book-icon Uitgawe Januarie 2017

’n Salige binne-buite-leefstyl in ’n kompakte ruimte op Suurbraak

akkreditasie
Francois Oberholster
Dié kompakte toevlug op Suurbraak is weggesteek tussen die bome waar die eienaars deel voel van die natuur.

Foto’s Francois Oberholster | Stilering Jana-Marie Koen 

Die klein 87m2-huisie se enigste slaapkamer is in die solderruimte en het ’n pragtige uitsig op die omringendebos. Oop rakke bied pakplek en staanskinkborde word as bedkassies ingespan. Die muurgemonteerde leeslampe is funksioneel sonder om te veel ruimte in beslag te neem. 
Dekens van Hertex; kussing van Weylandts 

Die 42m2-oordekte stoep (insluitend ’n 18m2- sitgedeelte wat met skuifdeure teen die elemente beskut is) is waar meestal gekuier en geëet word. Die skerm agter die eetkamertafel skuif oop en daaragter is ’n ongerepte uitsig op die vallei. 
Oranje landskap-kussing van Heartworks; gestreepte rusbank en buitestoele en -tafel van Coricraft; geel- en-wit planthouer van Dokter and Misses 

Bridget Impey en Maggie Davey het jare lank een besige stad (Johannesburg) vir ’n ander (Kaapstad) verruil wanneer hulle met vakansie gegaan het. Maar waarna hulle eintlik gesmag het, was ’n ware wegbreek; toe besluit hulle om die vakansiehuis van hul drome te bou – ’n afgesonderde huisie onafhanklik van die kragnetwerk buite Suurbraak.

“Hier kweek gesinne nog hul eie groente, jong mans ry hul perde bloots deur die dorp en almal swem saam in die Buffeljagsrivier,” sê Bridget.

Die paartjie het die 1 800 m2-erf in 2004 gekoop. Dis omring deur ’n boekenhoutwoud en sowat 3 km buite die middedorp.

“Die omgewing was vir ons wild en idillies, en die eiendom was bekostigbaar,” onthou Bridget. “Maar vir jare nadat ons die erf gekoop het, het ons net af en toe kom kuier en meestal net die terrein skoongemaak.”

Maar dit alles het verander ná ’n vakansie in 2013 in Kambodja. “Ek en Maggie het deur die oerwoud gereis en gesien hoe wonderlik dit is om eenvoudig te leef. Die huise met die hangmatte op die dek, wat tipies is van die streek, was vir ons pragtig,” verduidelik Bridget.

Met hul terugkoms in Suid-Afrika het hulle begin beplan presies waar die dek op hul eiendom sou staan; dis daardie selfde jaar nog gebou. “Vir Kersfees 2014 het ek, Maggie, my dogter, skoonseun en twee kleinkinders almal op die dek gekamp – en dit was die heerlikste vakansie!”

Gedurende 2015 het Bridget en Maggie met die kenners by 26’10 South Architects saamgewerk aan ’n plan vir hul houthuisie; baie daarvan is op die einste dek uitgedink.

Hul huis is dieselfde jaar voltooi en daardie Kersfees kon hulle hul nuwe blyplek die eerste keer benut. Pure genot! 

Ons is mal oor die gevoel van buite en binne wat soos een voel. – Bridget

Hart en siel

Bridget en Maggie wou ’n beskeie blyplekkie hê sonder dat dit beknop voel. “Ons wou omring wees met prettige, gemaklike items wat lank hou,” sê Bridget.

Albei is uitgewers by Jacana Media, en hul betrokkenheid by boeke het ’n rol gespeel in die beplanning van die huis. “Dit het beslis ’n invloed op die manier hoe ons na die wêreld kyk,” verduidelik Bridget.

Trouens, hulle het die boek Contemporary South African Architecture in a Landscape of Transition, saamgestel deur Henning Rasmuss, Thorsten Deckler en sy vrou, Anne Graupner, saam uitgegee.

“Hulle was dus die eerste mense by wie ons gaan kers opsteek het toe ons begin dink aan bou,” sê Bridget. “Dit was so ’n aangename proses om saam met hulle te sit en beplan aan ’n huis wat in al ons behoeftes voorsien: ’n enkele slaapkamer bo met ’n uitsig wat ons laat voel of ons hoër as die boomtoppe is, ’n werkspasie, naatlose vloei tussen binne en buite, lekker kookplek en oorgenoeg slim bêreplek wat nie te veel ruimte in beslag neem nie.”

Daar is beslis geen gebrek aan slim planne vir bêreplek in dié huis nie; elke sentimeter word doeltreffend benut sodat die ruimte nie beknop voel nie. Alles het sy plek en kan weggepak word in verskeie hoekies en gaatjies, insluitend onder die dek. “Ons het selfs van die vensterbanke laat uithaal sodat ons nie in die versoeking kom om goed daar staan te maak nie!” sê Bridget laggend.

“Ons is net dol oor die eenvoud en ruim gevoel,” voeg sy by. “Dis ons rustige toevlug waar skape, bokke, beeste en ystervarke vry rondloop; waar ons ’n pragtige uitsig op die Langeberg het; waar ons water uit die berge kom en die elektrisiteit van die son. 

Die bankies in die sitkamer (bo) verskaf ook slaapplek vir vriende en familie wat kom kuier; dis oorgetrek met lap wat hulle tydens ’n vakansie in Ghana gekoop het. Laaie onder die bankies bied ekstra pakplek.
Skinny laMinx-strooikussings en blomkussings van Vamp; geborduurde hart-kussing van Heartworks 

Bridget en Maggie maak goeie gebruik van die studeerhoekie in die hoek van die slaapkamer. “ ’n Mens sou dink die uitsigis ’n probleem, maar dis eintlik kalmerend – beter as die afleiding van kantoorgeselsies!” sê Bridget.
Groot mandjie van Heartworks

Die wit trapreling is die handewerk van hul bouer, Tristan de Graaf van Off-the-Grid Projects. Hy het dit gemaak van ou besemstokke wat hy met wit emaljeverf bedek het. 

Die huis is gebou met ’n kombinasie van Suid-Afrikaanse dennehout en meranti; vir die dekke het hulle garapahout gebruik. Die onderste deel van die dek, wat ’n jaar voor die res vandie huis gebou is, het reeds die kenmerkende silwer kleur wat garapa kry wanneer dit aan die elemente blootgestel is. 

Voor Bridget en Maggie begin bou het, het die gesin oor Kersfees 2014 te heerlik op die dek gekamp.

Die dek bied ons die ongelooflikste uitsig op die bos en vleiland – en dis die perfekte sonkamer. – Bridget

Tristan, die bouer, het die laaghoutkaste in die funksionele kombuis gebou. “Dis lekker dat dit diep genoeg is vir groot potte en panne. Ekstra ruimte is so belangrik in ’n klein huis,” sê Maggie. Die binnemure is ook van laaghout en die vloere van Suid- Afrikaanse dennehout.
Plastiekmat van Heartworks; hanglampe van Zebbies 

Blink idee!
Vyf van die trappe strek tot teen die muur sodat dit ook pakplek kan wees. 

Die eenvoudige badkamer maak oop op ’n patio met ’n buite- stort onder die beskutting van ’n groot boekenhoutboom.
Mungo-handdoeke van Vamp; badmat van Weylandts; spieël van @home 

Die garapa-dek is geskuur en verseël met Waxol, so ook die res van die huis se buitekant. Die hout-drankietrollie is ook Tristan, die bouer, se handewerk.
Mat van Hertex; lanterns van Zebbies 

Wit sinkplate help dat die huis in die somer koel bly. ’n Sonkragpaneel wek krag op vir die huis en ’n buitetenk wat hulle by RainQueen Tanks in Somerset-Wes gekoop het, vang reënwater op vir noodgevalle.
Buitestoele en -tafel van Coricraft 

Water word met swaartekrag in pype herlei uit die bergstrome daar naby. Filters verwyder enige sand en die water word verhit met ’n binnenshuise geiser. 

Dié plek bring vir ons vrede; dis waar ons voëls dophou, lees, kook, tuinmaak, stap, swem, eet en slaap. – Bridget


KONTAKTE EN VERSKAFFERS


Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees