Hoewel sommige mensemedisyne geen skade kan doen nie, kan ander baie giftig wees vir diere, waarsku dr. Liesel van der Merwe van die Suid-Afrikaanse Veeartsenyvereniging. Raadpleeg daarom maar altyd jou veearts voor jy begin pille fyn maal in hul kos.

Parasetamol (soos wat ’n mens kry in Panado) is uiters giftig vir katte en veroorsaak dat hul rooibloedselle oksideer. Die proses vernietig die selle binne 24 uur, wat noodlottig kan wees.

Moet nooit enige antiinflammatoriese of pynmiddels wat nie deur jou veearts aanbeveel is, vir jou kat gee nie – hulle is uiters sensitief vir die neweeffekte omdat hul lewer nie die medisyne doeltreffend kan verwerk nie.

Honde is ook vatbaar vir die neweeffekte van antiinflammatoriese middels, maar jy sal eers simptome sien as hulle ’n oordosis ingekry het. Die koutablette wat veeartse voorskryf, proe vir hulle lekker – pasop dat jou hond nie sommer ’n hele maand se voorskrif op een slag verorber nie! Dit kan nierversaking en maagsere veroorsaak en moet onmiddellik behandel word.

Honde wys ook dikwels simptome wanneer hulle antidepressante, voorbehoedmiddels, spierverslappers en antihistamiene inkry. Antihistamiene veroorsaak gewoonlik lomerigheid, ’n droë mond, vinnige hartklop en vergrote pupille. Antidepressante veroorsaak dieselfde simptome en onderdruk die senuweestelsel, wat tot ’n koma kan lei as die hond baie daarvan inkry.

Voorbehoedpille veroorsaak geen ernstige kliniese probleme nie. Spierverslappers veroorsaak ’n verskeidenheid senuweesimptome soos disoriëntasie, ’n onnodige geblaf of getjank, en depressie. Dit onderduk ook die borsspiere, wat tot asemhalingsprobleme lei.

ONTHOU

As jy vermoed jou troeteldier het ’n oordosis ingekry, kry hom of haar so gou moontlik by ’n veearts.

KONTAK sava.co.za