book-icon Uitgawe Mei 2018
Deel

Diep, dramatiese kleure voer die botoon in dié Potch-huis

akkreditasie
Sy kies die kleure vir haar huis op grond van die emosies wat dit by haar opwek, vertel dié huiseienaar oor die plek wat sy en haar man hul “kleurvolle wonderwêreld” noem.

Foto’s Elza Cooper | Stilering Suretha Jansen van Rensburg

Wie woon hier? Joe en Colette de Abreu WAAR Potchefstroom GROOTTE 360 m²

In 2009 het Colette en Joe de Abreu hul Potchefstroom-huis, wat hulle met liefde opgeknap het, verhuur en Dullstroom toe verhuis vir werk. Maar terwyl hulle op die platteland gewoon het, het hulle erg terugverlang na dié ruim huis in Noordwes.

Met hul terugkeer drie jaar later het ’n nare verrassing op hulle gewag. “Die huis was lelik afgeskeep en daar was nie veel van ’n tuin oor nie,” onthou Colette. “Binne was die mure geverf in skakerings van koejawel- of terracotta-oranje, en buite was dit blou en geel!”

Dit was een te veel vir Colette, wat ’n voorliefde het vir ryk dog keurig versierde ruimtes. “Daardie selfde aand nog nadat ons teruggetrek het, omring deur ons huisraad nog in bokse gepak, het ek die ingang rooi geverf net om my gemoed te lig!” sê sy.

Sedertdien het Colette al haar energie in die mooimaak gestort – elke vertrek noukeurig beplan met die oog op ’n knus, elegante, kleurryke toevlug. Haar kleurpalet is ryk, diep en treffend, wat die perfekte agtergrond is vir nog helderder spatsels kleur in die bykomstighede en eklektiese versameling geraamde kunswerke.

“Die kleure in ons huis maak ons gelukkig,” verduidelik Colette. “Ek kan speel met verf en kanse waag met kleur – daar is min dinge wat vir my lekkerder is!”

Spieëls en strooikussings van MRP Home

Die ingang

Agter die heldergeel voordeur skuil ’n fokusmuur met kunswerke teen ’n pers agtergrond; Colette het swart verf by pers Dulux Damson Dream gemeng om dié dramatiese ruimte te skep.

“Ons voordeur was vir lank rooi, maar nadat ons ’n muur in die sitkamer geel geverf het, het ek besluit daar moet ook ’n titsel sonskyn in die ingang wees,” sê Colette.Ottoman van Môredou Interiors

Die eetkamer

Die ingang se ryk pers skakering strek tot by die eetkamer daar naby. ’n Versameling ou en nuwe stukke op ’n buffet van rou hout staan mooi uit teen die pers muur. Die borduurwerk, nog in hul rame, was ’n geskenk van ’n vriendin. Buffet van Môredou Interiors, eetkamertafel, retro-stoele en mat van @home; stoele in Franse styl van Môredou Interiors

Teen ’n kleurryke agtergrond

Colette beskryf die dekor in haar huis as “cheap and cheerful pleks van steep and fearful”, met heelparty herbenutte stukke tussen enkele nuwe kopies.

“Soos baie mense is ek ook ’n paar jaar gelede deur ’n Franse fase: neutrale skakerings en rustieke meubels. Maar dit het gou oorgewaai!” sê sy laggend. “Dit was net nie ons nie. Nou koop ons goed waarvan ons regtig hou, ongeag die styl. En dit pas altyd mooi in, gewoonlik ná ’n leksel verf!”

Een van die prominentste dekorelemente in die huis is kunswerke oral teen die mure. Colette en Joe versamel dit nou al jare lank. “Ek kies kunswerke soos ek verfkleure kies: Dit hang af van hoe ek voel wanneer ek daarna kyk. Gewoonlik is dit ’n geval van liefde met die eerste oogopslag. Muurkleure en kuns bepaal die atmosfeer wat ek in ’n bepaalde vertrek wil hê en ek hoop dit ontlok dieselfde reaksie by gaste as wat dit by my doen,” sê sy.

Colette beplan elke galerymuur met rame in verskillende groottes en kleure. “Ek probeer altyd om ’n groot raam net links of regs van die middel te hang en dit dan te omring met kleiner rame,” sê sy. Die galerymure is ’n lus vir die oog en bestaan dikwels uit ’n kombinasie van geraamde olie- en akrielskilderye, prente uit ou boeke, ’n paar sonder rame en iets driedimensioneels.

“Fotografie is my gunsteling-kunsvorm, en dan het ek ook ’n voorliefde vir skedels en skelette soos in die Mexikaanse styl. Maar as iets my aandag gryp, gaan ek voluit daarvoor – veral as dit visuele trefkrag het en ’n kleur is wat ’n stelling teen ons mure sal maak,” voeg sy by.

"Iemand met monochroom smaak sal seker hartkloppings kry in my huis!" – Colette

Die kombuis

Die kombuis was eers ’n vervelige “koekiekleur” wat Colette gehaat het, maar nou spog dit met mure in luukse smaraggroen en pienk. Colette het besluit op swart gordyne pleks van kasdeure vir meer tekstuur en om by die swart granietblaaie te pas. Joe het die spatpaneel van vlekvrye staal met ’n slypmasjien bygedam om dit tekstuur te gee. “Ons name en dié van ons seun, Amaro, is iewers in die patroon versteek,” sê Colette. Mat van MRP Home; hanglampe van Habitat; groen muur is geverf in Dulux Minted Glory 2; pienk muur is Plascon You’re my Sweetie

’n Dieprooi houtkas in die kombuis kontrasteer treffend met die industriële elemente in dié ruimte.

Toe Colette dié rak, wat voorheen vir papierwerk in ’n kantoor gebruik is, sien, het sy besluit dis net die ding vir haar tekkies. “Ek hou van die rou hout, maar dit gaan heel waarskynlik ’n leksel verf kry!” sê sy. ’n Antieke Chinese kabinet wat Colette in ’n tweedehandswinkel gekry het, verskaf pakplek vir haar bykomstighede.

Die leefarea

Die muur in Colette se studeerhoekie net langs die sitkamer is ’n warm oranje, ’n kleur wat volgens haar nommerpas is vir haar kreatiewe ruimte. Dit is Dulux Roasted Pumpkin 3.

Ons is dol oor hoe die swart fokusmuur (Plascon Polvin in Black) die vrolike geel en oranje muur weerskante, asook die ryk groen muur in die kombuis in die agtergrond, komplementeer.

DIE STOEP

Colette en Joe het die 18 m²-stoep laat toebou met ’n sinkdak en staalraamdeure om ekstra kuierplek te skep. Die mure is swart geverf sodat die helderkleurig geverfde meubels en Mexikaans geïnspireerde bykomstighede kon uitstaan.

Lowerryke bome net buite die dubbeldeure verskaf skadu oor die stoep. “Dis so lieflik hier; die deure maak oop op ’n wilde tuin waar bome, struike, rankers en welige grondbedekkers ’n klomp lewe soos voëls en allerhande ander gediertetjies lok,” sê Colette.

Die badkamer

Die paartjie wil graag hul badkamer opknap, maar terwyl hulle idees bymekaarmaak, het Colette solank die oudmodiese teëls geverf met swart Plascon Velvaglo en die voorkoms versag met bykomstighede in pienk en rooi.
Ronde mat van MRP Home; spieël van Black Orchid

Colette het dié staal-medisynekas in ’n antiekwinkel op Dullstroom gekoop. 

Die mure in die hoofslaapkamer is ’n dramatiese swart; ’n grys kopstuk met knoopdetail is ’n romantiese element.
Kopstuk van Môredou Interiors; paisley-kwilt van Biggie Best; strooikussings van Woolworths, H&M Home en Hadeda; gordyne van Loads of Living en MRP Home

Die gastekamer

Omdat die plafon in dié lieflike kamer so hoog is, het Colette gemeen dit sou oorweldigend wees om die mure van bo tot onder rooi te verf. Daarom is Dulux Volcanic Splash 2 net op twee derdes gebruik. Die houtkopstuk met delikate blomdetail het voorheen as kamerverdeler in ’n winkel gedien. Die bedkassie regs was in sy vorige lewe ’n hospitaaltrollie.
Kwilt van MRP Home; lampe van @home

VERSKAFFERS
  • @home 0860 576 576, home.co.za
  • Biggie Best 021 534 8662, biggiebestwebshop.co.za
  • Black Orchid 079 758 1795
  • Habitat 018 294 5008, habitatpotch.co.za
  • H&M Home 086 0690 707, hm.com/za
  • Hadeda 011 788 5774, hadeda-tiles.com
  • Loads of Living 0861 565 565, loadsofliving.co.za
  • Môredou Interiors 018 294 5181, moredou.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za
Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees