
Ian en Leslie Hurst se nuwe houtraamhuis in Jamestown buite Stellenbosch is skaars 66m2 groot, maar danksy slim beplanning word elke sentimeter ten beste benut en voel die woning heerlik ruim. Ons kyk na ses argitektoniese en dekorbeginsels wat toegepas is om ’n gemaklike leefruimte te skep ondanks die klein vloeroppervlakte.
1.Hoë plafon met tussenvlak
’n Dubbelvolume skep onmiddellik ’n gevoel van ruimte en is nie so ’n duur oefening nie. Boonop bied dit geleentheid om ’n tussenvlak te installeer en sodoende ’n ekstra vertrek te skep. In dié huis, gebou deur Logo Homes, is die hoofslaapkamer op die tussenvlak ingerig – mét sy eie badkamer en instapkas! Dit vergroot die totale vloeroppervlak met amper nóg 30m2.
Danksy die hoë mure kon addisionele kleiner vensters naby die plafon ingebou word – dit bring natuurlike lig in die huis, wat die gevoel van ruimte verder versterk. Dié kleiner vensters help ook met klimaatbeheer, soos in die slaapkamer waar twee vensters regoor mekaar ’n trek skep op warm someraande.
Omdat die struktuur van hout is, moes balke teen die plafon aangebring word om stabiliteit te bied – dit skep terselfdertyd argitektoniese detail.
2. Skuif die meubels
In ’n klein sitkamer is daar dikwels nie plek vir sitgedeeltes met verskillende funksies, soos voor die kaggel, vir TV-kyk en lees nie. Hier word ’n L-vormige leerbank in die winter na die kaggel gedraai, maar in die somer word dit omgeswaai. Die reuse-boontjiesak maak dus heeltemal sin in die klein ruimte en bied heerlike speel- en sitplek vir die kleinkinders. So ’n sak is baie gesellig en dit word rondgeskuif na gelang van die seisoen of geleentheid. Ook die tafel in die kombuis word maklik buitentoe gedra wanneer nodig. Trouens, niks in die huis het ’n permanente plek nie!
3. Binne-buite
Die balaudek by die voordeur is maar 11m2 groot, maar met die skuifdeur oop voel dit soos een groot oopplanruimte. Daar word hoofsaaklik buite op die dek onthaal, waar die grasperk as’t ware deel van die “vertrek” word.
Die dek het aanvanklik net ’n prieel met ’n seil oor gehad, maar omdat die seil nie bestand is teen nattigheid nie, was dit ’n probleem in die winter. Later is ’n sinkdak bo-oor die prieel aangebring, wat beteken die dek kan nou dwarsdeur die jaar gebruik word. Die seil onder die dakplate is behou en skep detail en tekstuur.
Die huis het ’n lieflike uitsig op die Stellenbosse wingerde en danksy groot (en baie) vensters word daar deeglik kennis geneem van die wisselende seisoene namate die kleur van die wingerdblare verander. Blokkeerblindings word gebruik om die son in die somer te beheer, terwyl dit welkome hitte innooi in die winter. Gordyne het later in die sitkamer gevolg om die voorkoms effens te versag.
4. Genoeg pakplek
Enigiemand wat in ’n klein huis woon sal vir jou sê die geheim is om genoeg pakplek vir als te hê. Omdat dié huis nie ’n motorhuis het nie (die eienaars glo dis net ’n mors van spasie), is daar oorgenoeg kaste in die kombuis en opwaskamer. Selfs in die instapkas in die slaapkamer is daar twee “kamertjies” of kaste met ’n deur wat kan sluit, waar etse en wat nog als soms gebêre word. Die instapkas agter die fokusmuur in die slaapkamer het oop rakke omdat dit uit die oog is, maar in die res van die huis word alles agter toe deure gehou ter wille van ’n skoon voorkoms.
Op die werf is ’n klein tuinhuisie wat pakplek vir die nodige tuingereedskap bied.
5. Die rol van kleur
Wit en neutrale kleure is ’n logiese keuse vir klein ruimtes, maar wie sou kon dink dat swart so goed kan werk in ’n klein huis? Swartbordverf is juis ingespan omdat daar soveel wit is: Dit bind die vertrek en bring ’n geselligheid in die huis met sy skoon lyne. Dikwels laat swart ook ’n muur “verdwyn” en help dit om die illusie van ruimte te skep.
Skandinawiese ontwerpriglyne is regdeur gevolg met baie wit, ligte hout en skoon lyne. Patrone en motiewe is tot die minimum beperk en net as aksent ingespan.
6. Maak maklik skoon
Omdat die huismense hul ruimte met vyf katte en twee honde deel, is dit belangrik dat die ruimtes maklik skoongemaak kan word. Die vloer is van afgevlakte sement, wat eenvoudig met ’n rubbertand-besem gevee word; die tussenvlak het ’n houtvloer van Suid-Afrikaanse dennehout.