"Verwonder, verheug, dankbaar,” sê Lanie toe ek haar pols oor haar nuwe lewe op Stanford, waar sy in Augustus 2021 kom nesskop het. “Dit sal ons tweede Kersfees hier wees. En dit voel nog soos ’n wonderwerk dat al my geliefdes weer slaapplek het onder my dak.”
Dié entrepreneuriese binneversierder het al verskeie hoede gedra: van Kaapse gastehuiseienaar tot mede-eienaar van ’n Franse château wat sy in ’n boetiekhotel omskep het, en selfs skrywer. In haar twee lekkerleesboeke – C’est la vie en die opvolg Net mooi fine – vertel sy openhartig hoe haar Franse avontuur skeefgeloop en sy álles verloor het, tot die dak oor haar kop. Dis dié wedervaringe wat haar blyplek op Stanford – ’n belegging saam met haar seun, Nicolaas, en skoonseun Jaco du Plooy – so spesiaal maak. Sy lag net as ek haar “die jongste 72-jarige ooit” noem, en trek haar vingers deur haar nat hare.
Rivierswem op Stanford is deel van haar daaglikse roetine, en om daar te kom, spring Lanie sommer op haar fiets.