
Brendan en Kim Black met hul kinders, Adam (21), Isabella (18) en Olivia (14), asook Pablo en Miró die pommers.
WAAR Vishoek, Kaapstad
GROOTTE ± 300 m2
ORIËNTASIE Noordoos
Kim Black se huis is haar trots. “Ek het nog altyd belanggestel in dekor,” sê sy. “As kind het ek my kamer seker ’n miljoen keer rondgeskuif en wanneer ek by mense kuier, herrangskik ek hulle vertrekke in my kop!”
Kim, ’n kunstenaar, hou veral van kleur en kombineer dit graag met verskillende ontwerpe en besonderse optelgoed.
“My grootste wens is dat mense welkom moet voel in my huis.” En wat is dan nou meer innemend as ’n huis vol blomme? Regdeur die huis is Kim se liefde vir blomme sigbaar – van skilderye en stoffering tot muurbehangsels en mooi kombuistoebehore is alles oortrek met blomme.
Nadat hulle sewe jaar in Nottingham, Engeland, gewoon het, het die Black-gesin Vishoek toe verhuis. Hulle het op dié dorp besluit omdat dit na aan die kus, skole en treinstasie is.
Kim en Olivia het die huis vroeg in 2015 kom besigtig, en die baie ruimte het hulle verbaas. “Die verskillende leefareas is regtig perfek vir ons leefstyl. Die eiendom is ook lekker privaat met sy eie geheime tuintjie knus onder die berg,” sê Kim.
Die huis het eintlik bitter min werk gekort: “Die vorige eienaar het ’n ongelooflike visie vir hierdie doodgewone huis gehad.”
Met die volmuur-glasdeure in die sitkamer vloei binne- en buiteruimtes naatloos ineen, terwyl natuurlike lig by die dakvensters in die badkamers en gang instroom. Kim en haar man, Brendan, het besluit om ’n bietjie plek by een van die badkamers te “steel” vir ’n gang na die tweede leefarea.
Met droëmure en ’n ou hortjiesdeur het hulle toe ook ’n ekstra slaapkamer geskep. “Al is Brendan nie ’n kranige selfdoener nie, het hy gehelp verf en gesorg dat my kunswerke die regte hangplek kry. Ek kan nuwe skilderye verf, veral van my geliefde blomme, en dit na hartelus rondskuif!”
Daar is blokkiesvloer in die voorste sitkamer en eetarea, die gang en meisies se kamers.
“Die hoof-leefarea en eetkamer is ook heerlik vir onthaal – ons kan die glas-stapeldeure oopmaak en deel voel met die natuur. Besoekers sê dikwels dis soos ’n geheime tuin, ’n stil oase weggesteek in die hart van ’n klein woonbuurt.”
’n Voorliefde vir dekor
Terwyl sy in Engeland gewoon het, het Kim ’n interieurontwerp-slypskool by die ontwerper Abigail Ahern se huis in Londen bygewoon. “Dit was so inspirerend! Al haar mure is met diep kleure geverf, wat die verskillende teksture en unieke dekoritems pragtig laat uitstaan,” verduidelik sy.
Kim is self vol planne en idees. “Solank ek bly belangstel in die lewe en mense om my, sal ek altyd uit ongewone oorde inspirasie put. Ek verander gereeld my strooikussings en skuif kunswerke rond, maar verkies dat my mure en grootste meubels ’n neutrale agtergrond vorm. Ek sal altyd aan die verander wees.
“My huis is beslis ’n uitbreiding van my persoonlikheid; as mense hier tuis voel, is ek tevrede.”