Vir Kersfees …
Koning Rosekrans
Maak ’n lentekrans van sagpienk en heldergeel rose, met bloeisels en bergbruidjies tussenin, op ’n sirkel van bloemisteskuim. Hang dié gesellige krans aan jou voordeur en sit dit die volgende dag op ’n koekstaander om die etenstafel op te vrolik.
Gevleg en versier
Kerskranse van wingerdlote is vryelik beskikbaar by die meeste blomwinkels. Druk jou stempel daarop af met blomme uit jou tuin en ’n groot strik daarby!
Blomme vergaan, so pluk en geniet
Wanneer jy jou wingerdprieel snoei, bind die lote met ’n helder lint in ’n krans vas terwyl dit nog sag is. Dit sal so hard word en dan kan jy dit versier. Gebruik bloemistekleefband om helderkleurige blomme aan die krans te heg vir jou Kerstafel, jou tuinpartytjie, ’n troue, die blommemeisie.
Aan tafel …
Mooiste madelief
Vrolik ’n teekoppie op deur die rand met ’n madeliefie-gemmerkoekie te versier. Sny die “blomme” met ’n koekiedrukker uit dungerolde gemmerkoekiedeeg en sny ’n gleufie in elke koekie voor jy dit bak. Versier die koekies in helder kleure.
Op sy troontjie
Dek ’n tafel vol papierkegels met blomme vir elke gas. Dis nie net versiering nie, maar ook ’n mooi huis-toe-neem-geskenkie. DIY Deon het elk van dié staanders gemaak deur drie laaghoutblokkies (een met ’n ronde gat bo) aan mekaar te lym, waarna dit wit geverf is. Jy kan aanplak-etikette gebruik as naamkaartjies, of dit verf met skryfbordverf en so elke gas se plek by die tafel merk.
Net die regte lafenis vir warm somerdae: Maak jou eie gegeurde water met vrugte, kruie en rose uit jou tuin – dis maklik, goedkoop en verfrissend! Gooi dit in jou mooiste glasbeker en sit dit yskoud voor.
Bessies, kappertjies en rooswater
- 1 blik bessies
- ’n hand vol kappertjieblomme
- 1 liter water
- 500 ml pienk roosblare
Gooi alles saam, meng goed en sit yskoud voor.
Suurlemoensap met ment
- 3 suurlemoene, in skywe gesny
- 500 g mentblare
- 1 liter water
Meng alles saam, verkoel en sit koud voor.
Geelperskes met rooswater
- 5 geelperskes, geskil en ontpit en in repies gesny
- 1 liter water
- 60 ml suiker
- ’n paar druppels rooswater
Gooi alles saam, meng goed en laat vir ’n uur in die yskas staan. Sit koud voor.
Op ys
Druk rose saam met ander eetbare blommetjies en mentblare in ysbakkies en vul met water. Gebruik die ysblokkies om ’n ysbad vir vonkelwyn of somerdrankies op te vrolik.
Sentimentele waarde
Niks sê liefde soos ’n mooi bos blomme nie; maak gerus verskillende blommotiewe deel van jou tafeldekor. Onpaar breekgoed en ’n vintage-stylplekmatjie lyk pragtig onder Ouma se erfstukke – alles op ’n pragtig geborduurde tafeldoek. Blomme uit jou tuin voltooi die prentjie.
Nie net ’n mooi gesiggie nie
Alledaagse eetbare blomme is tog te lekker as jy dit in ’n degie diepbraai. Doop kappertjies en gesiggies in tempura-beslag, diepbraai dit en sit voor in somerslaaie vir ekstra knars.
Stal dit uit ...
Karoo tot kus
Heike le Cordeur van Fleur le Cordeur het ’n mooi fokuspunt geskep deur varkoorplakkies (Cotyledon orbiculata) in ’n verskeidenheid vase – in al die kleure van die see – te druk.
Liefste tannie...
Week ’n stuk blomoase in water en sit dit in die hoek van ’n mooi blik. Rangskik dan oop rose naby mekaar in die oase, sit die deksel halfpad op (dan hoef jy ook nie so baie rose te gebruik nie). Ons blik is van Bal en Klou. Die rose is van Kenly Flowers.
Blomme na jou hart
“Gebruik net een kleur blomme vir jou tafel – dit maak ’n groot indruk,” sê Marilize Boonzaaier van Flowerheart. Sy het jakobregoppe, gerberas, gousblomme, aalwynblommetjies, geel bessies en rose gebruik.
Pret met papier
Wit bougainvilleatakkies maak ’n verruklike tafelversiering – en dis verniet! So maak jy: Laat sak ’n vierkantige papierdoilie in ’n reghoekige glasvaas. Vul die houer stadig met water om te keer dat die doilie sy vorm verloor. Plak deursigtige kleeflint in ’n roosterpatroon oor die bokant van die vaas; dit sal die blomstele in posisie hou. Stroop die onderste blare van die bougainvilleatakkies af en wees versigtig dat jy nie die doilie stukkend steek nie.
Hang aan ’n tak
Macramé is weer hoogmode en hangende blommerangskikkings is ’n speelse manier om kleur in ’n vertrek te bring. Dié drie hangers is uit dik borduurgare gevleg, maar jy kan ook tou gebruik vir ’n meer aardse gevoel. Gebruik kleurvolle potjies in jou macramé-hangers vir ekstra trefkrag.
So maak jy
Druk bloemisteskuim in die houers en rangskik na hartelus met enigiets waarop jy jou hande kan lê. Kies klein potjies om kortsteelblommetjies – pers en pienk rankmalvas, Pelargoniums, rooi Camellia japonica, margrietjies, bloukappies, koorskruid enige rooi bessies en geel blommetjies – tot hul reg te laat kom, en keer dat dit te formeel lyk met ’n paar lang takkies wat losweg afhang.
Wanneer jy blomme in ’n pot sit, sorg altyd dat daar ’n verrassing in jou rangskikking is; dit prikkel die oog, sê Hermien Coetzee van Flowers in the Foyer.
’n Mooi nooi
As jy ’n muur vinnig wil laat toegroei met ’n nie te permanente nie, maar vinnig groeiende plant, is die swartoognooi (Thunbergia alata) net die een vir jou. Met haar alombekende helder geel-oranje blommetjie en swart “ogie” in die middel sal niemand jou nooi teen die muur kan miskyk nie. Dié rankplant is deesdae ook in verskeie ander kleure beskikbaar.
Die swartoognooi groei in halfskadu en volson, en omdat dit ’n ligte klimplant is, het jy nie ’n sterk raamwerk nodig om dit teen op te lei nie. Dit blom veral mooi in die somer, maar in warmer areas sal sy jou dwarsdeur die jaar met blomme beloon. Hoewel die swartoognooi gevoelig is vir ryp, groei die plant weer terug in die lente. Dit het ook nie te veel water nodig nie.
Blomlantern
Wat jy nodig het
- ’n papierlantern
- lapgom
- 3–4 mooi servette per lantern
- lint
- podge
- krismisrose
So maak jy
1.. Plak die servette een vir een met podge oor die hele lantern vas.
2. Terwyl jy wag dat die podge droog word, sny die krismisroos se individuele blommetjies versigtig af. Die steeltjies van die blommetjies moet baie kort wees om dit makliker vas te plak.
3. Gebruik die lapgom en plak die blommetjies aan die lantern vas. Wees geduldig; daar gaan ’n paar afval.
4. Haak nou mooi linte onderaan die lantern en siedaar! Hang jou versierde lantern in ’n boom by jou Kerstafel.
Gee ‘n verweerde tuinstoel nuwe voema sonder om die verfkwas uit te pluk. Sit ‘n emaljeskottel in die ring waar die sitplek eens was, boor ‘n paar dreineringsgaaitjies onderin (as dit nog nie erens deurgeroes het nie) en plant gesiggies of ander kleurryke somerblomme daarin.
Plak ’n tuin
Jy het nie groen vingers nodig vir so ’n tuintjie nie, sê die ontwerpers van dié oulike vinielplakkers, Ingrid Corbett van Quirky.Me en Esther Schumacher van My wall tattoo. Kies ’n vinielplakker in die blommotief van jou keuse en plak dit op ’n venster of glasdeur.