
Foto’s Henrique Wilding • Stilering Marian van Wyk
WIE WOON HIER? Malan Botes, Suzette Strauss-Botes en hul honde, Jasper en Ella
WAAR Jamestown, Stellenbosch
GROOTTE 155 m²
Sy het op Calvinia in die Karoo grootgeword, hy is van Stellenbosch in die Wynland. Soos die noodlot dit wou hê, het Suzette op Stellenbosch gaan studeer, waar sy en Malan by dieselfde restaurant gewerk het. Hulle het gou vriende geword en uiteindelik verlief geraak.
Toe die tyd kom om hul droomhuis te bou, was die gewilde Bolandse dorp ’n natuurlike keuse vir die Botese. Hulle het besluit op Jamestown, net buite Stellenbosch. “Daar heers so ’n lieflike gemeenskapsgevoel in dié buurt – dis ’n deel van die dorp wat nou vinnig gewild word!” sê hulle. “Dis wonderlik hier en ons wil nêrens anders woon nie.”
Die paartjie het hul 419 m2-erf in 2012 gekoop en ’n eenvoudige, kompakte huis ontwerp. “Ons wou ’n ruimte hê waar ons elke hoekie kan benut en ons omring met al die mooigoed wat ons oor die jare bymekaargemaak het. Prakties en mooi was ons doelwit,” sê Suzette.
Hulle het besluit op net een badkamer en twee klein slaapkamers sodat daar meer ruimte is vir die tuin, leefareas en stoep. “Kamers is immers net vir slaap; dit hoef nie groot te wees nie. Ons wou ’n huis rondom ’n knus, kleurvolle, opgewekte leefruimte skep,” verduidelik sy.
Eers is die huis se dop gebou met hoë plafonne, ongepleisterde wit mure, afgevlakte sementvloere en groot vensters en deure. Daarna kon Suzette en Malan fokus op hul gunsteling-stokperdjie: binneversiering.
Hulle het heelwat erfgoed in ’n opbergplek gehad en terwyl die bouprojek onderweg was, het hulle begin rondsoek na mooigoed teen ’n billike prys. “Ons hou van ’n winskoop en om iets uit niks te maak,” sê hulle.
En dit is duidelik sigbaar in dié huis met sy eklektiese mengsel van ougoed, tweedehandse artikels en erfstukke – alles dinge wat vir hulle betekenis inhou, interessant en mooi is.
Rusbank met vinieloortreksel van Facebook Marketplace; die spieël is ’n erfstuk
In elke hoekie van die Botes-huis is daar ’n versameling mooigoed, soos langs die kaggel – van ’n kas met botaniese detail (’n geskenk) tot ’n ou staanradio-kas wat Suzette gratis gekry het tydens haar eerste aanlyn-inkopietog na tweedehandse artikels. “Ons wil dit mettertyd in ’n drankkas omskep,” sê sy. Die kaggelomranding is gemaak van fassieplanke wat die paartjie by hul vorige huurhuis gered het voor dit ashoop toe is. “Dis ’n klein deel van die huis waar ons voorheen gebly het en waarvan ons baie goeie herinneringe het,” sê Suzette.
Die paartjie eet graag by die viersitplektafel langs die kombuis. Die wit buffetkas bevat ’n versameling erfgoed. “Ek is sentimenteel oor ons breekgoed, maar ons glo albei sterk dat alles gebruik en geniet moet word,” sê Suzette.
Sluitkas van Makro; wit buffetkas van Collectables Café; die tafel is ’n erfstuk en die stoele tweedehandse vondste
Die kombuis is prakties met ’n goeie skeut plaasstyl. Die werkblaaie is Oregondennehout en die eenvoudige eiland van laaghout is ’n ligte olyfgroen geverf. Swart en wit vinielteëls verskaf ’n klassieke element en die oop rakke (van herwinde steierplanke) het ’n imbuia-kleur beits gekry. “Die rakke is propvol dinge wat ons elke dag gebruik en alles is in kleure wat ons gelukkig maak – dis prakties én mooi!”
Suzette het die yskas by haar ouma gekry; dis haar trots. “Ek het haar op hoërskool al gesê ek soek eendag dié yskas,” sê sy. “Sy het onthou en dit vir ons gestuur nadat ons ingetrek het.” Suzette en Malan het die oorspronklik roomkleurige toestel in ’n vrolike turkoois geverf. Glasflesse op oop rakke hou droë voorraad byderhand en verskaf ’n huislike gevoel.
Oondskottel van Le Creuset; stoeltjies en mandjie van MRP Home; die hanglampe kom van ’n sloopwerf
Die paartjie het oor die jare ’n paar losstaande kaste bymekaargemaak. Toe hulle hier intrek, is die kaste van vertrek tot vertrek rondgeskuif tot elkeen sy regte plek gekry het.
Groen strooikussings van MRP Home; die kas is ’n erfstuk; die grys kas is tweedehands gekoop
Suzette het lankal die idee vir ’n fokusmuur met spieëls gehad en het ’n donkergrys verfkleur, geïnspireer deur die kleur van die pootjiesbad, as agtergrond gekies. Die ronde venster is op die nippertjie ingesit toe hulle besef het die badkamer kry nie genoeg natuurlike lig nie. “Ons het klaar die aksentmuur voltooi en wou dit nie met ’n groot venster bederf nie, toe besluit ons op die klein, hoë venstertjie,” verduidelik sy.
Die tafeltjie is ’n erfstuk; die spieëls is óf erfstukke óf tweedehands gekoop; Antieke handdoekreling van Die Smous; handdoeke van Mungo; die siwwe is erfstukke; pienk bankie van die Milnerton-vlooimark
Strooikussings van MRP Home; die spieël, laaikas en stoel is erfstukke; hanglamp van Milnerton-vlooimark Gemaklik en kleurvol
Wanneer dit by binneversiering kom, is Suzette se grootste inspirasie haar oorlede ma, Christa. “Sy het besonderse styl gehad en met haar dood het ek die mooiste en kosbaarste oudhede geërf; dis nou my hartsgoed. Dis simbolies van die pragtige, liefdevolle ma wat sy was, maar herinner my ook heeltyd daaraan dat ek vandag is wie ek is danksy haar,” sê sy.
Suzette se dekorwenke
Ek verkies soliede kleure pleks van patrone – soos die mosterdgeel stoele in die sitkamer. Toe ek dit aanlyn gekoop het, het dit geblomde stoffering gehad. Om dit op te kikker gebruik ek byderwetse bykomstighede soos dekens of strooikussings. Moenie bang wees om goed waarvan jy hou, te red nie. Ons het die grys kas in ons leefarea in ’n ketelkamer by my vorige werk gekry. Dit het in ’n poel water gestaan en was nogal lelik beskadig. Ons het dit gerestoureer, en al hou ek nie regtig van geverfde hout nie, het ons besluit om dit ’n laag grys verf te gee sodat dit ’n bietjie kontras kan skep met die ongeverfde hout in die ruimte. Nou is dit een van ons gunsteling-meubelstukke. Wees geduldig. Dit het nogal ’n ruk gevat, maar mettertyd het ons al 12 van ons stoep- en eetkamerstoele aanlyn gekry – op verskillende plekke en teen goeie pryse! Oop rakke is ’n goeie idee vir ’n klein ruimte. Ek het heelwat mooi gebruiksgoed op die onderste rakke en balanseer dit met uitstalgoed op die boonste rakke. Hou altyd ’n oog oop en moenie huiwer om vrae te vra nie! Ons wou graag ligte in die industriële styl vir die kombuis hê, maar het niks gekoop nie, want dit kan taamlik duur wees. Op ’n dag, toe die bouery nog aan die gang was, het ek verby ’n winkel gestap wat gesloop word. Dis daar dat ek die hanglampe gekry het wat nou oor ons kombuiseiland hang. Hulle het gesê dis op pad ashoop toe – en vir ’n skamele R50 was dit myne! Gee dit betekenis. Ek dink ’n huis met sentimentele elemente is ’n gelukkiger huis. Ek het byvoorbeeld die rottangstoele op ons stoep by my ma geërf. Sy wou dit nog altyd wit geverf het, maar het nooit daarby uitgekom nie, toe verf ons dit onlangs wit. Die stoele laat my altyd aan haar dink. Waag ’n kans! Daar is ’n man by die Milnerton-vlooimark wat die mooiste beeldjies uit dryfhout maak. Ek wou weet of hy iets groots soos ’n eetkamertafel kan maak; toe hy ja sê, het ek vir hom ’n skets gegee en nou het ons die wonderlikste 12-sitplektafel op ons stoep!
Dubbeldeur van Swartland Windows and Doors; die kandelaber en stoel is tweedehandse vondste
Die rottangstoele is erfstukke; die draadtafel was ’n geskenk