat en jou besproeiingstelsel verbind.
  • Walter glo aan ’n sif (blaarvanger) by die inlaat onder die geut se afvoerpyp, om blare en ander vullis uit die tenk te hou. “Maak ook seker die tenk is goed toe aan die bokant om te keer dat rotte of ander diere in die tenk beland.” Alle tenks kom met ’n deksel – siwwe, krane en proppe is ekstra.

Bo of onder die grond?

“Ondergrondse tenks is duurder omdat dit sterk genoeg moet wees om die grondmassa wat daarop rus, te hanteer,” verduidelik Rudi. “Die installering is ook moeiliker en duurder. Oorweeg om jou tenk liewer onder ’n dek of in ’n keldervertrek te plaas.”

Belangrik!
Al is dit skoon reënwater wat jy opvang, kan vuiligheid soos voëlmis van jou dak die water besmet. Kook enige tenkwater vir minstens een minuut en laat dit afkoel voor jy dit drink.

Winkels toe

1. Sinktenk (2 400 liter) R6 600 voering ingesluit, RainQueen Tanks

2. JoJo Slimline-watertenk in Marble Sandstone (750 liter) R2 950, Builders

3. JoJo-blaarvanger R660, Builders

4. JoJowaterpompstel R2 300, Builders

5. 100 mm-JoJoinhoudsmeter in wit R724, Builders

6. Sluitbare JoJokraan (20 mm) R207, Builders

7. JoJo-tenkfiltersif (480 mm) R385, Builders

8. JoJo- vertikale watertenk (500 liter) R1 450, Builders

9. Reënwatertenks (650 liter) R2 800 elk, EcoGator

Kontakte en verskaffers
  • Aspidistra-Tuinsentrum 082 492 9972, willieschmidt@telkomsa.net
  • Builders 0860 284 533, builders.co.za
  • Cape Flow 072 724 2173, capeflow.co.za
  • EcoGator 021 905 5590, ecogator.co.za
  • Janine de Waal Architects 076 154 8915, jdwarchitects.co.za
  • JoJo Tanks 011 695 8300, jojotanks.co.za
  • RainQueen Tanks 083 629 9576, rainqueen.co.za
  • RotoTank 022 433 2342, rototank.co.za
  • Walgro Landscaping 021 853 3515, walgro@icloud.com