Produksie: Marian van Wyk
Op ’n kronkelpad net anderkant Simonstad, daar by Millerspunt verby op pad na Kaappunt, sit ’n baai met ’n geskiedenis so ryk soos die seelewe in die oseaan.
Hier, in Smitswinkelbaai – of sommer net “Smits” soos die locals dit noem – staan ’n stuk of 22 huise. Party is rammelrig en afgeleef, maar hier en daar, gestip teen die hange van die vallei, pryk nuwe strukture, versigtig ingelegkaart tussen die ouer huise met hul roeserige dakke. Dis in een van dié nuwe plekke waar die Clark-gesin van Tokai die afgelope 3 jaar kom vakansie hou in ’n ekovriendelike houthuis met onbelemmerde uitsigte oor die baai en ’n beskutte braaistoep agter waar jy die suidooster kan pypkan as hy die see begin klits. Deur die groot vensters is die uitsig in elke raam ’n prentjie, die see ’n akwamaryn uitnodiging met golwe wat jou roep.