Mason van Niekerk van Bellville skryf Ek het geen planne om honde te teel nie en daar is nie ’n teef op my werf nie; hoekom dan my reuns laat regmaak?
Dr. Denver Mudie van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging antwoord Elke jaar moet duisende honde en katte uitgesit word weens ongewenste werpsels wat nie huise kry nie. Die goeie nuus is dat diere-eienaars ’n verskil kan maak, want met elke hond of kat wat gesteriliseer word, sal minder ongewenste diere gebore word.
Honde en katte bereik volwassenheid tussen ses en nege maande. Wanneer teefhonde op hitte kom, swel hul vagina en kry hulle vir twee tot drie weke ’n bloederige afskeiding. Tewe wat nie gesteriliseer is nie, skei feromone af wat reuns tot 5 km ver kan waarneem en agter die reuk aan laat ontsnap.