Foto’s Greg Cox | Stilering Marian van Wyk
Toe Ina Baard in Junie 2015 die eerste keer haar voete in haareenslaapkamerwoonstel in Kaapstad sit, het sy gewonder wat haar besiel het: Dié plek was verwaarloos. Maar toe was dit te laat ... Sy het op ’n Donderdag die woonstel op Property24 raakgesien en dadelik geweet dis ’n winskoop. “Die plek het by my gespook. Ek het geweet as ek sou wag tot die Dinsdag, wanneer dit vertoon word, sou iemand anders die plek voor my opraap.” Agtuur die Vrydagoggend het sy haar aanbod ingesit.
Vriende van haar het destyds ’n woonstel in dieselfde blok gehad; daarom het Ina darem ’n goeie idee gehad van die gebou en sy sentrale ligging op Kerkplein. “Hoewel dit donker en ‘vrot’ gelyk het, kon ek dadelik sien hier is potensiaal.”