Die Johannesburg-tuinklub is opgewonde om die Open Gardens Meander 2018 aan te bied.

Vyf voorheen ongesiene tuine sal in September vir die publiek oopgemaak word om geld in te samel vir Johannesburg Child Welfare.

Met volhoubare tuinmaak-praktyke wat nou gewilder is as ooit, sal dié jaar se Meander fokus op inspirerende kombuistuine wat kruie, vrugte en groente lewer. Tog kan besoekers individualiteit van elke tuin verwag. Dit wissel van sjarmant tot uitgestrek, en elk spog met treffende waterfokuspunte.

Daar sal plante by elke tuin te koop wees – onder meer Clivias, asaleas, Clematis en irisse, asook plante aangebied deur tuinklub-lede.

 Daar sal verversings en ’n teetuin by een van die tuine wees sodat besoekers rustig kan uitspan.
’n Roostuin op die roete

Die Meander vind plaas op Saterdag 15 en Sondag 16 September 2018 van 10:00 tot 17:00 by vyf verskillende tuine in die buurte Bryanston en Atholl.

Kaartjies kos R250 per persoon (kinders onder 12 kan gratis ingaan) en bied toegang tot al vyf tuine; bespreek vooraf by johannesburggardenclub.co.za.

Gaste sal hul Open Gardens Meander 2018-kaart en adresse met bespreking ontvang.

Inskrywings sluit op 5 September 2018.