Foto's: Greg Cox en verskaf
Wanneer die wêreld om hulle ontspoor, raak die Kotze-Normann-gesin kreatief. Kyk net na dié koepelvormige kajuit – hul tweede – op die plaas La Bruyere, buite Tulbagh.
Dié kuierkol was hul besigbly-projek in die 2020-grendeltyd, ’n spanpoging tussen Danie Kotze en sy vrou, Jenny Normann, hul twee volwasse seuns Thor en Christopher, en dié se lewensmaats, Christine Johnston en Rosa Bishenden-Moon. Christopher, wat ’n paar jaar in Engeland deurgebring het, woon nou op La Bruyere, waar Danie voltyds boer en Jenny hul gastekothuise en Sunset Dome, die eerste koepelvormige kajuit wat hulle op die plaas gebou het, bestuur. Nadat hy meer as 35 lande platgereis het, woon Thor deesdae in Kaapstad, waar hy sy aanlynwinkels TenCape Trading en The Beach Bums bedryf.