
Deesdae is daar geen verskoning om vir Wagter by die huis te los wanneer jy vir ’n naweek weggaan nie – of selfs nie eens as jy jou gunsteling-Saterdagmark besoek nie. Vandag is honde by ál meer plekke welkom.
Foto: Troeteldiere is elke Saterdag welkom by die Oranjezicht City Farm-markdag (09:00–14:00) by Grangerbaai, V&A Waterfront.
Soek hier
Daar is verskeie webwerwe wat spesialiseer in troeteldiervriendelike verblyf en dienste. Loer gerus hier vir plekke spesifiek in jou area:
Pet-friendly South Africa
Dié organisasie was een van die eerstes wat ’n jaarlikse gids met verblyf en dienste saamgestel het. Vandag kan jy op die webwerf kyk vir ’n lys van troeteldiervriendelike restaurante, strande en vakansieverblyf. Benewens die webwerf kan jy ook ’n hardebandboek bestel of die app op jou slimfoon aflaai.
Foto: Petfriendly se hardebandboek
Pet healthcare
Nóg ’n nuttige webwerf waar jy kan soek vir troeteldiervriendelike verblyf en restaurante oor die hele land. Boonop kan eienaars van troeteldiervriendelike instellings hul verblyf of dienste gratis adverteer. Kyk ook uit vir kontakte vir gedragskenners en opleiding.
Foto: St Francisbaai, Oos-Kaap
Pet-friendly.info
Dié webwerf is verbonde aan Safarinow en jy het dus toegang tot ’n reuse-databasis met troeteldiervriendelike verblyf. Baie van die plekke is nogal iets vir die oog vir dié wat van mooi dekor hou.
Foto: Old Potters Inn, Greyton, Wes-Kaap
HoliDogz Pet Friendly Accommodation
As jy eers na HoliDogz se pragtige foto’s gekyk het, sal jy sommer lus raak om vir Wagter in die kar te laai en die pad te vat. Hier is ’n verskeidenheid troeteldiervriendelike wegbreekplekke, kampterreine, staproetes, strande en restaurante.
Foto: HoliDogz lys ’n groot verskeidenheid kampplekke
Where to Stay
Where to Stay is ’n algemene verblyf-webwerf, maar het ’n spesiale afdeling vir troeteldierverblyf waar letterlik honderde plekke gelys word. Dit sluit ook plekke in Namibië, Botswana en Mosambiek in (maar onthou, jy kan nie sommer net jou troeteldier oor die grens vat nie!).
Foto: KwaThabisile Game Lodge, Cullinan, Mpumalanga
LekkeSlaap
Dié Afrikaanse verblyfwebwerf het ook ’n nuttige lys verblyfopsies vir wanneer jy jou vierpotige maat wil saambring. Loer hier as jy beplan om in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Noord-Kaap of Noordwes te gaan vakansie hou.
Foto: Buffalo Drift op LekkeSlaap