Louise McLaren van Durban skryf My hond het nou skielik die gewoonte ontwikkel om sy been teen die meubels in die huis te lig, al is hy op agt maande reggemaak; hy is nou twee. Ek vermoed hy doen dit omdat ek na ’n pleeghondjie kyk wat nog nie die regte toiletgewoontes aangeleer het nie. Hoe kry ek my hond om weer sy sake buite te doen?
Dr. Quixi Sonntag, dieregedragskenner en lid van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging, antwoord Wanneer ’n hond op ongewone plekke urineer, is dit gewoonlik weens sosiale angs – iets wat ’n nuwe troeteldier in die huis beslis kan veroorsaak. Jou hond beskou die kuiergas as ’n indringer en voel hy moet sy reuk los daar waar hy nog altyd veilig en beskut gevoel het.