book-icon Uitgawe November 2017

Pienk inspirasie vir jou teetafel

akkreditasie
Bykomstighede van Check My China; vetplant-kolwyntjies deur Tihmily Cakes. Foto: Henk Hattingh
Bykomstighede van Check My China; vetplant-kolwyntjies deur Tihmily Cakes. Foto: Henk Hattingh
Henk Hattingh
Skep jou eie blomfantasie en beïndruk jou gaste met dié pragtige tafeldek-idees.

Begin by jou tafeldoek

Gebruik ’n stuk gewone lap (kaasdoek of katoen werk goed) van die regte grootte, rekkies en pienk lapkleursel (ons het Lady Dye in die kleur Baby Pink gebruik). Knyp eerstens stukke lap sowat 30 cm uit mekaar vas sodat jy ’n rekkie om elke “bondel” kan sit. Maak gerus die bondels nader aan mekaar; die ruimte tussenin hoef nie perfek gemeet te wees nie. Jy kan ook meer rekkies om party bondels vasmaak (na die bopunt toe) vir meer detail in die patroon. Meng die kleursel volgens die aanwysings op die verpakking en laat lê jou lap vir 45 minute tot ’n uur daarin. Haal al die rekkies af, spoel tot die water helder is en laat die lap droog word. Los die doek gekreukel vir ’n meer informele gevoel. 

Geel draad-lampskerms van Abode; wit draad-lampskerm van Builders; blomme-rangskikkings deur Floral Design by Jomeri Mouton. Foto: Henk Hattingh

Kyk op!

Hang blomme bo jou tafel – dis nou een manier om jou tafeldekor tot nuwe hoogtes te voer! Gebruik tou of kabelstroppe om ’n rangskikking aan ’n kandelaber of hangligamp vas te maak, en stal soortgelyke blomme in bekers of vase op die tafel uit om die hangende rangskikking te komplementeer.

Foto: Henk Hattingh

Laat jou liggie skyn

Vir ’n oulike kers in ’n teekoppie, smelt gewone wit kerse (sowat twee per koppie, afhangend van hoe groot jou kerse is en hoeveel koppies jy het) in ’n pot op die stoof. Haal die pitte versigtig uit, knip dit in die regte lengte en maak ’n gewiggie aan een punt vas (’n waster werk goed). Draai die ander punt van die pit om ’n sosatiestokkie en laat hang dit dwars oor die koppie met die gewig in die middel. Giet dan die warm was in die koppie en laat dit afkoel. Knip die bopunt van die pit af sodra die was gestol het.

Koeke van Tessa's Bakery. Foto: Henk Hattingh

Bak jou blomme

Hou jy van krismisrose? En van koek? Kombineer die twee en sit dié indrukwekkende bederfies voor. Maak drie lotte versiersel in skakerings van dieselfde kleur. Skep dit in ’n spuitsak met ’n redelik oop sterpunt en versier drie koeke met blommetjies soos krismisrose.

Koekies van The Red Kitchen. Foto: Henk Hattingh

Prentjiemooi!

Dié koekies is amper te mooi om te eet! Maar moenie skrik nie – jy kan self sulke kuns skep, al is jy geen Picasso nie. Bedek eenvoudig koekies met harde versiersel (’n mengsel van geklitste eierwit en versiersuiker), wag tot dit hard is en teken dan ’n patroon of vryhandskets van jou keuse met ’n loodvrye potlood daarop. Gebruik koskleursel en ’n klein kunstenaarskwas om jou prentjie in te kleur; doop die kwas af en toe in helder, deursigtige alkohol. (Jy kan ook water gebruik, maar alkohol help dat die kleursel minder vloei.)

KONTAKTE & VERSKAFFERS
Abode 072 261 3540
Builders 0860 284 533 
Check my China 083 270 6006
Floral Design by Jomeri Mouton
Tessa’s Bakery 021 551 6107
The Red Kitchen 082 293 3092
Tihmily Cakes 076 509 8523
Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees