
Dis 'n pragtige landskap-fokus en bring die natuur tot binne-in jou agterplaas. Dié natuurlike swembaddens is geskoei op bergpoele en die water word silwerskoon gehou danksy sirkulasie deur waterplante. Dit verg min instandhouding omdat die stelsel net soos 'n mini-ekostelsel optree. Jy moet net af en toe die waterplante terugsnoei as hulle te baldadig groei. Die watergehalte is heeltemal anders as gewone swembadwater en gebruikers beskryf dit as sysag op hul vel. Daar is niks kunsmatigs toegevoeg nie - jy kan selfs die water drink of aan jou huis se watertoevoerstelsel koppel. Hoewel die aanvanklike installasiekoste hoog is, is die elektrisiteitverbruik laag, die chemikalieë-uitgawe minimaal en daar is geen skade aan die natuur nie.
Plante vir eko-poele
Waterplante skakel koolstofdioksied in die lug om in suurstof in die water. Hulle neem ook stikstof (nitrate en fosfate) wat in die water opbou op, wat help om die groei van paddaslyk-tipe alge te voorkom. Volgens Jerome Davis van aQua Design is daar talle inheemse plante wat in ekoswembaddens gebruik kan word. Gesels met jou installeerder oor die beste keuse vir jou swembad en jou omgewing. In die eko-swembaddens op dié blaaie groei onder meer:
- Berula erecta
- Cyperus textilis
- Cyperus prolifer
- Juncus effusus
- Nymphaea nouchali (capensis)
- Nymphoides indica
- Iris pseudacorus (geel)
- Zantedeschia aethiopica
- Aponogeton distachyos
Onthou:
- Waterplante word groter, so moenie te veel in jou dammetjie plant nie.
- Waterlelies het water dieper as 60 cm nodig - die water moenie te veel beweeg nie.
- Gebruik spesiaal ontwerpte mandjies of plastiekpotte met geskikte kompos of grond.
- Bedek die grond en wortels met klippies of gruis sodat die visse dit nie ontwrig nie.
- Moenie enige waterplante koop nie, aangesien dit in indringers kan ontaard en die groei van ongewenste alge kan aanmoedig.