Dis toenemend ’n trend, en ons sien dit ook in Tuis: Ál meer mense woon in kleiner plekke. En, soos almal weet, as jou pakplek knap raak, is daar net een oplossing: Pak reg en gooi weg!

Of verkoop op Gumtree en steek die geld in jou sak! Mm, dis nou ’n plan.

Die Japannese ontrommel-ghoeroe Marie Kondo het nou al wêreldwyd roem verwerf met haar KonMari-metode. Haar boodskap is eenvoudig: As iets jou nie plesier gee nie, raak ontslae daarvan!

Omdat ons weet hoe swaar dít kan wees, stel Tuis en VIA (DStv-kanaal 147) saam met Gumtree ’n ontrommel-kompetisie bekend as aansporing. Want ons soek na Suid-Afrika se Ontrommel-koning of -koningin vir 2020!

Maak nie saak of jy in ’n plaashuis op Mooinooi, ’n tuinwoonstel in Bloemfontein of ’n gesinshuis in Brackenfell woon nie, as jy bang is om die kasdeure in jou huis oop te maak oor wat dalk daar gaan uitval, wil ons van jou hoor.

DIE PRYSE
Weeklikse pryse sal lukraak toegeken word aan Tuis-lesers en VIA-kykers wat vir die kompetisie inskryf. Gumtree gee die algehele wenner ’n allemintige R20 000 kontant!

SKRYF SÓ IN

• Beskryf in hoogstens 250 woorde waarom jou blyplek ontrommel moet word, en onthou – ons moet foto’s sien van hoe dit lyk, so sluit dit in.

• Inskrywings sluit Vrydag, 13 Maart om middernag.

WAT GEBEUR VOLGENDE?

In die week van 16 Maart 2020 sal die Tuis-redaksie saam met VIA 13 huise kies waar ’n ontrommel-ghoeroe moet kom help. Dié kenner sal later bekend gemaak word (hou Tuis dop). Onthou, as jy inskryf, moet jy bereid wees om in die tydskrif en op TV te verskyn, en natuurlik te luister na die ontrommel-ghoeroe se raad.

Vanaf 1 April besoek ’n VIA-kameraspan die rommelhuise vir opnames (uitsendings begin in Augustus). Alles waarvan jy ontslae wil raak, moet op Gumtree verkoop word. Tuis sal stories daaroor publiseer (aanlyn en in druk) en uiteindelik ’n algehele wenner kies en bekroon met die titel Ontrommelaar 2020!

As jy sukkel om in te skryf, stuur e-pos na amina.essop@media24.com of bel 021 406 2205.