Produksie: Marian van Wyk en Henrique Wilding
As jy droom van ’n afgeleë houthuisie langs die see met sy eie sonkrag en g’n mens in sig nie, dan is “Houthuisie” net die bestemming vir jou.
Die huis is geleë op ’n stuk grond van 6 hektaar binne die Weskus Nasionale Park, neffens Churchhaven. Die deel staan bekend as Schrywershoek en hier sal jy jou verkyk aan baba-pylsterte in die vlak turkoois water om jou voete, ’n arendsnes tussen die riete, flaminke wat flikflooi en ’n ryk dierelewe wat jou wildste verwagtinge sal oortref. Die terrein is versteek vanaf die hoofroetes, met ’n private ingang binne die park.