Bou ekovriendelik

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter wille van die aarde word huise deesdae gebou om duursaam te wees, energie te bespaar, en afval te verminder. Doen jou deel ook deur by jou eie huis te begin.

Gebou om te hou

Aardverwarming, kweekhuisgasse, bedreigde spesies... het meer as net gonswoorde geword. Dit word al hoe moeiliker om te ignoreer hoeveel skade ons ons planeet daagliks aanrig, veral noudat almal - van politici tot filmsterre - die wêreld probeer bewus maak hoe kwesbaar ons omgewing geraak het. As jy ook jou deel vir bewaring wil doen, is daar geen beter plek om te begin as jou eie huis nie.

Tot onlangs nog was dit net geharde omgewingstryders wat ekovriendelike boupraktyke sou oorweeg. Maar al hoe meer mense wêreldwyd begin besef dat volhoubare ontwikkeling wel sin maak. Daarom word al hoe meer huise van natuurlike materiaal gebou en met sonkragpanele toegerus as deel van 'n ekologies sinvolle manier van lewe. Gelukkig raak dit nou al hoe makliker, omdat daar deesdae meer ekovriendelike bou-opsies as voorheen beskikbaar is. Ook gebruik meer argitekte, ingenieurs en bouers vandag ontwerpen konstruksietegnieke wat juis in reaksie op 'n wye besorgdheid oor die omgewing ontwikkel is. Dr. Johnny Anderton van Eternally Solar, 'n maatskappy wat in die ontwikkeling en bestuur van geïntegreerde volhoubare projekte spesialiseer, sê daar is verskeie alternatiewe boumetodes "waarvan die meeste waarskynlik meer omgewingsvriendelik is as om betonblokke, stene en sement te gebruik". Die voordele is ook groter: huise wat in pas met hul ligging en klimaat gebou is, bied natuurlike warmtegerief, en bou- en onderhoudskoste is ook gewoonlik laer.

Wat is volhoubare ontwikkeling? Volhoubare ontwikkeling is'n term wat gebruik word vir die proses waar menslike behoeftes vervul word, en die gehalte van die natuurlike omgewing terselfdertyd in stand gehou word. Dit kan verdeel word in omgewings-volhoubaarheid, ekonomiese volhoubaarheid en sosiaal-politieke volhoubaarheid.Houthuis Houthuise Hout as boumateriaal bied 'n wye reeks ontwerpmoontlikhede vir 'n omgewingsvriendelike produk. Houthuise kan ook in enige styl gebou word - van 'n ultramoderne tot die tradisionele plankie-voorkoms is moontlik. 'n Verdere voordeel is dat minder ontwrigting van die terrein nodig is.[divider] Hout is 'n hernubare bron wat inderdaad koolstofvrystelling verminder. Maar vervoer en die vervaardigingsprosesse kan weer die algehele koolstofkoste wat met die boumetode gepaard gaan, opjaag. Die baan wat die son volg, wissel van seisoen tot seisoen. Dié huis se goed ontwerpte oorhange laat meer son in in die winter, maar minder in die somer. Beter boupraktyke

Ekovriendelike boumetodes is dié wat die omgewing geen skade aanrig nie, en dit soms selfs bevoordeel. Dit word ook "groen" boumetodes genoem. Die idee het in die sewentigerjare ontstaan in reaksie op 'n groter wordende energiekrisis en bewustheid van die omgewing. Ekovriendelike boumetodes gebruik nie net plaaslike of hernubare materiaal doeltreffender nie, dit neem ook die energie in ag wat tydens die vervaardiging van dié boumateriale gebruik word - selfs hoe ver material vervoer moet word, aangesien vervoer-energie ook gevaarlike uitlaatgasse tot gevolg het. Groen geboue word beslis met groter bedagsaamheid geposisioneer, ontwerp, gebou, verbeter en bedryf. Die rou aardsheid van dié strukture is kalmerend, terwyl die dik mure jou beskermend omhels. Strooihuis Huise van strooibale Strooibale word al baie lank in bouwerk gebruik. Ongelukkig word kafbaal-mure dikwels op 'n betonbasis gebou, wat weer bydra tot die wesenlike energiekoste van dié boumetode. Strooi is 'n hernubare materiaal - dit kan geplant, geoes en weer geplant word. Die kweekhuisgas-vrystellings wat met strooibale verbind kan word, is minimaal. Om een ton beton te vervaardig verg omtrent vyftig keer meer energie as om dieselfde hoeveelheid strooi te produseer.[divider] Mure wat van strooibale gebou is beskik oor uitstekende isolasie-eienskappe. Om dié voordeel reg deur die gebou te benut, is dit noodsaaklik om dakke en vensters goed te isoleer. Strooibaalhuise kan met sement of mengsels van grond, klei en/of kalk afgepleister word. Die eindproduk sal uiteindelik net so glad en byna ononderskeibaar van gepleisterde bakstene wees, maar die tekstuur bied soveel meer moontlikhede om jou eie kreatiewe stempel af te druk. Dis ook redelik eenvoudig om met strooibale te bou - daarom is dit so gewild by bouprogramme deur vrywilligers en tydens bouwerksessies. Sandsak-huis Sandsak-huise

Dis uiters ekonomies om met sandsakke te bou. Die Eco Beam-stelsel, wat van sandsakke gebruik maak, is 'n gepatenteerde boumetode wat deur die SABS goedgekeur is. 'n Gebou wat met 'n Eco Beam-raamwerk opgerig word, gebruik maar 'n derde soveel hout as 'n standaard-houtraamgebou.[divider]

Die sandsakke word in die Eco Beam-raam gepak en daarna afgepleister. 'n Mens kan ook veselsementborde of laaghout - wat meer ekovriendelik is - gebruik om die buitekant mee af te werk. Dié boumetode hou feitlik geen nadele in nie: dis goedkoop, bied uitstekende warmtegerief en die boumateriaal - sand - is op die meeste terreine beskikbaar. Dit verg ook geen gevorderde vaardighede of elektrisiteit op die bouterrein nie. Boonop is uiters min skoonmaakwerk ter voorbereiding van die terrein nodig en is geboue wat volgens dié metode gebou word brandbestand en waterdig 'n Goedkoop boumetode, omdat die meeste materiaal op die bouterrein te kry is. Dit verg die minimum vaardighede en geen elektrisiteit is op die terrein nodig nie. Groen tuis Jy kan die luggehalte binne-in jou huis verbeter deur nie-giftige materiale en produkte te gebruik. Sulke materiale stel geen gasse vry nie en bevat min of geen vlugtige organiese bestanddele; daarby is hulle vogbestand, wat swamme, spore en ander microbes keer. Die gehalte van binnenshuise lug word ook verbeter deur ventilasiestelsels en materiale wat humiditeit beheer en geboue toelaat om asem te haal. Maar al is jou huis nie volgens gesonde ekologiese beginsels gebou nie, kan jy steeds bewaring deel van jou lewenstyl maak, veral wat die gebruik van energie betref.Sement Die koste van sement "Sement is een van die mees energie-intensiewe produkte om te vervaardig en lei tot ontsaglike koolstofdioksiedvrystellings," sê dr. Anderton. Sement se gemiddelde koste is besig om te styg, maar as jy die "koolstofkoste" daarby inreken, raak die vervaardigingskoste nog hoër. Dit maak dus sin om eerder een van die talle alternatiewe boumetodes wat die gebruik van sement beperk, te kies.[divider] Hernubare energie is bewese tegnologie; die prys kom af, die res van die wêreld beweeg in dié rigting, en dis waar ons ook moet belê.' Sonkrag Die mees kostedoeltreffende manier om sonenergie te gebruik is om water regstreeks te verhit. 'n Middelslagsonkragstelsel vir dié doel kan geïnstalleer word. Ongelukkig is dit nog baie duur om sonkrag in elektrisiteit om te skakel. Dit kan derduisende rande kos om 'n hele huishouding oor te sit op 'n sonelektriese stelsel wat onafhanklik van die nasionale kragnetwerk is. Passiewe klimaatbeheer Die baan waarlangs die son beweeg kan tot groot voordeel in 'n huis se ontwerp geïnkorporeer word om energie op verhitting en verkoeling te bespaar: vensters wat noord front laat byvoorbeeld die meeste natuurlike lig moontlik in 'n huis in. En 'n venster met 'n sonskerm wat in die winter heeldag son kry sal in die somer minder son kry, omdat die son dan hoër in die lug sit. Ander verstandige idees sluit die gebruik van bepaalde boomsoorte op die eiendom in: bladwisselende bome aan die suidekant sal in die somer welig en vol blare wees, wat skadu teen die son se hitte bied, maar in die winter is die takke kaal om die strale deur te laat wat jou ruimte warm hou. Isolasie As jy die hoëmassa-areas - die vloere of mure - in 'n huis verhit, word ruimtes deur oppervlakke verhit en nie andersom nie. Een van die maklikste en mees ekonomiese maniere om op verhitting en verkoeling te besnoei, is om jou dak te isoleer.

LED - nuwe beligting-tegnologie

"As ons almal die ligte in ons huise, kantore en reklametekens met LED's (ligemissiediodes) vervang en wind- of sonkrag gebruik om dié ligte te laat brand, sal dit 'n groot verligting vir Suid-Afrika se energiekrisis bring," sê Richard Lomax van LEDzShine. Die gloeilampe wat ons tot dusver gebruik het, het baie energie nodig om lig te genereer - hulle verhit 'n gloeidraad wat lig, UV en hitte afgee.

LED's is doeltreffender - hulle maak lig deur klein hoeveelhede elektrisiteit te gebruik om elektrone op te wek in 'n ingewikkelde chemiese reaksie wat slegs sigbare lig tot gevolg het. Die energie wat gebruik word is omtrent 20 tot 50 keer minder as wat gloeilampe nodig het. Dan begin wind- en sonkrag lewensvatbare alternatiewe word om heeljaar lig in die huis mee op te wek - 'n duisend LED-Kersliggies kan met behulp van 'n klein windturbine van net 3 kW aangedryf word. Die ideaal is om dit met sonkragtegnologie te kombineer. So 'n stelsel is snags selfonderhoudend, solank daar wind is, en gedurende dagligure kan dit energie aan die nasionale verspreidingsnetwerk verskaf. Die stelsel betaal homself binne twee jaar uit die hoeveelheid energie wat bespaar word.

Energiebesparing

Hier is nog ’n paar maniere om jou deel in die stryd teen aardverwarming te doen:

1. Spaar energie deur gryswaterstelsels, laevloei-stortkoppe en kraanbelugters, gebruik 'n waterverplaser in jou toilet se waterbak en hou die afstand tussen jou warmwatersilinder en krane so kort moontlik.

2. Maak jou wasgoed buite droog in plaas van in 'n tuimeldroër.

Gebruik 'n stoottipe grassnyer en nie een wat petrol of elektrisiteit verbruik nie.

3. Skakel oor na bio-afbreekbare skoonmaakmiddels of maak soos Ouma: gebruik algemene kombuisgoed soos asyn en suurlemoensap.

4. Sit deksels op potte en panne as jy kook en sorg dat potgroottes en plaatgroottes bymekaar pas. Laat bevrore kos heeltemal ontvries, en laat warm kos heeltemal afkoel voordat jy dit in die yskas sit.

5. Skakel jou skottelgoedwasser net aan as dit vol is - so spaar jy energie en water.

6 Koop energiebesparende toestelle - kyk uit vir die toepaslike logo.

Jongste uitgawe

September 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees