book-icon Uitgawe Februarie | Maart 2022

Ou stalle nou sjarmante woning op Riebeek

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Met inspirasie uit die omgewing het twee stedelinge die karakter van ’n plaasgebou op ’n sjarmante Swartlandse dorpie in ere herstel.

Foto’s Greg Cox |  Produksie Marian van Wyk

DIE EIENAARS Pierre Antoine en Francois Nel

WAAR Riebeek-Kasteel, Wes-Kaap

GROOTTE 200 m²

plaavars lesershuis

Enkele jare gelede het Pierre Antoine op Riebeek-Kasteel gaan kuier en daar afgekom op wat hy ’n “lelike eendjie” noem.

“Ons het toe al jare lank uitgekyk na ’n plek op die platteland,” onthou Pierre, wat in Kaapstad woon.

Die probleem met soveel dorpies in die Wes-Kaap is dat hulle net te toeristies en glansryk begin word het. Riebeek-Kasteel is egter ’n uitsondering. Dis ook naby Kaapstad en die lughawe, dit het heerlike kos, uitstekende wyne en olyfolies en is in ’n skilderagtige vallei geleë.”

Die huis, wat oorspronklik die stalle en skuur van ’n wynplaas was, het eers net ’n kosmetiese regruk gekry.

“Ons het dit aanvanklik verhuur, maar dis gevandaliseer terwyl dit onbewoon was.

“Verlede jaar het ons toe besluit om die bul by die horings te pak en dit behoorlik op te knap.” Pierre, wat die spesialis-matmaatskappy Fibre Designs 12 jaar gelede begin het, het al heelparty eiendomme vernuwe en wou graag sy eendjie in ’n swaan verander. 

Gelukkig was ’n goeie vriend, die argitek Bertie Schreuder, ewe entoesiasties.

“Die uitdaging was om die gebou, wat so te sê ’n reghoekige boks was, ’n nuwe gedaante te gee sonder om sy voetspoor te vergroot of aan die dak te verander, en die uitsigte op die Kasteelberg ten beste te benut. En om dit alles op ’n baie knap begroting reg te kry.” 

plaavars lesershuis
plaavars lesershuis

Oop en ruim

Siende dat Pierre ’n goeie werksverhouding het met R. Barnes & Sons, wat al voorheen opknapwerk vir hom gedoen het, het hy hulle gevra om die bouwerk te behartig. Heel eerste is die lae plafonne verwyder ten einde hoogte te skep, veral in die kombuis. ’n Voordeel van dié stap was dat dit die oorspronklike ruwe balke ontbloot het.

Rietplafonne, wat algemeen in hierdie kontrei voorkom, is toe deur die hele huis ingesit. “Dit was die duurste enkele vernuwing, maar dit sorg vir samehang tussen al die vertrekke,” verduidelik Bertie. Die muur tussen die kombuis en die oorspronklike sit-/eetkamer is uitgebreek om een groot leefruimte te skep.

Verder het Pierre en Francois soveel moontlik oorspronklike elemente gebruik, soos die voordeur met sy vintage-glas.

Al die ou binnedeure het weer deel van die nuwe uitleg geword sodat dit lyk asof hulle maar altyd daar was. Hulle kon ook herwinde hortjies soortgelyk aan dié wat in plaaslike huise te sien is, aanlyn koop. “In warm weer kan jy die deure oop los en net die hortjies toemaak. Sodoende kan die lug sirkuleer terwyl jy steeds veilig is,” sê Pierre.

plaavars lesershuis

‘Omtrent niks is nuut nie’

Aangesien Pierre en Francois van plan was om die huis te verhuur, het dit drie slaapkamers nodig gehad om kommersieel sin te maak. Daar was egter net twee. Toe skep hulle ’n derde kamer deur die opening tussen die hoofslaapkamer en ’n groot aantrekruimte langsaan toe te bou en ’n nuwe ingang uit die voorportaal na dié vertrek te maak. 

Om die twee hoofslaapkamers ruimer te laat voel het hulle deure met dubbelglas ingesit wat op private binnehowe oopmaak. “Met net een badkamer in die huis het ons besluit om buitestorte in hierdie binnehowe te installeer. Uiteindelik is dit nou een van die gewildste aspekte in die huis,” sê Pierre.

Bertie, Pierre en Francois het daadwerklik gepoog om waar moontlik ou of herwinde artikels te gebruik. Hulle het deur menige tweedehandswinkel gesnuffel en webwerwe gefynkam, in motorhuise en pakkamers rondgekrap en gebruiksware wat maar so van geslag tot geslag aangegee word, ingespan.

LEES VOLGENDE: KOTHUIS KRY NUWE ELEGANSIE IN SWART

“Bertie is ’n bobaas-herwinner en vind altyd een of ander ongewone item,” sê Pierre. “Buiten die elektriese en loodgieterswerk, toestelle, beddens en beddegoed, is hier omtrent niks wat nuut is nie.”  Bertie het die presiese grootte van elke meubelstuk wat hulle sou nodig kry gespesifiseer om seker te maak dit pas perfek in sy uitleg.

“In die proses het ek verslaaf geraak aan Facebook Marketplace,” erken Pierre. Ná 20 jaar in die binneontwerpbedryf weet Pierre hoe belangrik eenvoud in ’n klein ruimte is. Afwerking is beperk tot hout, wit verf, beton, swart aksente en metaal. So is samehang reg deur die huis geskep en is daar niks onnodigs nie. “Ek hou ook van die onverwagse kombinasie van meubels uit verskillende eras. Moderne tafels en stoele, meestal tweedehands, hou die binneruimtes vars en byderwets.” 

plaavars lesershuis
plaavars lesershuis
plaavars lesershuis

Om ’n kas met presies die afmetings wat Bertie voorgeskryf het in die hande te kry, was soms soos ’n naald in ’n hooimied soek. – Pierre

Die argitek Bertie Schreuder het dié wenke vir klein ruimtes:

• Hou die kleure en afwerkings eenvoudig en beperk dit tot die minimum; te veel kan ’n visuele warboel skep.

• Sorg dat daar net een fokuspunt in elke vertrek is en hou die uitleg eenvoudig.

• Beligting speel ’n groot rol om atmosfeer en trefkrag aan klein ruimtes te verleen. Gebruik verskillende bronne, soos tafellampe, kolligte en hangligte.

• Laat vertrekke na buite oopmaak met glasdeure of sit hoë vensters met lae vensterbanke in waar moontlik. KONTAK 082 898 8074, bertie@schreudersquared.co.za

Samehang binne en buite

“Wat hierdie huis so ’n lekker blyplek en sag op die oog maak, is dat dit in ’n roostervorm uitgelê is. Die deure wat op die stoep oopmaak, is byvoorbeeld in lyn met die trappe na die tuin. ’n Mens besef dit dalk nie, maar dit het ’n uiters kalmerende uitwerking,” sê Pierre.  “Die nuwe terras en swembad is beplan as ’n uitbreiding van die stoep en om die helling van die tuin weg te werk,” verduidelik Bertie.

Die oorspronklike pilare wat die dak aan die westelike en suidelike fasades ondersteun, was te smal vir die huis se proporsies, daarom is sinkplaat ingespan om dit “lyf te gee”. Dié gegolfde plate is trouens op heelparty plekke gebruik, hetsy in hul natuurlike vorm of wit geverf. “Dis so ’n nederige materiaal en so deel van plaasgeboue dat dit goed pas hier.” 

JY SAL OOK HIERVAN HOU: KAAPSTAD WOONSTEL WEN RUIMTE DANKSY GLASDAK 

In die somer kan Riebeek-Kasteel versengend warm raak en is ’n swembad onontbeerlik. “Maar om dié klein swembad te bou, was nie maklik nie,” vertel Pierre. “Ons het met soliede klei te doene gehad en die uitgrawings was ’n yslike taak.” Tog was dit die moeite werd, want die swembad kyk uit oor die tuin en bied ’n uitsig op die berge.

“Die opknap het sowat ses, sewe maande geduur, en om die regte meubels te vind het omtrent net so lank geneem,” sê Pierre, wat twee of drie keer per week Riebeek-Kasteel toe gery het om op hoogte te bly van hoe die opknap vorder.

“Ons wou van die begin af die gebou se karakter herstel, maar op ’n stylvolle manier,” verduidelik Pierre. “En ek glo ons het dit reggekry. Maar ons het ook moderne geriewe soos gehalte-stortkoppe, nuwe toestelle en lugreëling bygevoeg. Selfs die ou werkbank in die kombuis spog met opwip-kragsokke!”

plaavars lesershuis

Twee van die slaapkamers maak oop op klein binnehowe met ’n buitestort met warm en koue water. In pas met die plaasstyl is die stortmure met sinkplaat beklee en emaljebakke pleks van porseleinwasbakke gebruik.

plaavars lesershuis

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Esque esque.co.za

Fibre Designs fibredesigns.co.za

Henk Scholz 082 331 0324 

I Am Soap iamsoap.co.za

Malawi Cane Furniture canefurniturecapetown.co.za

Okra Candle okracandle.co.za

R. Barnes & Sons 061 537 1540

Roes 078 038 0383

Stone Age stoneagecon.co.za

The Cotton Company thecottoncompany.co.za 

Treasures @treasures_riebeekkasteel

Valoyi valoyi.com

Jongste uitgawe

Desember 2022 | Januarie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees