book-icon Uitgawe Junie 2020

Kreatiewe planne met bedrukte lap

akkreditasie
Geweef, bedruk, geborduur of gestik... Tekstiele was nog altyd deel van ons sagte meublement, maar danksy nuwe tegnieke is dié element veelsydiger as ooit.

Foto’s Francois Oberholster, Henrique Wilding en Elza Cooper Stilering Marian van Wyk, Shelly Bergh, Henrique Wilding en Amanda van Wyngaardt

Wenk Liezie het die lap teen die muur gehang net vir die mooi, maar dit kan ook as kamer-verdeler dien om ’n ruimte soos dié gang af te sper – werk gordynhakies boaan die lap vas en installeer ’n gordyn-spoor teen die plafon, dan kan jy die lap heen en weer skuif soos ’n “deur”!

1 Net soos kuns

Treffend teen ’n muur Liezie Mulder-Färbinger het dié treffende tafeldoek ’n paar jaar gelede op die plaas Babylonstoren in Franschhoek gekoop, maar pleks van op ’n tafel, gebruik sy dit as kunswerk teen ’n muur in haar huis op Thesen-eiland, Knysna. Sy het die lap met spykertjies aan die plafonlys vasgemaak, maar het gou besef dis nie ideaal nie – dit veroorsaak klein skeurtjies in die materiaal. “Draai liewer die bokant versigtig om ’n plankie en kap dan die plankie teen die plafonlys of teen die muur net daaronder vas om skade aan die mooi materiaal te verhoed,” is haar raad.“Ek is mal oor die kleure – en die ekstra lap wat in ’n poel op die vloer bondel, gee dit ’n absoluut luukse gevoel,” sê Liezie.

Veerklampies hou die lap stewig aan die reling vas.

Van plafon tot vloer

Ook in Clarisse Coetzee se Airbnb-woonstel in die Kaapse middestad dien ’n lap van Babylonstoren as kunswerk teen die lang muur bo die eetkamertafel. Clarisse, wat in die reklamebedryf werk en een van die projekleiers is van Tuindag (vanjaar op 11 Oktober), het die lap, bedruk met die reklamemateriaal vir die eerste Tuindag in 2016, aan ’n gordynreling op dieselfde hoogte as die reling van die slaapkamer op die tussenvlak gehang. Dit beklemtoon nie net die 3 m-hoogte van die dubbelvolumevertrek nie, maar is ’n onweerstaanbare apploustrekker wat dadelik die oog vang as jy die knap ruimte binnekom.

[Druk jou eie lap]

’n Kleurvolle lap soos dié werk goed in die andersins neutrale ruimte. Jy kan maklik jou eie lap laat druk – digitale drukkers soos SmartArt, ArtLab, La Perle, Dunamis Textile Printers, Beyond Innovation, Startex en Fabric Addict kan enige foto op lap druk. Kies een van jou eie of ’n foto wat jy kan koop en aflaai by fotoagentskappe soos Shutterstock, Unsplash.com, Creative Market of iStock.

Steek weg!

Toe Linde Liebenberg twee jaar gelede dié stuk linne by ’n snuisterywinkel in Kalkbaai raakloop, het sy geweet dit sal perfek in haar kombuis in Houtbaai pas. “Die lap was vir my so mooi, ek wou dit dadelik uitstal!”

Die ronding aan die bokant van die illustrasie wat op die lap gedruk is, skep die illusie van ’n boogvenster, terwyl die bome aansluit by die natuurlike plantegroei buite die huis. Linde het die lap eenvoudig aan ’n dun plankie vasgespyker en dit toe soos ’n skildery teen die muur gemonteer. Dié “kunswerk” is boonop prakties – dit steek die onooglike kragboks weg!

Die volle prentjie

Die kunstenaar Hermien van der Merwe het een van haar skeppings, geïnspireer deur die verwoestende veldbrande op Tafelberg, op linne laat druk om dié treffende gordyne te maak. Die oorspronklike kunswerk, New Life After the Fire, is net 400 x 295 mm groot, maar is met behulp van hoëgehalte-skandeerwerk vergroot om op twee stroke materiaal van 2,4 x 1,5 m elk te pas.

“Ek het die kunswerk digitaal van bo tot onder in die helfte verdeel en die twee dele op die linker- en regter-gordyn onderskeidelik laat druk. Wanneer die gordyne – van 100% linne – toegetrek is, sien ’n mens die hele kunswerk,” verduidelik Hermien. “Omdat daar net 10 afdrukke is, bly dit steeds eksklusief, maar dis baie meer bekostigbaar as ’n oorspronklike skildery.” 

Deur kuns in ’n gebruiksartikel te omskep, maak dit die werk – hetsy ’n skildery of foto – meer toeganklik. – Hermien

2 Mooi én prakties

Wegkruipertjie Die vorige eienaars van hul huis op Wellington het dié oulike plan uitgedink om die televisie in die leefvertrek te verbloem, vertel Shané Barnard, Tuis se artikelredakteur. ’n Pragtige stuk linne het ’n soom gekry met ’n stok daardeur, wat toe met tou heel bo teen die plafon vasgemaak is. “Dit is so ’n eenvoudige manier om iets wat dikwels ’n seeroog in ’n leefruimte kan word, te verbloem,” sê sy. Wanneer hulle die TV gebruik, lig hulle eenvoudig die lap oor die stok sodat dit agter die skerm hang.

Pasmaats Tammy en Alistair Holmes is dol oor die kombinasie van geel en grys, daarom het hulle op dié kleurskema besluit vir hul studeerkamer in Parkmore, Johannesburg. Die lang gordyne met die tropiese patroon van Constantia Fabrics sorg vir visuele drama.

[Watter lap?]

Die soort materiaal wat jy kies, hang af van wat jy beplan om daarmee te doen.

Lindy Kriek, mede-eienaar van Samesyn, gee raad:

LINNE is ’n natuurlike vesel wat al eeue lank gebruik word. Die materiaal haal goed asem en is uiters absorberend. “Linne het ’n kenmerkend growwe tekstuur, maar een van sy beste eienskappe is dat dit sagter en meer absorberend raak hoe meer dit gebruik en gewas word,” sê Lindy. Linne is uiters duursaam en daarom ook duurder as ander materiale. “En dit kreukel natuurlik maklik!” Enige kleure wat op linne gedruk word, soos Samesyn se digitale foto’s, word mettertyd ligter. “Linne-liefhebbers verstaan dat die mooi van linne juis hierin lê. Die karakter van linne ontwikkel gedurig, die vesels word sagter en die helder kleur word ligter. Dis juis die onvolmaakthede van linne wat dit mooi en uniek maak. “As jy beddegoed, tafeldoeke en teedoeke wil hê wat ’n leeftyd gaan hou, is linne jou beste belegging.”

KATOEN is ’n uiters veelsydige natuurlike vesel wat in talle soorte geweefde materiaal soos denim, flennie en damas gebruik word. “Katoen is sagter as linne, en hiperabsorbered; die kleur bly ook langer helder en ’n mens kan dit in die wasmasjien gooi!” sê Lindy. “Omdat dit so sag is, is dit ’n goeie keuse vir servette, teedoeke en ons nuwe gesigmaskers. Dis ook ideaal vir sagte babakombersies en beddegoed.” (vervolg op bl. 54)Dis in die detail Geel pompons om die rande van die strooikussing word op die gordyn herhaal.

Een van Samesyn se pragtige ontwerpe het ’n praktiese nut gekry as oortreksel vir ’n ottoman in dié knus sitkamer. Sowat 1,7 m was nodig om die ottoman te stoffeer, vertel Lindy Kriek, mede-eienaar van dié bedruktelap-saak. “Dié spesifieke ontwerp heet Mzansi – dis van poliëster, wat lekker maklik skoonmaak, maar jy kan natuurlik ook linne, fluweel of kunslinne gebruik.” Stoeltjie met kunspels van MRP HomeSit- of neersitplek

Bed, lampskerm en strooikussings van Weylandts; huuragentskap Perfect Hideaways

3 Slaapkamer toe

Agteroor Ronelle en Möller Bester se wegbreekplek Villa Kersbos op Britanniabaai aan die Weskus is dalk plattelands, maar dit het al die moderne elemente wat ’n stadsjapie kan vra. Daarom het Elsjé Schonken, die binneontwerper wat gehelp het met die versiering van die huis, besluit op rustige, subtiele elemente vir dié minimalistiese slaapkamer.

Sy het aanvanklik plakpapier met ’n natuurlike ontwerp agter die bed oorweeg, maar het eindelik ’n eenvoudiger oplossing gekies. “Die botaniese kleure in die Walnut Botanical Linen-ontwerp van Babylonstoren herhaal die kleure van die fynbos in die res van die huis en verleen ’n rustige gevoel aan die kamer,” verduidelik sy.

“Dit was die ideale geleentheid om die lap die ereplek te gee deur dit oor die raam van die hemelbed te laat afhang soos ’n kopstuk.”

Handgemaak

Toe Izette Carinus onlangs haar gastehuis, Fransmanshuijs op Stellenbosch, opgeknap het, het sy gedroom van ’n mooi geborduurde kopstuk met ’n regte Afrika-gevoel (regs). “Ek kon nêrens die regte materiaal in die regte grootte kry nie, en het toevallig die mooiste geborduurde lap op Mapula Embroideries, ’n kunsopheffingsprojek, se Facebook-blad raakgesien,” vertel sy.

Izette het dadelik drie verskillende stukke borduurkuns wat deur drie verskillende vroue gemaak is, gekoop en ’n vierde vrou het die stukke aan mekaar vasgewerk en tussenin geborduur sodat die drie lappe een groot kunswerk geword het. “Elke steek is met die hand gemaak!”

Die “kunswerk” het groen omboorsel gekry en stoffeerders het dit in ’n kopstuk omskep. “Dis wel nie ’n standaard-grootte nie. Omdat die lap vir my so mooi is, het ek die stoffeerder gevra om dit so groot moontlik te maak sodat niks van die borduurwerk verlore sou gaan nie.”

Wenk Laat maak bypassende strooikussings van lap wat jy op uitverkopings raakloop, soos Izette hier gedoen het met materiaal van Hertex.

In dié gastekamer van Bernie Diedericks se huis op Villiersdorp verleen ’n pragtige ontwerp van Makietie Linne ’n tikkie groenigheid op die antieke bed. Die lap is ’n mengsel van katoen en linne, en met ’n breedte van 1,5 m pas dit perfek oor ’n enkelbed. Die Forest Fern-ontwerp komplementeer die houtmeubels en ander oudhede waarvoor Bernie ’n besonderse voorliefde het.

Watter lap?

Lindy sê as linne of katoen nie vir jou werk nie, het ’n sintetiese stof soos poliëster of ’n gemengde stof ook sy deugde – dit is in sekere gevalle selfs ’n meer praktiese keuse.

POLIËSTER is ’n sintetiese materiaal en is dus nie baie absorberend nie, maar hou talle ander voordele in: Behalwe dat dit baie bekostigbaar is, sal kleure wat daarop gedruk word nie maklik uitwas nie. “Poliëster maak baie maklik skoon en het minder wasinstruksies as katoen en linne; jy dit kan byvoorbeeld in die wasmasjien gooi en hoef dit glad nie te stryk die, want dit kreukel nie,” verduidelik Lindy. “Jy kan met ’n geruste hart wyn mors op jou poliëster-tafeldoek! Merke veroorsaak deur kos en wyn was baie maklik uit.” Wees net versigtig met poliëster naby ’n oop vlam en moet dit ook nie gebruik vir voorskote nie, is haar raad. “Die poliëster waarop ons van ons tafeldoeke druk lyk baie soos regte linne. Party mense kan nie die verskil sien nie!” Dit werk ook goed vir ottomans en ander stoffering, want dis maklik om skoon te hou en vuil kolle kan een-een skoongemaak word.

GEMENGDE MATERIALE Wanneer poliëster met ander materiale vermeng word, verander die eienskappe daarvan: Saam met linne sorg die poliëster dat die gemengde stof beter was en sy kleurvastheid beter behou; dit kreukel ook minder en gee die linne ’n sagter gevoel, al is dit sinteties. “Ons gebruik byvoorbeeld ’n poliëster-fluweelmengsel wat heerlik sag is en die drukwerk helder laat vertoon,” vertel Lindy. “Dié kunsfluweel werk uitstekend vir stoffering, want dis maklik om skoon te maak. Tog lyk dit weelderig, soos net fluweel kan!”

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

ArtLab 021 448 1421

Babylonstoren 021 300 3019

Beyond Innovation 031 700 2939

Constantia Fabrics 021 761 9648

Dunamis Textile Printers 082 350 9876

Elsjé Schonken Interior 083 442 1751

Fabric Addict

Hermien van der Merwe

Hertex 021 914 3390

La Perle 021 871 1663

Makietie Linne 084 206 9898

Mapula Embroidery Project 082 903 1178, mapulaembroideries@gmail.com

MRP Home 0800 212 535

Perfect Hideaways 021 790 0972

Samesyn

Smart Art 021 447 0872

Startex 031 502 3422

Weylandts 0860 103 400


Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees